Mense was seker nog nooit bekommerder oor hul immuniteitstelsel as nou nie. Ansja Ferreira gee wenke vir ’n sterker immuniteitstelsel
As jy gedurig besig is om van die een of ander verkoue of infeksie te herstel, is dit dalk tyd om jou immuniteitstelsel op te bou, veral met die winter om die draai.
Jou immuniteitstelsel is jou verweer teen virusse, bakterieë en kieme waaraan ons elke dag blootgestel word.
Volgens dr William Mitchell, ‘n praktisyn van Seattle wat gevorderde naturopatie aan die Bastyr-universiteit doseer, toon studies dat baie virusse en bakterieë rustig binne ons woon totdat iets binne die liggaam se interne omgewing ongebalanseerd raak. Dit is wanneer hulle aktief raak en die liggaam aanval.
Wanneer jy nie aan enige toestand ly wat jou immuniteit kan beïnvloed nie, maar steeds gereeld siek word, is dit dalk tyd om jou immuniteitstelsel slaggereed te kry met hierdie wenke:
Eet jouself gesond
“Dieet speel definitief ‘n kritieke rol in die handhawing van ʼn gesonde immuniteitstelsel,” sê Bianca Tromp, die dieetkundige by die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika.
“Sekere vitamiene en minerale werk as antioksidante in die liggaam wat help om skadelike gifstowwe te neutraliseer en die immuniteitstelsel ‘n hupstoot te gee. Hierdie vitamiene en minerale sluit vitamien A, C en E, sowel as sink en selenium in,” sê sy.
“Ons grootste immuunorgaan is ons spysverteringskanaal en voeding speel ‘n belangrike rol om ons spysverteringskanaal gesond te hou,” sê Bianca. “Hiervoor is ‘n gesonde balans van bakterieë in die kolon van kritieke belang. Daar is baie probiotiese produkte op die mark. Hierdie produkte verskaf lewende, goedaardige bakterieë wat dan hulself in die kolon vestig. Om hierdie balans te handhaaf en te verseker dat die bakterieë floreer, moet ons ‘n dieet hoog in pro-biotika inneem. Voedsel wat probiotika verskaf, sluit uie, knoffel, aspersies, koring, piesangs, gort, hawermout en appels in,” sê sy.
Kry genoeg slaap
Volgens die Mayo-kliniek is mense wat nie gehalteslaap kry (sewe tot agt uur per nag) nie geneig tot ‘n verswakte immuniteitstelsel en word meer siek. Dit beïnvloed ook hoe vinnig jy herstel as jy siek word. “Jou liggaam het slaap nodig om aansteeklike siektes te beveg. Langtermyngebrek aan slaap verhoog ook jou risiko vir vetsug, diabetes, en hart- en bloedvatsiektes. Tydens slaap stel jou immuniteitstelsel proteïene bekend as sitokiene vry, waarvan sommige help om die slaap te bevorder. Sekere sitokiene moet toeneem as jy infeksie of ontsteking het, of as jy spanning ondervind. ‘n Slaaptekort kan die produksie van hierdie beskermende sitokiene verminder. Boonop verminder teenliggaampies en selle teen infeksiebestryding gedurende periodes wanneer jy nie genoeg slaap kry nie.”
Wees versigtig vir stres en negatiwiteit
Stres word dikwels die siekte van ons tyd genoem. Fawne Hansen is ‘n skrywer en welstandsafrigter wat in die behandeling van chroniese stres en bynieruitputting spesialiseer. Sy skryf op die Adrenal Fatigue Solution-webwerf dat stres jou immuniteitstelsel op twee maniere kan beïnvloed: chroniese inflammasie wat weefsels benadeel en die onderdrukking van immuunselle wat nodig is om infeksie te beveg.
Volgens die Mayo-kliniek kan die langtermyn-aktivering van die stresreaksiestelsel en die daaropvolgende oormatige blootstelling aan kortisol en ander streshormone, byna al die prosesse van jou liggaam ontwrig. Dit verhoog jou risiko vir talle gesondheidsprobleme, insluitende angs, depressie, spysverteringsprobleme, hoofpyn, hartsiekte, slaapprobleme, gewigstoename, geheue en gebrek aan konsentrasie.
Hulle sê verder ‘n gesonde lewenstyl kan jou help om hoë stres te hanteer. Studies het bevind dat veral langtermynstres nadelig vir die immuniteitstelsel is.
Negatiewe gedagtes manifesteer weer in chemiese reaksies wat jou liggaam kan beïnvloed deur meer spanning in jou stelsel in te bring en jou immuniteit te verminder. Daarteenoor kan positiewe gedagtes neuropeptiede vrystel wat help om stres en moontlik ernstige siektes te beveg.
