Samuel Beckett het in 1969 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang vir onder meer ‘n drama waarin byna niks gebeur nie
Samuel Beckett (1906-1989) se Waiting for Godot is waarskynlik een van die bekendste dramas van die 20ste eeu. Dit is vir die eerste keer in 1952 in Parys in Frans opgevoer as En Attendant Godot. Hoewel Beckett ’n Ier was en sy eerste werke in Engels geskryf het, het hy hom permanent in Parys gevestig en sy bekendste werke in Frans geskryf.
Dis ook nie net in sy dramas soos Waiting for Godot wat daar byna geen handeling is nie, ook in sy romans is daar byna nie sprake van nie. Die meeste lesers, wat aan konvensionele realistiese romans gewoond is, verwag dat daar ’n “storie” in ’n roman vertel word. Met “storie” word gewoonlik bedoel dat dit ’n vertelling is van iets wat gebeur, met iemand, op ’n sekere plek en in ’n sekere tyd.
Beckett het in sy romans hierdie konvensies uitgedaag. In ’n roman soos The Unnamable is daar ’n verteller aan die woord, maar dit is nooit duidelik wie hy presies is nie. Hy vertel ook geen storie nie, want daar gebeur eintlik niks en van ’n spesifieke, herkenbare ruimte waarin die verteller hom bevind, is daar ook nie sprake nie. Die roman het byna geen paragrawe nie – alles is een aaneenlopende stroom woorde. Die sinne is soms ook bladsye lank.
Handeling is beslis nie sentraal in die roman nie – taal is. Die probleem is net dat dit duidelik word dat taal nie genoegsaam is om enigiets vas te vat nie. Stilte is egter ook nie aanvaarbaar nie en daarom hou die verteller net aan praat. Die slotwoorde van die roman word dikwels aangehaal: “… I’ll go on, you must say words, as long as there are any, until they find me, until they say me, (…) perhaps it’s done already, perhaps they have said me already, perhaps they have carried me to the threshold of my story, that would surprise me, if it opens, it will be I, it will be the silence, where I am, I don’t know, I’ll never know, in the silence you don’t know, you must go on, I can’t go on, I’ll go on.”
Iets van die absurde weerklink in hierdie woorde: Die hoop is dat die woorde ’n storie kan word, iets oor die “ek” kan sê. Daar is egter nooit ’n storie in die hele roman nie en die ek word nooit kenbaar nie – bly “unnamable”. Stilte is egter nog erger en daarom moet die spreker eenvoudig voortgaan om te praat.
Met die sterk bewustheid van taal en die besef dat daar geen finale waarheid deur taal kenbaar gemaak kan word nie, sluit Beckett by die modernisme aan. Hy is ook sterk beïnvloed deur een van die belangrikste modernistiese skrywers van die twintigste eeu, James Joyce.
Beckett en Joyce was goeie vriende. Al twee hierdie invloedryke skrywers was Iere van geboorte, maar het verkies om later in Parys te woon en werk.
In Waiting for Godot wag twee karakters, Estragon en Vladimir, op die koms van die geheimsinnige Godot. Hulle erken dat hulle nie presies weet wie Godot is nie, maar hulle glo dat Godot se koms baie belangrik sal wees. Intussen is hulle verveeld en hulle gesels en speel speletjies en slaap en eet om die tyd te verwyl totdat Godot kom. Die volgende dag is ’n herhaling van die eerste dag. Estragon kan eintlik nie eers mooi onthou wat die vorige dag gebeur het nie. Godot daag weer nie op nie. Vladimir en Estragon oorweeg selfmoord, maar hulle het geen tou om hulself aan op te hang nie. Die tou wat Estragon as gordel gebruik, breek as hulle dit toets en al wat gebeur, is dat sy broek afsak. Dit is duidelik dat hulle die volgende dag weer vergeefs sal wag.
Die gewag op Godot is tevergeefs. Uiteindelik het die twee karakters net hul eie geselskap, hul eie vervagende herinnerings en spel en slaap en eet om die tyd om te kry totdat ’n einde sal aanbreek. Iets van Camus se idee van die absurdheid van die lewe is duidelik herkenbaar, maar anders as ’n eksistensialis soos Sartre en anders as die somberheid van Camus, is daar telkens ’n ligtheid in Beckett se werk. ’n Somber lewensuitkyk, ’n uitsiglose bestaan waarin die mens nooit in beheer van die lewe kan wees nie, nooit ten volle kan verstaan wat die sin van die lewe is nie, word deur Beckett met humor hanteer.
Beckett was digter, romansier en dramaturg en hy het ook talle radiodramas geskryf.