Willie Burger kyk na die werk van 2012 se Hertzogpryswenner Adam Small
Die toekenning van die Hertzogprys vroeër vanjaar aan Adam Small het met taamlike omstredenheid gepaardgegaan. Aan die een kant is die toekenning deur baie mense, onder andere invloedryke skrywers soos Breyten Breytenbach, André P Brink en Braam de Vries, verwelkom. Hierdie kamp redeneer die Hertzogprys het hom al lankal toegekom en dit was ‘n onreg dat hy nie die prys byvoorbeeld in 1966 vir sy drama Kanna hy kô hystoe ontvang het nie. Aan die ander kant was daar ook mense wat beswaard was oor die besluit omdat hulle voel dit ondermyn die bepalings van die Hertzogprys. Die reëls bepaal dat die prys “jaarliks en om die beurt toegeken word vir poësie, drama en prosa – in dié volgordeâ€. Dit beteken dus dat net werke wat in die vorige drie jaar verskyn het, oorweeg kan word. As daar nie ’n enkelwerk van ’n skrywer is wat bekroonbaar is nie, bepaal die reëls verder dat die oeuvre van ’n skrywer wat wel ’n werk in die vorige drie jaar gepubliseer het vir bekroning oorweeg kan word. Die beswaar dat die reëls nie gevolg is nie, hou dus water. Daar het immers geen drama van Small in die vorige drie jaar verskyn nie. Die Letterkundekommissie het egter ná deeglike oorweging bevind dat nie een van die dramas wat gedurende die vorige drie jaar gepubliseer is, bekroningswaardig is nie. In plaas daarvan om geen toekenning te maak nie, is toe aanbeveel dat die Hertzogprys aan Small toegeken word. Die geskiedenis hieragter is dat die Akademie in 1966, die jaar nadat Small se beroemde drama Kanna hy kô hystoe verskyn het, besluit het om glad nie die Hertzogprys vir drama toe te ken nie. Small is destyds kennelik om politieke redes oor die hoof gesien. Die feit dat hy nie wit is nie, was vir die besonder behoudende Akademie destyds onaanvaarbaar. Die Letterkundekommissie het toentertyd aanbeveel dat die prys vir drama aan Uys Krige moet gaan vir sy oeuvre, maar die Akademie het onder druk van die Nasionale Party besluit om dit nie te doen nie omdat Krige se politieke beskouings nie vir hulle aanvaarbaar was nie. Benewens die besware dat daar hierdie jaar nie by die reëls gehou is nie, is daar ook besware geopper dat hierdie toekenning te laat gekom het en dat dit nie die onreg van die verlede ongedaan kan maak nie. Die Akademie kan nie met hierdie daad toegelaat word om die indruk te skep dat daar nie in die verlede onreg gepleeg is nie, word geredeneer. Natuurlik is hierdie besware ook geldig. Die destydse blatante miskenning van Small bly skandelik en sal as historiese feit bly staan. Maar al kan die Akademie nie foute herstel nie, word met hierdie toekenning aan ’n besonder invloedryke dramaturg erkenning gegee. Geen beswaarde betwyfel dat Kanna hy kô hystoe ’n waardige Hertzogpryswenner is nie. Hierdie drama het klassieke status binne die Afrikaanse literatuur verwerf. In baie opsigte is Kanna ’n tipiese “Sestigerwerk†wat aansluit by die werk van belangrike 20ste-eeuse dramaturge soos Arthur Miller en Beckett en wat met eksistensiële vrae worstel. Die dekor is nie realisties nie, die gebeure verloop achronologies en verskeie effekte word deur beligtingstegnieke geskep – soms is daar meer as een toneel gelyktydig aan die gang. Die hoofkarakter worstel met ’n skuldgevoel. Hy kan kies tussen ’n veilige en gerieflike lewe in die buiteland of ’n haglike bestaan saam met sy mense in Suid-Afrika. Kanna lewer uiteraard ook veral skerp sosiale kommentaar wat die lig laat val op die verskriklike uitwerking van apartheid op ’n gesin van plaaswerkers wat, ná die dood van die pa, verstedelik en haglike omstandighede beleef. Kanna hy kô hystoe is ongetwyfeld een van die belangrikste dramas wat in Afrikaans geskryf is. Vk