Willie Burger vertel vir ons meer oor die Nobelpryswenner J-M G Le Clézio.
Toe die Nobelprys in 2008 aan Jean-Marie Gustave Le Clézio toegeken is, het weinig Suid-Afrikaners waarskynlik van hom geweet.
In ons land, waar bekendheid van skrywers meestal van die beskikbaarheid van hul werk in Engels afhang, het eietydse Franse skrywers nie ’n baie groot kans om bekendheid te verwerf as hulle nie reeds baie bekend in die VSA en Brittanje is nie.
Verlede jaar het ’n essay van Le Clézio, L’Africain (2004), egter in ’n Afrikaanse vertaling deur Naòmi Morgan as Die Afrikaan verskyn. Op hierdie manier het Afrikaanse lesers ’n blootstelling aan Le Clézio se werk gekry. Die Afrikaan is bes moontlik nie die beste plek om aan Le Clézio se werk te begin lees nie. Dit is nie ’n indrukwekkende literêre werk nie, maar daarin is tóg iets te sien van die skrywer wat deur die Nobelpryskomitee as ’n “author of new departures, poetic adventure and sensual ecstasy, explorer of a humanity beyond and below the reigning civilization” beskryf is.
Die Afrikaan is ’n lang outobiografiese essay waarin Le Clézio veral oor sy verhouding met sy pa nadink. Die ingewikkelde en ambivalente verhouding met sy pa het ’n groot invloed op die skrywer se eie identiteit. Sy pa word as “die Afrikaan” beskryf. Hoewel sy pa ’n Franse burger was, is hy in Mauritius gebore en het hy in Engeland studeer. Hy het vir die grootste deel van sy loopbaan as dokter in verskeie Afrikalande gewerk. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was sy pa in diens van die Britse leër in Afrika.
’n groot invloed op die skrywer se eie identiteit
Le Clézio, wat in 1940 gebore is, het sy pa eers ná die oorlog, toe hy al agt jaar oud was, leer ken. Tot in daardie stadium het hy en sy broer by sy ma en hul ooms in Frankryk grootgeword. Hy het sy pa dus eers in Nigerië leer ken toe hulle ná die oorlog vir ’n jaar daarheen gegaan het. (Sy roman Onitsha is ’n semi-outobiografiese beskrywing van ’n seun se bootreis saam met sy Franse ma na sy Engelse pa in Afrika.)
Sy pa was vir hom ’n vreemde man. Hy het hom altyd op ’n afstand gehou. Hy het ’n vreemdeling vir sy seuns gebly en hy het in ysere dissipline geglo. Le Clézio skryf oor die hereniging met sy pa: “Iets is aan my gegee, iets is weer van my weggeneem. Dit wat altyd van my kindertyd afwesig sal wees: om ’n pa te hê, om langs hom groot te word in die warmte van ’n familiewoning.”
Le Clézio bespiegel in Die Afrikaan oor die invloed van die jaar wat hy as kind in Ogoja gewoon het. Hoewel die jeugherinnering maklik in ’n soort nostalgie kan ontaard, ’n vals verlange na ’n gewaande, eksotiese pre-koloniale Afrika, of in ’n droefheid oor die gemis aan ’n liefdevolle, warm verhouding met sy pa, gebeur dit nie in Die Afrikaan nie. Naby die einde van die essay bely Le Clézio die belang van hierdie ervarings vir sy lewe: “Wat sou van my geword het as ek nie hierdie sinlike kennis van Afrika gehad het nie, as ek nie hierdie nalatenskap van my lewe voor my geboorte gekry het nie?”
Sedert sy eerste roman in 1963 op 23-jarige ouderdom gepubliseer is, het Le Clézio 18 romans geskryf. Hy het ook talle kortverhale, essays, reisverslae en kinderverhale geskryf. Soos sy pa, is hy ook oënskynlik deur ’n avontuurlus gedryf. Hy het vier jaar lank onder die Embira-Indiane in Panama gewoon en die roman Hai (1973) is op hierdie ervaring geskoei. Hy het ook ’n doktorsgraad oor die koloniale geskiedenis van Mexiko geskryf. Hy het in Engeland studeer en vir tye in Mauritius, die VSA en in Suid-Korea gewoon. Hy noem Mauritius sy “klein vaderland”. Dit is seker te verwagte dat sy werk dikwels met die verhoudings tussen verskillende kulture gemoeid is.
In die jare sestig was sy eerste romans meer eksperimenteel, maar later het veral sy reisverhale en essays hom ’n geliefde skrywer onder ’n wye leserspubliek gemaak. Die hoofkarakters in Le Clézio se werk is meestal alleenlopers. Hulle bevind hulle dikwels in die posisie van die immigrant, as mense wat nie werklik in enige kultuur tuis is nie.
Die Afrikaan bied die Afrikaanse leser ’n insig in die ervaring van vreemdheid onderliggend aan hierdie Nobelpryswenner se skryfwerk. Vk