Maak seker jy word nie die slagoffer van iemand anders se padwoede nie:
Maak seker daar is genoeg plek wanneer jy van baan verwissel. Gebruik jou flikkerlig om aan te dui jy is van plan om van baan te verwissel. As jy per abuis voor iemand inry, teken met ’n handgebaar apologie aan.
Moenie stadig in die regterbaan ry nie. Daar is ’n verkeersreël wat sê hou links, gaan regs verby. Al handhaaf jy die spoedgrens op die snelweg en iemand ry kort op jou hakke, beweeg eerder na die linkerbaan oor – anders stel jy jou eie lewe in gevaar omdat jy iemand anders kwaad maak.
Handhaaf die regte volgafstand. Bestuurders word maklik kwaad as iemand te na aan hulle ry. Volg die twee-sekonde-reël. Moet onder geen omstandighede vir iemand beduie om terug te val nie, sit jou flikker aan en beweeg oor na links sodat die persoon kan verbygaan.
Bly weg van handgebare. Daar is min dinge wat ’n ander bestuurder so kwaad maak soos ’n handgebaar. Selfs ’n “onskuldige” gebaar, soos om jou kop uit frustrasie te skud, kan die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek.
Moenie betrokke raak nie. Niemand kan ’n geveg op sy eie veg nie. Die beste vorm van verdediging is juis om nie kwaad te word nie. ’n Mens doen dikwels iets onbesonne in ’n oomblik van woede.
Behou jou afstand. As jy opmerk ’n ander bestuurder is woedend oor iets wat jy gedoen het, bly so ver van hom weg as moontlik. As hy regtig aggressief optree, ry na die naaste polisiekantoor. Moet onder geen omstandighede langs die pad stilhou nie.
Vermy oogkontak. Wanneer jy opmerk ’n ander bestuurder is kwaad oor iets wat jy gedoen het, moenie oogkontak maak nie. Wanneer jy reageer of hom in die oë kyk, verander ’n onpersoonlike voorval in ’n persoonlike tweegeveg. Sodra iemand iets as persoonlik beleef, kan dinge baie vinnig hand uitruk.
Kry hulp. As jy vermoed ’n ander bestuurder lok jou tot ’n geveg uit of probeer jou van die pad af druk, moenie in die slaggat trap nie. Bel die polisie met jou selfoon. Ry na ’n plek waar daar ander mense is, verkieslik die polisiekantoor, of ’n parkeerterrein voor ’n groot winkelsentrum. Druk die toeter om ander mense se aandag op julle te vestig. Moenie huis toe ry nie en moenie uit jou motor klim nie.
Verander jou houding op die pad. Deur self nie aggressief te bestuur nie, is die kans veel minder om in ’n padwoedevoorval betrokke te raak. Wees verdraagsaam teenoor medebestuurders en maak elke rit vir jouself aangenaam.