Willie Burger kyk na die Hertzogpryswenner FA Venter se werke
Willie Burger kyk na die Hertzogpryswenner FA Venter se werke
As laerskoolkind het ek twee helde gehad: Jan Ellis, die Springbokflank, en John Wayne. Toe ek uitvind dat cowboys eintlik Amerikaners is, het iets van die patriotisme wat op skool aan ons oorgedra is, my ongemaklik gelaat met die idee om ’n cowboy te word. Gelukkig leer ons toe van die Groot Trek in die geskiedenisklas en toe kon ek weer my cowboyhoed met trots dra – as Voortrekker! Juis in hierdie stadium, begeester deur my entoesiasme oor die Groot Trek, pak ek FA Venter se Gelofteland aan. Ek was meegesleur deur die avonture van Rudolf Dreyer; sy terugslae en swaarkry. Die bloedige tonele van Bloukrans en die vrees vir nadersluipende Zoeloemagte het my vasgenael. Ek het dadelik begin om die boeke oor die Groot Trek van voor af te lees – Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). Hierdie romans het ’n groot invloed gehad op my opvatting van die geskiedenis en het ’n besondere trots op my voorsate by my gewek. Vandag nog kan ek onthou hoe ontroer ek was deur die vertelling oor Piet en Dirkie Uys. Venter het baie navorsing gedoen en ná aan die feitelike gegewens gehou, al word die historiese gebeure hoofsaaklik uit die oogpunt van ’n fiktiewe karakter, Rudolf Dreyer, weergegee. Soos die titels suggereer, word ’n noue parallel getrek met die uitverkore volk van God se trek uit Egipte na die beloofde land. Die ongelooflike onreg wat Rudolf Dreyer en sy gesin moes verduur, het my laat voel dit is die onreg van elke Afrikaner en het ’n vurige patriotisme by my aangewakker – iets wat seker die doel van hierdie historiese romans was. Die romans het immers juis verskyn in die tydperk toe Suid-Afrika onder Verwoerd ’n republiek geword het – een van die hoogtepunte in die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Venter het in 1961 die Hertzogprys vir Geknelde land en Swart pelgrim ontvang. Laasgenoemde roman het aanvanklik in 1952 verskyn, maar Venter het op aandrang van ’n ander uitgewer die roman herskryf. Die hersiene weergawe het in 1958 verskyn en dit het uitstekend verkoop, veral omdat dit vir baie lank aan skole voorgeskryf is. Die roman gaan oor ’n opregte en trotse jong Xhosaman, Kolisile, wat sy plattelandse bestaan verlaat en na Johannesburg gaan om na sy broer te gaan soek en geld te verdien. In die stad ervaar hy talle terugslae en verval in ’n lewe waarin die goeie waardes waarin hy opgevoed is, vergete raak. Uiteindelik gaan hy as gebroke mens na sy familie terug. In die Suid-Afrikaanse letterkunde is daar talle romans wat soortgelyke gebeurtenisse beskryf. Een van die vroegste van hierdie soort romans wat as “Jim comes to Jo’burg”-romans beskryf word, is dié van RRR Dhlomo, An African Tragedy uit 1928, terwyl die bekendste seker Alan Paton se Cry, the Beloved Country (1949) is. In al hierdie romans is die stad ’n ruimte vol belofte, maar ook ’n plek vol lokvalle vir naïewe plattelanders. ’n Mens kan vandag wonder hoekom ’n verhaal oor ’n swart man as hoofkarakter tydens die hoogbloei van apartheid so hoog aangeslaan is dat dit selfs met die Hertzogprys bekroon is. Enersyds kan ’n mens redeneer dat dit ’n verhaal van soveel menslikheid is dat kleur nie vir die lesers saakgemaak het nie. Andersyds is die roman dalk juis waardeer omdat dit aandui dat die plek van die swart man nie in die “wit stad” is nie, dat dit vir hom veel beter op die platteland is waar hy op sy tradisionele manier kan leef. Benewens die twee romans waarvoor Venter met die Herzogprys bekroon is en die ander Groot Trek-romans, is hy ook bekend vir sy twee Bybelromans, Man van Ciréne (1957) en Die koning se wingerd (1984). Soos die Voortrekkerromans, is hierdie werke ook goed nagevors en gee ’n oortuigende ervaring van die Bybelse wêreld weer. Volgens sommige kritici is Venter se beste skryfwerk nie die bekroonde romans nie, maar eerder sy sketse en outobiografiese werke soos Werfjoernaal (1965), Die middag voel na warm as (1974), Kambro-kind (1979) en Die keer toe ek my naam vergeet het (1995). Toe ek op universiteit André Letoit (Koos Kombuis) se Suidpunt-jazz lees, duik Rudolf Dreyer in dié roman op as lid van ’n filmspan uit die 20ste eeu wat met behulp van ’n tydmasjien na die slag van Bloedrivier terugkeer om ’n dokumentêre rolprent te maak. Hier ontmoet een van die tydreisigers een aand om ’n braaivleisvuur vir Rudolf Dreyer tussen al die ander Voortrekkers. Hierdie komiese voorval het my weer teruggestuur na Gelofteland. ’n Bietjie ouer en kritieser, kon die roman my nie weer roer nie en Rudolf Dreyer se swaarkry was nie meer vir my oortuigend nie. Nietemin het Venter se trekromans lank ’n groot invloed op my en op baie ander lesers gehad en ’n gevoel vir die verlede geskep wat vandag nog by my opkom as ek deur KwaZulu-Natal ry.