Die skooljaar skop weer af. Met goeie organisering kan jou jaar vlotter verloop, sê Luisa van der Linde
‘n Paar mammas deel hul raad
Maretha Botes, mamma van Anke (7) bly in Vanderbijlpark. Sy sê:
“Ek probeer self daardie week voor die skool begin vroeg opstaan, sodat my lyf in die gewoonte kom. So twee dae voor die tyd wil ek die tas gepak hê en alles moet dan reeds gemerk wees sodat dit nie soos ‘n rush job voel nie. Dis dán wanneer Mamma gestres raak en sekere dinge soos ‘n buisie gom hier en ‘n potlood daar, vergete bly. Die dag voor die tyd maak ons ekstra moeite om ‘n ‘terug skool toe’-middagete iewers spesiaal te eet. Sommer saam met Ouma en Oupa ook as dit kan. Ek sit ook ‘n briefie in Anke se kosblik op die eerste dag met goeie wense vir die nuwe skooljaar.
Petra Gouws, ma van Amari (9) en Lienke (5), van Port Elizabeth sê:
In die vakansie mag my kinders so laat as wat hulle wil, gaan slaap en ek los hulle tot hulle soggens self wakker word. Ons begin reeds ‘n week voor die skool begin om dié slaaproetine geleidelik terug te skuif na vroeër gaan slaap en vroeër opstaan, dan is dit nie so moeilik as die skool eers weer begin nie.
Belinda Viljoen, ma van vier, Liezl (17), Carina (17), Su-Mari (15) en Christo (11), is ‘n ou hand as dit by “terug skool toe”-kortpaaie kom. Sy stel die volgende voor:
• Koop elke kwartaal onbederfbare kosblikhappies in groot maat, soos sap, ontbytstafies, neute en droëvrugte. Dan is daar darem altyd iets in die tas al is daar nie brood in die blik nie.
• As jou bloedjie ‘n entrepreneur-entoesias is, beplan en maak die markdagverkope sommer al in die vakansie. Dit spaar laaste-minuut-koste en senuwees. En onthou tog die kleingeldblikkie.
• ‘n Voorafbereide kunsboks (ou skoenboks) is nuttig. Maak tog maar vir elke kind sy eie. Daarin is: koue lym, blinkers, plakpapier, vere, wol, toutjies, toiletrolletjies, seesand, skulpies – enige denkbare kunsdinge.
• Hou ‘n voorraad skryfbehoeftes aan. Nie duur artikels nie. ‘n Pak elk penne, potlode en uitveërs asook ekstra oortrekplastiek. Dit klop sommer aan die begin van die jaar inflasie as daar nog voorraad oor is.
• Koop ‘n skooldagboek vir jouself (as jou skool dit voorsien), sinchroniseer so die hele gesin se kom en gaan en bly op hoogte van alle gebeurtenisse.
Ma’s se kortpaaie
- Ek koop klere uit sagte T-hemp-materiaal vir my kleuters. Hulle kan dan bad, aantrek en die volgende dag net so kleuterskool toe gaan. Dit spaar tyd en wasgoed – Cora.
- As die tyd skraps is, hoef my kinders nie bed op te maak nie en ek gee snoepiegeld in plaas van toebroodjies. Dit paar ‘n ekstra tien minute – Jandri.
- Droë haarsjampoe werk wonderlik as ons die vorige aand êrens was en daar was nie kans om my klein dogtertjie se hare te was nie – Lieschen.
- Ek jok soms vir my kinders en sê dis 06:30 as dit nog 06:00 is – Pieter.
Kortpaaie
Dis einde van die eksamen en my kind is gedaan geleer
Laat hom vir afwisseling sy opsommings op ‘n selfoon lees. So kan hy voor hy gaan slaap, in die donker die leerwerk hersien.
Die dag ná ‘n atletiekbyeenkoms of konsert kry ek my kind net nie wakker nie
Gee vir hom of haar ekstra woema met ‘n tonikum soos VitaThion of Schlehen Blackthorn Berry Elixer voor skool.
My kind het sekere dae toernooie wat heeldag aanhou en huil dan saans van moegheid as hy moet huiswerk doen
Laat hy ‘n uur vroeër in die bed klim. Stel die wekker ‘n uur vroeër en laat hy eerder huiswerk doen as hy vars en uitgerus is.
NOG BRONNE:
www.sheknows.com, http://www.babycenter.com, www.workingmother.com,
www.divinecaroline.com, http://www.babble.com