Willie Burger kyk na die werke van Hertzogpryswenner Sangiro
Willie Burger
In baie van die gewilde dokumentêre programme oor wilde diere of oor verafgeleë natuurstreke word heelwat wetenskaplike feite oor die diere of streke gegee, maar telkens word dramatiese verhale oor die diere gemaak – oor hul stryd om oorlewing in die natuur. Dikwels val die klem op mense se inmenging in die natuur wat dilemmas vir die diere veroorsaak. In Afrikaans bestaan ’n lang tradisie van hierdie soort dramatiese natuurbeskrywings.
Sangiro het in 1927 die Hertzogprys vir prosa ontvang vir Diamantkoors en Twee fortuinsoekers, maar dit is vir sy gewilde sketse oor die natuur in Uit oerwoud en vlakte (1921) en Op safari (1925) wat hy eintlik bekendheid verwerf het. In 1945 is die Hertzogprys ’n tweede keer aan hom toegeken – hierdie keer vir sy hele oeuvre. Sangiro se natuurlewevertellings was baie gewild en het waarskynlik die tradisie van skryf oor die natuur in Afrikaans beïnvloed aangesien boeke soos Uit oerwoud en vlakte wyd gelees is. Hoewel diereverhale en vertellings oor jagtogte en gevegte teen gevaarlike diere seker byna so oud soos die mensdom self is, is dit maar eintlik eers sedert die laat 19de eeu wat diere en dieregedrag in hul natuurlike omgewing die fokus van vertellings geword het.
In die antieke Griekse verhale van Esopus of die Middeleeuse vertellings oor Reinaard die vos, word nie regtig oor die diere en dieregedrag geskryf nie, maar oor mense, verhul as diere, ten einde met menslike gedrag te spot of om lesse te leer oor hoe mense behoort op te tree. Om regtig te probeer om die wêreld vanuit ’n dier se perspektief weer te gee soos Sangiro gedoen het, is ’n veel moderner verskynsel. Daar word soms na Jack London se White Fang (1906) as een van die vroegste hoogtepunte van ’n roman vanuit diereoogpunt verwys. Sangiro het as jong seun jagtogte in die wildernis van destydse Tanganjika (Tanzanië) meegemaak, waar sy gesin hulleself en hul vee dikwels teen leeus moes beskerm. Hy het egter van die begin af nie gewone jagverhale geskryf nie.
Jagverhale was baie gewild in Suid-Afrika, maar hierin was die doodskiet van ’n dier dikwels die hoogtepunt van die vertelling. (Dink maar aan PJ Schoeman se roman Fanie se veldskooldae, waarin die doodskiet van verskillende diere – ’n eerste leeu, ’n eerste luiperd, ensovoorts, as belangrike mylpale in Fanie se pad na volwassenheid aangebied word.) Vir Sangiro was die agtervolging van diere deur die bosse en die skiet daarvan nie die hoogtepunt van die vertelling nie.
En juis daarom bevat sy Uit oerwoud en vlakte (1921) en Op safari (1925) buitengewone vertellings. Hierdie sketse en verhale getuig van fyn waarneming van die diere in hul natuurlike omgewing en inlewing in die diere se ervarings. Sy vertelling oor die vriendskap wat tussen ’n renostertjie en ’n seekoeitjie onstaan nadat hul ouers deur jagters doodgeskiet is, het al die elemente van die soort drama wat deesdae tipies in natuurleweflieks voorkom.
Hy het ook baie nagte in bome deurgebring om die leeus in Oos-Afrika (Tanzanië) te bestudeer. In Uit oerwoud en vlakte beskryf hy die leeus se gewoontes, hul jagtogte en die trop se gedrag nadat een van die wyfies doodgeskiet is. Sangiro is eintlik die skuilnaam van Andries Albertus Pienaar (1894-1979). Sangiro beteken “hasie” en is ’n naam wat hy in Tanzanië by die plaaslike inwoners gekry het. Toe hy 13 jaar oud was, het Sangiro se ouers na Tanzanië (destyds in 1907 nog Duits-Oos-Afrika) verhuis, waar hy vele ontberings gehad het. Twee van sy broers het aan malaria gesterf en die gesin het byna al hul besittings verloor.
In 1913, toe hy reeds 19 jaar oud was, is hy na Suid-Afrika teruggestuur om sy hoërskoolopleiding te ontvang. Hy was natuurlik veel ouer as sy klasmaats en kon blykbaar slegs met moeite in die skoolbanke inpas. Hy is egter toegelaat om vinnig te vorder en het in 1921 op Stellenbosch ’n graad met Duits en Engels as hoofvakke ontvang. Hierna het hy in Duitsland verder studeer en het as joernalis en onderwyser gewerk. Hy was ook in ’n stadium ’n wildbewaarder in Namibië (destyds Suidwes-Afrika). Sy Op Safari is gegrond op reise wat hy in 1922 en 1924 terug na die wildernis van Tanzanië onderneem het.
Hy het ook ’n Duitse rolprentspan na hierdie gebied begelei en in die 1930’s was hy by verskeie van die eerste Afrikaanse rolprente betrokke. Hy het meegewerk aan die tweede Afrikaanse rolprent, ’n nasionalistiese rolprent oor die geskiedenis van Suid-Afrika wat in 1938 gemaak is om die 100 jaar van die Groot Trek te vier. Hy was ook die regisseur van Lig van ’n eeu, ’n historiese rolprent oor die geskiedenis van Nederlandse kerke in Suid-Afrika.
Een van die hoogtepunte van Sangiro se werk is die kortverhaal “Koors” (aanvanklik in 1929 in Die nuwe Brandwag gepubliseer en later, in 1932, in die bundel Nuwe Afrikaanse kortverhale). In hierdie verhaal word die nagmerriehallusinasies van ’n seun wat tydens ’n tog in Oos-Afrika malaria opdoen, treffend beskryf.
Gedig vir die week
Sekretarisvoël met jou lang bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lang bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
C Louis Leipoldt