Die bekende skrywer, Zakes Mda, se nuutste boek, “The Sculptors of Mapungubwe” is vandeesweek in die Fugard Teater in Kaapstad bekendgestel.
Die bekende skrywer, Zakes Mda, se nuutste boek, “The Sculptors of Mapungubwe” is vandeesweek deur Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, in die Fugard Teater in Kaapstad bekendgestel. Gaste kon luister na verskeie huldeblyke aan die skrywer, met die verhoog van die gewilde toneelstuk, “The Rocky Horror Picture Show” as agtergrond.
In “The Sculptors of Mapungubwe” vertel Mda die storie van Chata en Rendani, die twee erfgename van die tydlose stad van Mapungubwe. Diè twee broers, en beeldhouers, se mededinging groei soos hulle ouer raak. Uit hierdie moeilike verhouding skep Mda ’n ryk, onweerstaanbare verhaal van familie en liefde.
Die aand het ’n spesiale optrede van die gevierde skrywer en dramaturg, Athol Fugard, gehad, wat die bekenstelling van Zakes Mda hanteer het. Hy het onder meer gesê Mda is ’n “reus van ’n man met 21 boeke, waarvan 10 novelles, op sy kapstok. Hy skryf ook toneelstukke, gedigte en is internasionaal bekroon vir sy skryfwerk. Vanaand is ’n spesiale geleentheid en ek is dankbaar om hier te kan wees,” het Fugard gesê.
Hy het gesê met ’n bekendstelling van ’n nuwe boek, verlaat die boek die veilige hawe van sy outeur, vertoef in die koue daarbuite, tot dit in die veilige hawe van die leser beland”.
Die sanger, Black Porcelain, het ook ’n spreekbeurt gekry en het onder meer genoem dat daar net ’n paar boeke is wat sy sedert haar tienerjare gelees het, wat haar so geraak en laat tuis voel het in haar vel, in hierdie land. “Hierdie boek is die een wat my ’n stuk van my menswees teruggegee het. Dit was die vermiste skakel van my voorvaders se geskiedenis op die Afrika kontinent.”
Zakes Mda was in gesprek met Rachel Zadok en het gesê met elkeen van sy boeke, dokumenteer hy ’n ander deel van Afrika. “Ek probeer altyd wys dat die verlede altyd ’n sterk aanwesigheid in die hede het. Hoewel hierdie boek duisende jare gelede afspeel en ek baie navorsing gedoen het, is daar tog verskeie raakpunte met die hede.” Mda het bygevoeg dat alle goeie historiese novelle kommentaar lewer op die huidige bestel. Hy het afgesluit en genoem dat hy die karakters los om hul gang te gaan – as daar ’n verskuilde agenda uitkom, ontgin hy dit, maar hy skryf nie met die agenda in gedagte nie, hy vertel ’n storie soos sy ouma vir hom stories vertel het. Die feit dat die karakters met agendas kom, is bloot toevallig. [iframe width=”650″ scrolling=”no” height=”450″ frameborder=”0″ src=”https://www.vrouekeur.co.za/data/content/Image/Vrouekeur/01 2013/November/zakes/zakes.html”]