Talle oorlogsdagboeke en memoires is ook gedurende die twintiger- en dertigerjare gepubliseer en hierdie publikasies het ‘n onuitwisbare invloed gehad op die manier waarop die oorlog onthou
In die vorige aflewering is geskryf oor die groot invloed van die Anglo-Boereoorlog op die Afrikaanse letterkunde. In sy opstel ‘Die ewige trek’ het NP van Wyk Louw in 1938 geskryf dat die ontstaan en wording van ’n volk altyd “’n waagspel” is wat deur besluite bepaal word wat op kritieke oomblikke in die volk se geskiedenis geneem word. Louw identifiseer drie sulke oomblikke wat deurslaggewend vir die bestaan van ’n Afrikaanse volk was: die Groot Trek (1834-1938), die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) en die keuse van Afrikaans bo Nederlands as amptelike taal (1925).
Volgens Louw was die keuse van die Boererepublieke om in die oorlog te veg nie ’n vanselfsprekendheid nie – die argumente ten gunste van ’n oorlog teen Brittanje was waarskynlik net so goed as die argumente daartéén, maar toe daar ’n ‘volkome ewewig van argumente’ was, het mense ‘gedrewe met geloof en fanatisisme’ die deurslag gegee.
In seker die meeste nasionale geskiedenisse kom daar op een of ander manier ’n verheerliking van oorlog voor – die oorlog wat tot ’n volk se bestaan gelei het en waarin helde dapper geveg het. Daardie heldedade van die voorvaders word dan dikwels aan die nageslagte oorvertel om jongmense te leer hoe ’n mens dapper en vasberade behoort op te tree en om trots op hul herkoms te wees.
Die Afrikaanse digters stel nie teleur nie. Jan F Celliers het oor die generaal se dood geskryf: “Stil broers, hier gaan ’n man verby” – woorde wat vandag nog aangehaal word in huldeblyke aan gestorwenes en so word die verband tussen die eertydse helde en vandag se figure vasgelê.
Die Boereoorlog is egter nie ’n oorwinningsverhaal vanuit die Afrikanerperspektief nie en daarom is daar ook nie slegs die romantisering van heldedade nie, maar die droefheid van verlies wat dikwels verwoord word. Die einde van die oorlog word só deur Leipoldt in “Vrede-aand” beskryf:
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu, die strate vol?
Sien jy die hele wêreld is op hol?
Kom, hier’s ’n bottel soetwyn; laat ons drink!
Ons het ons nasie in die see gesink;
Ons het geen land meer nie; dis klaar met Kees!
jeugverhale het dikwels teen die
agtergrond van die oorlog afgespeel
Talle oorlogsdagboeke en memoires is ook gedurende die twintiger- en dertigerjare gepubliseer en hierdie publikasies het ’n onuitwisbare invloed gehad op die manier waarop die oorlog onthou word.
Gustav Preller se kortverhaalbundel Oorlogsoormag en ander verhale (1923) is een van die eerste prosapublikasies oor die oorlog. In sy verhaal “Boere op see” word ’n droewige toneel beskryf van ’n groep Boerekrygsgevangenes wat per skip uit die Durbanse hawe wegvaar.
“Die gedagtes word klein en vlie terug, vyftig, sestig jaar, toe hulle die land aangelê het – die land wat nou agter die seebult weg was (…) die kommando’s en die oorloë, die vervolging en die swaar, van hul jongdae af tot op hierdie hierdie oomblik dat hulle losgeskeur is van huis en familie en op hul ou dag in die seewater ronddobber met niks op aarde as die verflenterde ou toiings waarin hulle op die dek sit – slegter as die volk op die ou plaas.”
Net ná hierdie paragraaf van moedeloosheid, word beskryf hoe die Boere een na die ander seesiek word en oor die kant van die boot hang en “die jong osse inspan”. Die versagtende humor verdwyn dalk vir vandag se leser wat anders na die skryende vergelyking in Preller se paragraaf hierbo kyk – dat die Boere hier slegter daaraan toe is as die “volk op die ou plaas”, het natuurlik nie destyds vir Preller of Afrikaanse lesers vreemd voorgekom nie. Daar is aanvaar dat die werkers op die plaas in toiings en sonder besittings moet wees. Dit was vir hulle die aard van die werklikheid.
In herbeskouings van die Boereoorlog in onlangse romans (soos byvoorbeeld Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz) word hierdie soort aannames dikwels bevraagteken. Vk