In hierdie nuwe reeks skryf Willie
Burger oor plaaslike skrywers wat
met die Hertzogprys bekroon is
Ons het in die reeks artikels “Só skryf ’n wenner” oor byna ’n jaar en ’n half na die werk van ’n aantal Nobelpryswenners gekyk. Op versoek van verskeie lesers begin ons hierdie maand met ’n tweede reeks en hierdie keer val die fokus op wenners van die Hertzogprys. Die Hertzogprys is die oudste prys vir Afrikaanse letterkunde en het baie prestigewaarde, al is die geldwaarde daarvan maar baie klein in vergelyking met die meer onlangse prys van die Universiteit van Johannesburg, wat sedert 2000 toegeken word. Die Hertzogprys is in 1914 ingestel nadat generaal JBM Hertzog ’n bedrag van 1 200 pond vir dié doel geskenk het.
Die prys word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns beheer. Die Letterkundekommissie (bestaande uit sewe lede) vergader jaarliks en maak dan ’n aanbeveling aan die Akademieraad, wat die prys toeken. Hierdie sewe lede word op grond van hul kwalifikasies tot die kommissie verkies en werk as kritici en akademici binne die Afrikaanse letterkunde.
Die prys word elke jaar toegeken: een jaar vir poësie, die volgende vir drama en die volgende vir prosa. Dit beteken dat daar elke jaar na die beste publikasies in die spesifieke genre van die vorige drie jaar gekyk word. Dit is voordelig, omdat ’n driejaartydperk ’n beter kans bied dat daar wel ’n besondere werk sou verskyn het. Die nadeel is egter dat daar soms twee of drie uitstekende werke in so ’n driejaarsiklus verskyn en dat net een daarvan bekroon word terwyl dié wat in daardie tydperk nie bekroon is nie, dalk “beter” kan wees as die wenner van ’n volgende siklus. Dit verklaar in ’n mate hoekom talle uitstekende werke nooit bekroon is nie. Soos met alle pryse, was daar al dikwels omstredenheid rondom die toekenning van die Hertzogprys. Uys Krige is byvoorbeeld dikwels oor die hoof gesien vir sy beste dramas – weens sy politieke oortuigings wat nie met die Akademie s’n gestrook het nie. Met die voordeel van terugskoue kan ’n mens ook net wonder waarom een van die belangrikste kortverhaalbundels in Afrikaans, Een-en-twintig deur Jan Rabie, nie in 1957 bekroon is nie, maar wel Elise Muller se Die vrou op die skuit? ’n Soortgelyke vraag kan ook gevra word oor die toekenning aan Henriette Grové se Die kêrel van die Pêrel bo André P Brink se Houd-den-bek in 1984.
Trouens daar is al baie keer skerp kritiek teen die Akademie uitgespreek omdat André P Brink oor baie jare heen nie die prys ontvang het nie. Hy is immers een van die bekendste Afrikaanse skrywers wat ’n groot bydrae tot die vernuwing in die Afrikaanse prosa gedurende die jare sestig gelewer het. In 1967 het die Akademie besluit om geen toekenning te maak nie, dit terwyl Etienne Leroux se Een vir Azazel én André P Brink se Orgie in die voorafgaande drie jaar verskyn het. Brink sou ook toe die prys vir sy oeuvre – Die ambassadeur en Lobola vir die lewe (saam met Orgie) – kon ontvang het.
Dit is hierdie soort besluite wat al dikwels die indruk gewek het dat die Hertzogprys “konserwatief” is en ’n noue verbintenis met die destydse Nasionale Party gehad het. Trouens, die latere eerste minister BJ Vorster het blykbaar in die jare sestig gesê dat die Akademie nie die Hertzogprys aan Uys Krige moet toeken nie en gewaarsku dat Krige gearresteer sou word as dit gebeur!
Hierdie soort politieke inmenging en die omstredenheid rondom sommige toekennings het vraagtekens oor die geloofwaardigheid van die Hertzogprys geplaas en het daartoe bygedra dat Breyten Breytenbach die Hertzogprys in 1984 van die hand gewys het. Al die omstredenheid en foute ten spyt, bly dit een van die mees gesaghebbende toekennings in die Afrikaanse letterkunde. Vk