Kry genoeg van die sonskynvitamien
In ‘n onlangse studie is bevind dat vitamien D-aanvullings kan help dat jy minder geneig sal wees om ‘n akute lugweginfeksie te kry. ‘n Vitamien D-tekort word ook aan ‘n verswakte immuniteitstelsel gekoppel. Volgens die webwerf www.healthline.com kan jy jou vitamien D-inname met voedsel soos vetterige vis, eiergele en sampioene verhoog. “Om elke dag 10-15 minute buite deur te bring, is nog ʼn manier om die voordele van hierdie ‘sonskyn-vitamien’ te benut.” Jy kan jou vitamien D-vlakke by jou dokter laat toets.
Oefen matig
‘n Gesonde lewenstyl
sluit gereelde oefening in, maar pasop vir oordoen. Hoewel oefening goed vir
jou is, wys studies dat te veel oefening jou immuniteitstelsel onder druk kan
plaas. In ‘n studie deur die Skool vir Menslike Bewegingstudies aan die
Universiteit van Queensland in Australië, het navorsers drie groepe mense ondersoek,
naamlik elite-atlete, atlete wat vir ontspanning oefen en mense wat glad nie
oefen nie. Hul resultate:
• Die elite-atlete het die meeste probleme met hul boonste lugweg ervaar (66%
het siek geword).
• Die onaktiewe groep was volgende (45% het siek geword).
• Die atlete wat vir ontspanning oefen, was die gesondste (22% het siek
geword).
Onthou om jou hande te was
Saboteer jy jou immuniteitstelsel deur nie jou hande genoeg te was nie? Deur weg te bly van siek mense en jou hande gereeld te was en handontsmettingsmiddel te gebruik, sal jou help om nie gereeld siek te word nie.
Moenie te veel alkohol drink nie
Daar word dikwels op die nadelige effek van rook op mense se gesondheid gefokus, maar het jy geweet dat oormatige alkoholgebruik ook jou immuniteitstelsel kan benadeel? Studies wys dat oormatige alkohol kan voorkom dat voedingstowwe jou immuniteitstelsel voed. Die alkohol word deur jou maag in jou bloedstroom opgeneem. Sodra dit in die bloedstroom is, kan alkohol die aantal witbloedselle in die liggaam verminder. Hoe laer die aantal witbloedselle, hoe moeiliker is dit om siektes te beveg. Volgens studies sal een of twee drankies per dag waarskynlik nie jou immuunstelsel benadeel nie. Drie of meer drankies per dag kan wel nadelige gevolge hê.
Bly gesond met inentings
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is inenting een van die doeltreffendste maniere om siektes te voorkom. ‘n Entstof help die immuniteitstelsel van die liggaam om patogene soos virusse of bakterieë te herken en te beveg, wat ons dan beskerm teen die siektes wat hulle veroorsaak. Entstowwe beskerm teen meer as 25 verswakte of lewensbedreigende siektes, insluitend masels, polio, tetanus, difterie, breinvliesontsteking, griep, tifus en servikskanker.
Neem natuurlike immuunversterkers in
In ‘n resensie in 2012 wat in die joernaal Evidence-Based Complementary and Alternative Medicine gepubliseer is, is bevind dat heuning, ‘n antioksidant, as ‘n natuurlike immuniteitsversterker optree. Gemmer, nog ‘n kragtige antioksidant met antivirale eienskappe, kan gebruik word om kwale soos naarheid en bewegingsiekte te behandel. Suurlemoensap bevat vitamien C wat volgens Mayo-kliniek gebruik kan word vir sy antioksidanteienskappe en om verkoue te voorkom. Borrie kan ook glo die immuniteitstelsel help reguleer en knoffel kan help om kieme te beveg.
Leef aandagtig
‘n Studie, gepubliseer in die vaktydskrif Perspectives on Psychological Science, wys dat aandagtigheidsmeditasie voordele vir die gesondheid en prestasie kan hê, insluitend verbeterde immuunfunksie, verlaagde bloeddruk en verhoogde kognitiewe funksie.
Doen joga
Joga help om spanningshormone te verlaag wat die immuniteitstelsel in gevaar stel, terwyl dit ook die longe en asemhalingskanaal kondisioneer, die limfstelsel stimuleer om gifstowwe uit die liggaam te verdryf en suurstofhoudende bloed na die verskillende organe bring om hul optimale funksie te verseker.
“Joga is anders as ander vorms van oefening wat slegs op sekere dele van die liggaam fokus. Joga werk vir alles,” sê Kathleen Fry, die president van die American Holistic Medicine Association in Arizona.
Pasop vir onnodige medikasie
Die afgelope aantal jare het talle studies getoon dat die onnodige gebruik van middels om koors af te bring jou liggaam se vermoë om van ‘n siekte te herstel, kan benadeel. Koors is nie ‘n siekte nie. Dit is die liggaam se poging om siektes te beveg.
Bronne
Besoek die Hart-en-beroerte-stigting se webwerf by www.heartfoundation.co.za.
Hierdie artikel gee algemene wenke om jou immuniteit ‘n hupstoot te gee en vervang nie mediese advies nie. Raadpleeg jou geneesheer oor siektesimptome