Ten spyte van sy botsing met die eng volksnasionalisme en godsdiens is Leipoldt bekend vir sy gedigte oor die oorlog
Ten spyte van sy botsing met die eng volksnasionalisme en godsdiens is Leipoldt bekend vir sy gedigte oor die oorlog
Iets van C Louis Leipoldt se veelsydigheid blyk uit die feit dat hy die Hertzogprys in twee genres ontvang het: In 1934 vir poësie (die bundel Skoonheidstroos) en in 1944 vir sy dramas, Die heks en Die laaste aand.
Sy veelsydigheid strek egter veel verder. Hy het ook prosa en reisverslae geskryf, in Afrikaans en in Engels. Daarbenewens het hy beroemdheid as fynproewer verwerf en sy kookboeke tel vandag nog onder die beste bronne van “opregte” Suid-Afrikaanse kos. Leipoldt het sy skryftalent reeds voor die Anglo-Boereoorlog geslyp met joernalistieke werk vir Europese publikasies. Ná die oorlog studeer hy medies in Londen (danksy finansiële steun van die botanis, dr Harry Bolus). Tydens sy studiejare in Londen kwalifiseer hy ook as sjef onder die beroemde Auguste Escoffier. Leipoldt het reeds in die jare dertig ’n geskiedenis oor wynmaak in Suid-Afrika geskryf (300 Years of Cape Wine) en sy kookrubriek in Die Huisgenoot is later as Polfyntjies vir die proe gebundel. Sy omvattende kookboek Kos vir die kenner kweek selfs by kombuisverskriktes ’n kooklus.
Leipoldt was ’n wêreldreisiger. Hy was onder meer die skeepsdokter op Joseph Pulitzer (die Amerikaanse mediamagnaat) se seiljag en hy het deur Europa, Amerika en die Ooste gereis. Laasgenoemde reis het tot sy bekende reisverslag Uit my Oosterse dagboek gelei. Elsa Joubert volg later in sy voetspore en merk op dat hy heelwat insigte wat hy tydens die reis verwerf het, in die Engelse weergawe daarvan geskryf het, maar uit die Afrikaanse weergawe gesensureer het. Hy het besef dat sy denke te ruim was vir die eng nasionalistiese strewe van die Afrikaners in die jare dertig. Benewens sy oorsese reise en studies, het sy kennis van Engelse en Duitse literatuur ook sy denkwêreld verruim en hy het die eng godsdiens waarin hy (as pastorieseun) grootgeword het, verwerp en ’n waarderende belangstelling in ander kulture gehad.
Ten spyte van sy botsing met die eng volksnasionalisme en godsdiens is Leipoldt bekend vir sy gedigte oor die Anglo-Boereoorlog. Veral “Oom Gert vertel” is onvergeetlik – die skuldgevoel van die verteller staan sentraal ten spyte van die indruk dat die gedig oor die rebelle gaan wat tereggestel is. Die slotreël van “In die konsentrasiekamp” het ook ingeburger geraak in die algemene Afrikaanse spreektaal: Die yster het gloeiend ’n merk vir die eeue Gebrand op ons volk; en die wond is te ná – Te ná aan ons hart, en te diep in ons lewe – “Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”
Die spanning tussen sy begrip vir sy volk en sy verwerping van die benoude denkwêreld van die Afrikaners in die 1930’s is opvallend in die romans wat hy in Engels geskryf het en wat as The Valley uitgegee is.
In sy sonnet oor die verlies van ’n vriend, “Die aakligste” vind ’n boeiende omkeer plaas. Die “aakligste” is nie om alleen agter te bly in droefheid wanneer die geliefde sterf nie: Dit is die bitterste dat ek geen hand Kan uitstrek, hulpvol, meelyend in my smart; Geen steun kan gee, hoe hard en swaar die stryd; En dat daar swerwe in die Dodeland, Verlate, wat ek liefhet in my hart!
Onder die bekendste verse wat baie van ons nog op skool geleer of gesing het, tel “Ek sing van die wind wat te keer gaan” waarin die natuur besing word en dan eindig die vers met dit waaroor nooit gesing word nie: “Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!”
“Op my ou ramkietjie” en “Boggom en Voertsek” is welbekend, maar telkens vars as ’n mens hulle weer lees. ’n Mens kan maar net wonder hoe die geskiedenis sou verloop het indien die denke van iemand soos Leipoldt wyer onder Afrikaners versprei was.