Nobelpryswenner William Faulkner word as een van die voorlopers in vernuwende skryfwerk van die 20ste eeu gereken
In 1949 is die Nobelprys aan ’n skrywer uit die suide van die Verenigde State, William Faulkner, toegeken. Wanneer daar in die Engelse wêreld oor modernistiese vernuwing gepraat word, is dit dikwels die name van James Joyce, Virginia Woolfe en William Faulkner wat eerste opduik.
Die beskouing van Faulkner (1897-1962) as een van die belangrikste vernuwende skrywers in die eerste helfte van die 20ste eeu, is veral aan sy styl te danke waarin die gedagtes, waarnemings en handelings van karakters dikwels in ’n aaneenlopende stroom weergegee word. In sy bekendste romans soos As I lay dying (1930) en The sound and the fury (1929) wend hy die eerste keer die sogenaamde "bewussynstroomtegniek" van vertelling aan.
Hier is ’n proesel daarvan uit die tweede deel van The sound and the fury: If that was the three quarters, not over ten minutes now. One car had just left, and people were already waiting for the next one. I asked, but he didn’t know whether another one would leave before noon or not because you’d think that interurbans. So the first one was another trolley. I got on. You can feel noon. I wonder if even miners in the bowels of the earth. That’s why whistles: because people that sweat, and if just far enough from sweat you won’t hear whistles and in eight minutes you should be that far from sweat in Boston. Father said a man is the sum of his misfortunes. One day you’d think misfortune would get tired, but then time is your misfortune Father said. A gull on an invisible wire attached through space dragged. You carry the symbol of your frustration into eternity. Then the wings are bigger Father said only who can play a harp.
I could hear my watch whenever the car stopped, but not often they were already eating Who would play a Eating the business of eating inside of you space too space and time confused Stomach saying noon brain saying eat oclock All right I wonder what time it is what of it. People were getting out. The trolley didn’t stop so often now, emptied by eating.
Die verteller, Quinten, is in Boston op ’n bus. Sy waarnemings en handelinge sowel as sy gedagtes en herinnerings terwyl hy die trem haal en daarmee ry, word byna gelyktydig weergegee, soos wat hy dit ervaar en dink. Hier kan ’n mens nog min of meer sy gedagtespronge volg, maar later word dit nog moeiliker. Op hierdie manier word Quinten se verwarring, agteruitgang en depressie in die teks weerspieël.
In As I lay dying is 15 verskillende karakters die vertellers. Die karakters kom telkens in afsonderlike hoofstukke aan die woord en dan word hul eie gedagtes en ervarings weergegee. As leser word jy as ’t ware telkens in die bewussyn van die karakter ingetrek wat in ’n spesifieke hoofstuk aan die woord is. Só leer jy geleidelik die verskillende karakters deur hul onderskeie waarnemings en menings oor die ander karakters ken. Dit is ’n tegniek waarvan die Afrikaanse skrywer Alexander Strachan ook onlangs in Dwaalpoort gebruik gemaak het. ’n Ander bekende voorbeeld van hierdie manier van vertel in Afrikaans is André P Brink se Houd-den-bek.
Byna al Faulkner se romans en kortverhale speel af in "Yoknapatawpha County", ’n denkbeeldige distrik in die staat Mississippi, gegrond op die omgewing waar Faulkner self gewoon het. In elke roman en kortverhaal word iets meer van hierdie distrik en die mense wat daar woon, duidelik. In The Sound and the fury lees ’n mens oor die verval van die ou suidelike lewenswyse en families. In die Snopes-trilogie (The Hamlet, The town en The mansion) word weer die opkoms van ’n nuwe lewenswyse in die suide beskryf.
Faulkner het ’n groot invloed op talle skrywers regoor die wêreld gehad. Benewens die Afrikaanse romans waarna hierbo verwys is, herinner Anna M Louw se Kroniek van Perdepoort ook aan Faulkner. Een van die belangrikste huidige Amerikaanse skrywers Cormack McCarthy se werk word ook dikwels met dié vanFaulkner vergelyk.