Willie Burger kyk na Marlon James se skryfstyl wat nie in standaard-Engels is nie
Willie Burger
Verlede jaar se wenner van die MAN Bookerprys was Marlon James van Jamaika. Hy het hierdie gesogte prys met sy roman oor Bob Marley, A Brief History of Seven Killings, gewen en daarmee opnuut die aandag op Jamaikaanse literatuur gevestig. James het die afgelope maand ‘n helde-ontvangs by die Karibiese literatuurfees, die Bocas-fees wat in Port-of-Spain gehou is, te beurt geval. Ná die toekenning van die Booker-prys in 2015 word hy nou as “nasionale held” beskou.
Hierdie helde-ontvangs is eintlik nogal ironies teen die agtergrond daarvan dat James tydens 2013 se Bocas-fees, toe hy nog nie buite die Karibiese eilande bekend was nie, sy weersin in ‘n “nasionale letterkunde” uitgespreek het. Hy het ook al, te midde van groot omstredenheid, opgemerk dat hy nooit as ‘n skrywer sou kon gedy het as hy in Jamaika bly woon het nie. A Brief History of Seven Killings is egter juis, in weerwil daarvan dat James nie in die Karibiese eilande woon nie, onmiskenbaar ‘n Jamaikaanse roman – nie alleen wat die onderwerp en ruimte betref nie, maar veral ook ten opsigte van die Engels waarin dit geskryf is. James wyk heeltemal van standaard- Engels af en gebruik “Jamaikaanse Engels”.
Hy vertel dat hy geweier het om A Brief History of Seven Killings op versoek van ‘n uitgewer uit ‘n derdepersoonsverteller se oogpunt en in standaard-Engels te herskryf om dit sodoende aanvaarbaarder vir lesers van buite die Karibiese eilande te maak. In ‘n toespraak by die Bocas-fees het hy ‘n beroep op medeskrywers gedoen om standaard-Engels te laat vaar: “A lot of us wield Standard English as if it’s our master. Mess with it, violate it! If you don’t get the patois, I don’t give refunds.” Volgens James is die aanvaarding van Jamaikaanse Engels ‘n belangrike stap wat die skrywers van sy generasie moet neem ten einde hulself te bevry van ‘n strewe om Engels te wees, omdat dit net tot ‘n bloedarmoedige, vaal Engels en minderwaardige literatuur gelei het: “The result was a steady diet of simplistic poems, leaden dramas and failed novels which caused an unworthy association of local literature with mediocrity, nostalgia and sentimentality.”
Ook Marlene van Niekerk het jare gelede, pas voordat Agaat verskyn het, in ‘n onderhoud ‘n soortgelyke opmerking gemaak. Sy het gesê dat dit belangrik is dat ‘n skrywer moet “mors” met die taal waarin geskryf word: “Die belangrikste is die taal, of ek dit kan maak sing en breek en teen nuwe grense kan uitdryf, mens kan in geen ander taal as jou moedertaal so lekker mors en tekere gaan nie.” Albei hierdie skrywers is internasionaal bekend (Van Niekerk was verlede jaar op die kortlys van die internasionale Bookerprys). Albei van hulle weier om deur hul eie nasionale literêre tradisies beperk te word, maar albei verduidelik ook dat hul skryfwerk absoluut afhanklik is van die uitbuiting van hul kennis van die plaaslike omstandighede, van die taal, soos dit binne hul omgewings gebruik word.
Slegs met daardie bekende taal en omgewing kan gemors en gespeel word, kan gebreek word en nuwe grense oorskry word. Die spanning tussen die plaaslike en die internasionale bestaan natuurlik al jare lank. Alle goeie skrywers, só beweer die Franse letterkundige Pascal Casanova, probeer om deel van die kreatiewe voorpunt te wees van wat wêreldwyd in letterkunde aan die gebeur is. Dit maak nie saak in watter taal of in watter land hul skryf nie – goeie skrywers wil graag met hul literêre pogings ‘n bydrae tot die letterkunde self lewer en nie bloot tot die politieke, sosiale of nasionale omstandighede waarin hulle hulself bevind nie.
Hulle wil nuwe moontlikhede vir die letterkunde ontdek sodat ander aspekte van menswees oopgeskryf kan word. Sulke skrywers is daarom nie ingestel op slegs dit wat plaaslik, in hul eie taalgebied geskryf word nie. Hulle wil immers die letterkunde self, die grense van taal en genre verskuif en vernuwe sodat ander moontlikhede vir die woordkuns oopgemaak kan word. Dit is egter ook uit hierdie twee voorbeelde duidelik, dat sulke skrywers, ten einde die grense van segging te ondersoek, nodig het om juis nie in ‘n vaal internasionale taal en styl te skryf nie, maar om met hul eie omstandighede en taal te mors en speel.