Jou konstante hoof- of maagpyn sê dalk iets van kwessies in jou lewe wat opgelos moet word …
Daar is al seker honderde studies oor die verband tussen stres en fisieke kwale gedoen en daar is al bevind dat daar beslis ‘n verband tussen stres en angs en spierpyne, hoofpyne, moegheid en prikkelbaredermsindroom is.
Dr Susanne Babbel skryf in ‘n artikel op Psychology Today dat chroniese pyn nie net deur fisieke beserings veroorsaak word nie, maar ook deur stres en emosionele kwessies.
“Fisieke pyn waarsku ons dikwels dat daar nog emosionele werk in ons lewe nodig is.”
So wat kan hierdie pyne jou van jou lyf vertel?
KOP
As jy jouself oor klein dingetjies verknies of uitdagings probeer oorkom, kan jy met hoofpyne sukkel. Sorg dat jy ontspan sonder om skuldig te voel. Moenie oor jou probleme tob nie.
NEK
Wrokkigheid is ‘n destruktiewe emosie vir jou nek, of dit nou wrokke is wat jy teen ander mense of teen jouself koester. Dis moeilik om te laat gaan en te vergeef, maar jou houding kan ‘n groot verskil maak. Dink oor die dinge waarvan jy hou, jou prestasies en unieke eienskappe na.
SKOUERS
Moeilike besluite kan sy tol op jou skouers eis, of daar nou een of baie besluite is wat jy moet neem. Deel jou stres met iemand anders en praat oor jou probleme. Dit sal help om die druk te verlig.
BORUG
Voel jy ongewaardeerd of ongelief? Dit kan die oorsaak van pyn bo in jou rug wees. Een oplossing is oop kommunikasie. Praat met jou geliefdes oor jou gevoelens.
LAERRUG
Dit is dikwels die gevolg van finansiële bekommernisse. Onthou dat geld nie geluk kan koop nie en ‘n mens het nie rykdom nodig om nou gelukkig te wees nie.
ELMBOË
Mense is van nature skrikkerig vir groot veranderings en gewrigspyn kan die oorsaak van hardkoppigheid wees – ook hardkoppigheid om veranderings te aanvaar. Onthou jy hoef nie die lewe gekompliseerd te maak nie.
HANDE
Mense wat baie alleen is, kan pyn in hul hande ervaar as gevolg van ‘n verlies aan kameraadskap. Probeer nuwe mense ontmoet en gesels met mense.
HEUPE
As mense aan ‘n voorspelbare roetine gewoond is en skielik nuwe situasies moet hanteer, kan hulle pyn in hul heupe ervaar. Dit kan dui op ‘n vrees vir verandering. Dink aan die lewe as ‘n avontuur!