Wat is die belangrikheid van ‘n retina en hoe sorg jy vir dit?
Wêreld Retinadag val vanjaar op 29 September. Dit is die dag waarop die wêreld se gemeenskap van retinale pasiënte, medici, wetenskaplikes en ander gesondheidsorgwerkers ‘n beroep doen om billike toegang tot genetiese toetse vir Oorerflike Retinale Degenerasie.
Tien digitale gewoontes vir ooggesondheid
Oorerflike Retinale Degenerasie – soos Retinitis Pigmentosa, Usher-sindroom en Stargardt se siekte – veroorsaak dat die retina verswak. Dit kan tot erge visuele verswakking of permanente visieverlies lei. Dit raak mense oor die hele wêreld. Navorsing lei tot beter kennis en behandeling. Die ongelyke toegang tot noodsaaklike genetiese toetse beteken egter dat te veel pasiënte steeds nie behandeling ontvang nie.
Die retina se belangrikheid en sensitiwiteit vra vir gereelde oogondersoeke om siektes soos die volgende betyds te diagnoseer:
- Retinale loslating: Dit kom voor wanneer vloeistof agter die retina opdam sodat die retina wegtrek. As dit nie behandel word nie, kan dit tot permanente visieverlies lei. Daar is ‘n venstertydperk van 72 uur waarin die retina weer geheg moet word. Hoe gouer jy hulp soek, hoe beter is jou kanse om te herstel en die minimum newe-effekte oor te hou.
- Makulêre degenerasie: Hierdie ouderdomsverwante siekte kan tot sentrale visieverlies lei. Daar is aanvullings (soos Ocuvite Complete) wat die ontwikkeling van makulêre degenerasie kan help verminder. Daar is ongelukkig geen genesing nie en die visieverlies kan nie omgekeer word nie.
- Diabetiese retinopatie: Dit lei tot veranderinge op die retina as gevolg van onbeheerde diabetes. Dit kan tot permanente visieverlies lei indien dit nie behandel word nie.
- Retinitis pigmentosa: Hierdie genetiese siekte lei tot die verswakking van die retina en kan permanente visieverlies veroorsaak.
- Drywende kolletjies: Een van die algemeenste “oogsiektes” is drywende kolle (“floaters”). Dit kan saam met ouderdom kom. Kry egter professionele hulp as jy skielik ‘n klomp drywende kolle sien wat deur ligflitse vooraf gegaan word. Wanneer die glasliggaam (jellie in die oog) platval, kan dit druk op die retina plaas wat tot hierdie simptome kan lei. Dit kan ook in sommige gevalle tot ‘n klein gaatjie of skeurtjie in die retina lei. Dit kan retinale loslating veroorsaak indien dit nie behandel word nie.
Wat maak dat ons kan sien? Retina wie?
Die oog se retina is ‘n prosesseringsentrum. Dit skakel lig in elektriese impulse om. Hierdie impulse word via die optiese senuwee na die brein gestuur. Dit stel ons in staat om die wêreld in volkleur te kan sien.
Die retina bestaan uit 10 lae. Die fotoreseptore in die retina word stafies en kegels genoem:
- Die stafies om meer in die periferie of buitekant voor en is verantwoordelik vir sig in lae lig. Die stafies kan nie kleur onderskei nie.
- Die kegels kom meer in die middel voor met die hoogste konsentrasie in die fovea (makula). Die kegels sorg vir detail kleurvisie en helder lig toestande.
Wanneer jy uit helder lig in ‘n donker vertrek instap, neem dit die stafies ‘n paar minute om by die kegels oor te neem. Jy kan dus vir ‘n oomblik swak visie ondervind.
Ons het almal ‘n blinde kol as gevolg van die optiese skyf waar die optiese senuwee die oog binnekom.
Nie seker waar jou retina is nie? Klik hier en sien vir jouself
Vind jou blinde kol
Vir die pret: Bepaal jou blinde kol deur met jou regteroog na die swart kol te kyk terwyl jy jou linkeroog toe hou. Begin sowat 20 cm weg van die skerm en beweeg geleidelik nader. Die kruis sal op ‘n sekere punt verdwyn.
Kyk met jou linkeroog na die swart kruis terwyl jy jou regteroog toe hou. Begin sowat 20 cm weg van die skerm en beweeg geleidelik nader. Die swart kol sal verdwyn.
Besoek www.mellins.co.za vir meer advies en wenke oor ooggesondheid.