Willie Burger kyk na Hertzogpryswenner CJ Langenhoven se werke
Vroeër vanjaar is die 140ste geboortedag van CJ Langenhoven gevier. Die vierings het met veel minder fanfare gepaardgegaan as die 100 jaar-vierings in 1973. Tóé is daar ’n week lank talle dokumentêre programme oor die radio uitgesaai, opvoerings van sy werk is gehou en Langenhoven is as een van die grotes in Afrikaans gevier. Vanjaar was die vierings meer gedemp. Miskien kan ’n mens dit toeskryf aan die feit dat skrywers gewoon nie meer so ’n belangrike rol in die samelewing beklee as destyds nie. Bes moontlik het dit daarmee te doen dat ons samelewing se belangstelling eerder gerig is op huidige “sterre” se doen en late sodat voormalige beroemdes nie juis ruimte kry nie. Daardie soort herdenkings behoort dalk bloot aan ’n vorige era, toe dit ook gedien het om Afrikanernasionalisme aan te vuur. Maar een ding is seker: In sy tyd, en vir dekades daarna, was Langenhoven sekerlik een van die gewildste skrywers in Afrikaans. Hoewel hy die Hertzogprys in 1927 met Jochem van Bruggen en Sangiro moes deel, is daar geen twyfel dat sy werk besonder wyd gelees is nie. As politikus en joernalis het hy hom beywer vir die erkenning van Afrikaans as amptelike taal en onderrigtaal en as skrywer het hy geen kans laat verbygaan om teen Engels te stry en om leesstof in Afrikaans te verskaf nie. Talle van sy spreuke en kwinkslae word steeds dikwels aangehaal soos: “As die kortpad die beste was, sou die hoofpad daar geloop het” of “Leë pyp, hou toe jou kraan, dan sien ons jou vir ’n volle aan”. Op skool het ek nooit eens besef dat die onderwysers wat teen alle vorms van graffiti gestry het, eintlik vir Langenhoven aangehaal het as hulle ons herinner het dat net gekke en dwase hul name op mure en glase skryf. Sy gedigte, verhale en spreuke word gekenmerk deur ’n fyn sin vir humor en woordspel, die benutting van meerduidige betekenisse en die omkeer van geykte idees, byvoorbeeld in die spreuk “Elke silwer randjie het ’n donker wolk”, waarmee hy teen te veel optimisme waarsku. In die gedig “Die mot en die kers” (wat onder die 100 gewildste Afrikaanse gedigte tel) word byvoorbeeld gespeel met die dubbele betekenis van “as”: die as van ’n wiel en die as van die mot wat verbrand. “Die stem van Suid-Afrika” is ongetwyfeld Langenhoven se bekendste gedig. Dit het in 1921 in die bundel Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika verskyn en dit het natuurlik later die volkslied geword. ’n Deel daarvan maak tot vandag toe die enigste deel van die volkslied uit wat die meeste ouer mense ken. Sy werk is meestal grappig, lig en vrolik, dikwels satiries, maar deurgaans is sy werk ook ’n onverbloemde poging om op te voed en om sy lesers lewenslesse te leer. Langenhoven het dit nodig geag om Afrikaans as skryftaal en dinktaal te vestig sodat Afrikaanssprekendes ’n trots op hul eie taal kan ontwikkel, maar dit ook nodig geag om hierdie Afrikaanse lesers op te voed. Gevolglik lyk sy werk vir die hedendaagse leser prekerig. Langenhoven was besonder produktief. Hy is op die betreklik jong ouderdom van 59 jaar oorlede, maar sy versamelde werk beslaan ’n stewige 16 volumes. Die stelle van sy versamelde werk met die rooi bande is in 1940 uitgegee tydens ’n opwelling van Afrikanertrots en het in baie huise ’n belangrike plek ingeneem. Vir meer as een geslag kinders is die stories van Brolloks en Bittergal hieruit voorgelees, terwyl die spookstories uit Geeste op die aarde (1924) en Die wandelende geraamte (1930) hierdie genre in Afrikaans gevestig het. Koos Kombuis het by geleentheid met verwysing na Loeloeraai vir Langenhoven as die eerste wetenskapfiksieskrywer in Afrikaans beskryf. Langenhoven het inderdaad probeer om vir Afrikaanse lesers iets vergelykbaars met die destyds gewilde werke van Jules Verne te bied. Loeloeraai is ’n ruimtereisiger met ’n vlieënde piering wat op Oudtshoorn land en verskeie prettige opmerkings oor aardse inwoners maak (en wat met buite-aardse, objektiewe wysheid sommer ’n paar aanvalle op Engels loods!). Reisigers deur Meiringspoort in die Swartberge sal ’n bordjie wat ’n mens beduie na “Herrie se klip” opmerk. Langenhoven het in Herrie op die ou tremspoor ’n vakansie van Sagmoedige Neelsie, Vroutjie en hul doger Engela in Meiringspoort beskryf. Hulle reis van Oudtshoorn na Meiringspoort in ’n yslike huis op wiele (voordat woonwaens bestaan het!). Om die swaar woonwa te trek, skaf Sagmoedige Neelsie ’n olifant met die naam Herrie aan. Langenhoven het Herrie se naam op ’n rots in Meiringspoort uitgekrap en daar is in Oudtshoorn selfs ’n klein standbeeldjie van Herrie. Maar die olifant het slegs in sy fiksie bestaan. Sonde met die bure was nie net ’n gewilde roman uit 1921 nie, die titel het ’n ingeburgerde deel van die Afrikaanse woordeskat geword om enige botsings met bure te beskryf. Langenhoven se raak beskrywings van mense – veral van menslike swakhede soos ydelheid, grootdoenerigheid, oordrewe vroomheid en gewaande wysheid – getuig van ’n besondere waarnemingsvermoë en mensekennis. Indirek het sy skryfstyl, sy selfspot en woordspel ’n groot invloed op talle rubriekskrywers en beoefenaars van die (ietwat prekerige) essay gehad.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.