Nie alle Nobelpryswenners se boeke word meer as 50 jaar later nog steeds met ywer gelees nie. Albert Camus s’n word wel
As ’n mens deur die lys van Nobelpryswenners gaan, is daar baie name wat die meeste mense nie eers sal herken nie. Van die pryswenner van 1957 kan egter vandag nog met entoesiasme gepraat word. Albert Camus se werk word immers steeds voorgeskryf en word in uiteenlopende kringe gelees.
Daar is al opgemerk dat enige groot skrywer ’n besondere impak op die jeug van sy era maak. Dit is beslis die geval met Camus. In die jare vyftig van die vorige eeu het sy werk groot byval onder studente en jongmense gevind en die gewildheid van sy werk het ook ’n groot impak op die woelige politieke tydperk gemaak wat teen die einde van die jare sestig op die studenteonluste en hervorming in Europa uitgeloop het. Camus het ook ’n groot invloed op ’n klompie Afrikaanse skrywers (veral André P Brink) gehad wat aan die begin van die jare sestig Parys toe gegaan het.
Dit is egter opvallend dat Camus se werk vandag steeds ’n groot indruk maak, juis op jongmense. As ’n mens vandag sy werk lees, voel dit steeds relevant – waarskynlik omdat hy die groot vrae van die lewe in sy werk bedink: vrae oor God, oor die sin van die lewe en oor ’n mens se persoonlike verantwoordelikheid in ’n wêreld waarin klaar geformuleerde antwoorde op hierdie vrae nie gevind kan word nie, maar telkens opnuut deur elke individu self gesoek moet word.
Al word hy dikwels met eksistensialisme verbind en al het hy die idee van die absurde in sy werk gepopulariseer, wou hy nie deel van “eksistensialistiese denkers” uitmaak nie. Hy het hom teen enige vorm van oorheersing en onderdrukking verset en rig deurgaans in sy werk ’n kritiese blik op die samelewing.
So anders as by baie van die postmodernistiese skrywers in ons tyd, was hy egter nie bloot krities nie. By talle skrywers vandag kry ’n mens die gevoel dat hulle téén iets is, maar eintlik nooit dat hulle vír iets staan nie. In ons tyd is daar selde positiewe waardes wat uitgespreek word. Enige waarde en waarheid word so maklik weer ondergrawe en blootgelê as ’n waarde of waarheid wat net vir sekere mense in spesifieke omstandighede geld en eintlik ander mense uitsluit.
vir sy era nie, maar ook
’n gewete vir ons tyd
Die waardes wat Camus stel, is ook nie – soos sommige mense ook in ons tyd op die kritiese ondermyning van alle waardes en waarhede reageer – ’n gemaklike (fundamentalistiese) aanvaarding van sekere waarhede wat dan tot elke prys beskerm word nie.
Camus het altyd ’n ideaal gestel waarin menswaardigheid as hoogste waarde sentraal gestel word. Dit het daartoe gelei dat hy uiteindelik deur die linksgesinde intellektuele van sy tyd verwerp is. Hy wou nooit direk aan enige organisasie of politieke party se programme deelneem nie. Hy het telkens besef hoedat daar in politieke optrede uiteindelik kompromieë aangegaan word – geweld word geregverdig om ’n sekere doel te bereik. Dit was vir Camus onaanvaarbaar. Hy het hom deur sy eie morele kompas laat lei eerder as deur ’n politieke program of ’n filosofiese stelsel.
Camus het nie net in een genre uitgeblink nie. Sy drie invloedrykste werke is seker die drie werke waarin hy die idee van die absurde behandel het: Die buitestander (’n roman), Die Sisifus-mite (’n essay) en Caligula (’n drama).
Die buitestander is ’n vreemde roman waarin die ervaring van die mens in die moderne (absurde) wêreld sentraal staan. Dit is die soort roman waarvan die sentrale idee nie sonder meer in filosofiese terme uitgespel kan word nie. Geen logiese antwoorde kan gegee word op die vrae wat die boek opwerp nie. Dit is juis daarom dat hierdie roman ’n roman is, eerder as filosofie; ’n ervaring van die absurde, eerder as ’n beredenering daarvan. Uiteindelik is dit juis die teenstrydighede wat saam in die werk voorkom, wat dit so aantreklik en betowerend maak.
Stephen Eric Bonner sluit sy biografie oor Camus af met die woorde dat Camus nie slegs ’n gewete vir sy era was nie, maar dat hy ook ’n gewete vir ons tyd is. Vk