John Steinbeck is hierdie week Willie Burger se keuse van Nobelpryswenner.
Op Vrydagmiddae, die laaste twee periodes van my standerdsesjaar, het ons Engels gehad. Miss Cheeseman kon weinig Afrikaans verstaan, maar sy het die klomp Afrikaanse kinders goed genoeg verstaan om nie dan met ons tenses te probeer sukkel nie. Sy het vir ons voorgelees.
Sy het daardie jaar seker ’n hele paar boeke vir ons gelees. Ek onthou vaagweg ’n boek oor ’n seun wat met dolfyne kon kommunikeer. Daar moes ook nog ander gewees het.
Maar vandag nog, as ek aan Miss Cheeseman se Engelse klasse dink, oorval ’n oorweldigende weemoed my. En dit het niks te doen met enige van die ander honderde periodes daardie jaar waarvan ek niks meer onthou nie. Die oorheersende weemoed is gewek op een bepaalde Vrydagmiddag toe sy uiteindelik by die laaste paar bladsye van John Steinbeck se Of mice and men uitgekom het …
My standerdsesbrein was op rugbyballe en lang middae by die Durban-Noord-swembad gefokus en het gesukkel om te verstaan wat presies aan die einde van Miss Cheeseman se voorlesing gebeur het. Al het ek nie mooi verstaan wat daar onder die bome langs die rivier tussen George en Lennie gebeur het nie, het die stemming my oorweldig. Ek het op my arms bly lê en gemaak of ek slaap toe Miss Cheeseman ná die slotwoorde stilbly. ’n Mens se oë is mos soms rooi as jy wakker word en in die skerp lig inkyk.
Op pad uit by die skoolhek kon die Natalse son my nie warm kry nie. Ek kon nie entoesiasties oor die naweek se dinge saampraat nie. In my tas was die juffrou se Of mice and men wat sy vir my geleen het. Ek het gesukkel met die knoop in my tong en die knop in my keel toe ek haar daarvoor moes vra, maar sy het seker vermoed dat my oë nie rooi was van slaap nie en sy het sonder ’n woord die boek vir my gegee.
Ek het die kort novelle die naweek op my eie deurgelees. Twee keer. En die Maandagmiddag is ek biblioteek toe om na nog boeke van John Steinbeck te soek. Ek moes Grapes of wrath met my ma se kaartjie by die biblioteek uitneem. Dit was in daardie stadium die dikste Engelse boek wat ek nog aangepak het, maar ek kon Steinbeck nie neersit nie.
Steinbeck (1902-1968) het in 1962 die Nobelprys ontvang. Hy het 27 boeke geskryf – waaronder 16 romans. Sy bekendste werk is seker Of mice and men (1937), Grapes of wrath (1939) en East of Eden (1952). (’n Filmweergawe van East of Eden is in 1955 met James Dean in die hoofrol uitgereik. Of Mice and men is in 1982 met John Malkovitch verfilm.)
As George die arme Lennie kalmeer deur vir hom opnuut die storie van hul drome te vertel; dat hulle hul eie plaas gaan hê, met ’n koei, en ’n vark, en hoenders en ’n lappie lusern … Dan skree Lennie uitbundig:
“For the rabbits,” Lennie shouted.
“For the rabbits,” George repeated.
“And I get to tend the rabbits.”
“An’ you get to tend the rabbits.”
Lennie giggled with happiness. “An’ live on the fatta the lan’.”
Die droom van hul eie plaas, waar George onafhanklik kan wees en Lennie hasies kan vashou omdat hy so lief vir sagte goed is, is teen hierdie tyd reeds onbereikbaar, maar dit is ’n droom wat vir Lennie steeds kan laat giggel van geluk. George maak seker dat sy vriend gelukkig sterf.
Soveel misverstand, soveel eensaamheid, soveel teerheid in ’n wêreld waarin drome nie waar word nie; waarin emosies nie uitgespreek word nie, het my destyds ten diepste geraak. Vandag, met ’n herlees, beleef ek weer daardie emosies. Ek kan nou raaksien hoe Steinbeck die effek bewerkstellig, maar die krag is steeds daar.
Die lot van gewone werkers in die tyd van die Groot Depressie, wat ook in Grapes of wrath sentraal staan, kan ’n mens ook vandag nie onaangeroer laat nie. Soos alle groot kunswerke word iets van die ervaring van menswees uitgedruk, op so ’n manier dat ’n mens iets van jouself daarin herken; iets van jouself vir die eerste keer onder woorde gebring sien.
Steinbeck het in een van sy dagboeke die volgende geskryf: “Try to understand men, if you understand each other you will be kind to each other. Knowing a man well never leads to hate and nearly always leads to love. There are shorter means, many of them. There is writing promoting social change, writing punishing injustice, writing in celebration of heroism, but always that base theme. Try to understand each other.”