Willie Burger kyk na die jaarlikse prys vir die swakste beskrywing van seks in ‘n roman
Willie Burger
Die Britse literêre tydskrif Literary Review het in 1993 ’n jaarlikse prys vir “swak seks in fiksie” (Bad Sex in Fiction Award) ingestel. Die Literary Review is ’n goed gevestigde tydskrif met meer as 40 000 intekenaars, wat reeds sedert 1979 bestaan en bekend is vir goeie resensies deur gerekende skrywers en kritici.
Die prys vir die swakste uitbeelding van seks in ’n roman is sekerlik nie die soort prys wat skrywers graag wil wen nie. Die prys bestaan ook nie, soos ander literêre pryse, uit ’n bedrag geld en baie prestige nie, maar lei eerder tot ’n spottery met die outeur. Die trofee, wat meestal in die outeur se afwesigheid oorhandig word, is ’n beeldjie van ’n naakte vrou wat sensueel oor ’n oop boek neergevly is. Die doel van die prys is om die aandag op die kru, smaaklose en dikwels clichéagtige en oorbodige beskrywings van seks in romans te vestig.
Sodoende word probeer om skrywers te ontmoedig om sulke tonele in romans in te sluit of om ten minste op vars en oorspronklike maniere oor seks te skryf. Verskeie bekende skrywers het al die twyfelagtige eer gehad om die gewraakte prys te ontvang. Onder hulle tel skrywers soos Sebastian Faulks, Tom Wolfe en Norman Mailer. Ook André Brink is al vir die prys benoem (vir Before I Forget / Voor ek vergeet), maar hy is, gelukkig vir hom, in 2004 deur Tom Wolfe uitgestof. Ben Okri wat in 1991 die Bookerprys gewen het, was die wenner van die “Swak-seks”-prys in 2014 vir sy roman The Age of Magic.
Die kortlys het skrywers soos Richard Flanagan en Murakami ingesluit. Die toneel uit Okri se roman wat uiteindelik die deurslag gegee het, het onder meer ’n vuurpyl wat iewers in die nag afgaan, ingesluit. Dit is kennelik baie moeilik om sekstonele te skryf sonder om gewoon in die banale glip en gly vas te steek, en sonder om skitterende metafore vol fladderings en sidderings en vuurwerke te laat ontplof. Hoe deurslaggewend die oomblik ook al vir die roman mag wees – ’n moment van stygende insig, die laat skiet van jare se opgekropte pyn, of die vervulling van alle verlangens – die oomblik wat dit in woorde beskryf word, loop dit die gevaar om in die clichés van populêre romanses of die beelde van pornografie te verval.
In An Unnecessary Woman, ’n roman deur Rabih Alameddin, vertel die 73-jarige hoofkarakter van een van haar sekservarings van jare tevore. Sy is ’n welbelese kenner van wêreldletterkunde: sy ken al die Arabiese geskrifte oor die liefde, sowel as die Westerse letterkunde en besef die gevaar daarvan om enige sekstoneel te probeer beskryf: How can one describe the ephemeral qualities of sex beyond the probing, poking, and panting? How can one use inadequate words to describe the ineffable, the beyond words? Those salacious Arabs and their Western counterparts were able to explain the technical aspects, which is helpful, of course, and delightful. Some touched on the spiritual, on the psychological, and metaphor was loved by all. However, to believe that words can in any way mirror or, alas, explain the infinite mystery of sex is akin to believing that reading dark notes on a paper can illuminate a Bach partita, or that by studying composition or colour one can understand a late Rembrandt selfportrait. Sex, like art, can unsettle a soul, can grind a heart in a mortar. Sex, like literature, can sneak the other within one’s walls, even if for only a moment, a moment before one immures oneself again.
Alameddin se hoofkarakter raak hier aan ’n hele paar redes oor waarom dit so moeilik is om oor seks te skryf sonder om die gevaar van ’n nominasie vir die “Swak-seks”-prys te loop. Wat beskryf word, is bloot die liggaamsbewegings, die handelinge van die karakters. Hierdie handelinge en bewegings is al eeue oud en al die variasies daarvan is al uit alle invalshoeke beskryf, en daarom is enige nuwe beskrywing so maklik ’n cliché. Vir elke mens is dit dalk ’n nuwe ontdekking, maar altyd is dit reeds bekend.
Die punt is egter dat die beskrywings van handelings nie kan laat reg geskied aan die ervarings van die mense wat betrokke is nie (en natuurlik verskil die ervarings ook – in Houllebecq se Atomised is die een karakter tydens seks verbaas omdat hy absoluut geen emosie ervaar nie). Die ou vrou se redenasie is dat grafiese beskrywings wel aangenaam (prikkelend) en behulpsaam kan wees (ek het al heelwat mense hoor bely dat hulle alles oor seks uit romans geleer het), maar dat woorde nooit reg kan laat geskied aan die ervaring van seks nie. Wyslik beskryf sy dan ook nie die seks nie.