Dalende winter temperature verhoog moontlikheid van gebarste geysers
Dalende winter temperature verhoog moontlikheid van gebarste geysers
Die geluid van water wat uit ‘n geyser in die dak stroom is alles behalwe wenslik – veral in die winter wanneer dit almal se top prioriteit is om warm en droog te bly. Dit is egter so dat geysers meer geneig is om te bars wanneer dit koud is – iets waarvan die verhoging in die hoeveelheid eise verwant aan gebarste geysers getuig.
“Indien die termostaat of kleppe op jou geyser foutief is, kan dit meer geneig wees om te bars in die winter danksy die verhoogde tempo van uitsetting en sametrekking van die tenk weens laer temperature.”
“In die winter hou ‘n groot hoeveelheid eise teen versekering met geysers verband. Terwyl temperature besig is om steil te daal, moedig ons huiseienaars aan om hulle geysers deur ‘n gekwalifiseerde loodgieter te laat ondersoek,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.
Sy verduidelik dat enige strukturele skade wat deur ‘n gebarste geyser aan ‘n huis aangerig word, soos beskadigde vloere of plafonne, deur huiseienaarsversekering gedek behoort te word. Enige verdere skade aan besittings soos meubels, huishoudelike toestelle en klerasie behoort ook deur huisinhoudversekering gedek te word.
“Dit is natuurlik belangrik dat huiseienaars hulle versekeringspolisse nagaan om seker te maak dat hulle nie onderverseker is nie. Die skade wat deur gebarste geysers berokken word kan tot honderde duisende rande beloop, afhangend van waar die geyser aangebring is, hoe lank die water aanhou loop het nadat dit gebars het en hoeveel addisionele skade gevolglik veroorsaak is. Geysers word meestal in dakke, in areas bokant kaste, geïnstalleer wat beteken dat kledingstukke en ander besittings onherstelbaar beskadig kan word,” sê Twilley.
Ongelukkig is daar geen manier om te voorspel wanneer ‘n geyser sal bars nie, en sommige hoëgehalte geysers mag selfs langer as die gemiddeld van 5 jaar hou. As voorsorg beveel kundiges aan dat geysers elke drie jaar deur ‘n gekwalifiseerde loodgieter gediens word. Dit behels:
- ‘n Deeglike ondersoek van die geyser se komponente.
- Verwydering van aanpaksels van kalk en slyk van die tenk en element.
- Die nagaan van die tenk en kleppe vir lekplekke.
- Die nagaan van die termostaat om seker te maak dat dit korrek funksioneer.
- Om seker te maak dat die termostaat nie te hoog gestel is nie. 600C is die aanbeveelde temperatuur.
“Dit is ook die moeite werd om ‘n geyser-kombers aan te bring om die verlies van hitte te verminder en die temperatuur van die water binne in die tenk konstant te hou. ‘n Hoogs welkome byproduk hiervan is besparing op jou elektrisiteitsrekening, suiwer omdat jou geyser nie heeltemal so hard hoef te werk, en soveel energie hoef te gebruik, om die temperatuur van die water te handhaaf nie.
“Die aanbring van ‘n druppan onder die geyser is ook ‘n slim idee omdat die afvoerpyp van die druppan, sou jou geyser bars, meeste van die water sou wegvoer. Dit behoort die skade aan mure, matte en ander huisinhoud te beperk,” sê sy ter afsluiting.