André P Brink is een van die bekendste en mees bekroonde Suid-Afrikaanse skrywers, maar hy moes baie lank wag voordat die Hertzogprys aan hom toegeken is
André P Brink is een van die bekendste en mees bekroonde Suid-Afrikaanse skrywers, maar hy moes baie lank wag voordat die Hertzogprys aan hom toegeken is
Ten spyte daarvan dat André P Brink onder die bekendste Suid-Afrikaanse skrywers tel, sy romans in 30 tale vertaal is en hy talle gesogte buitelandse toekennings en eredoktorsgrade ontvang het, moes hy baie lank wag voordat die Hertzogprys aan hom toegeken is. Uiteindelik is dié prys twee keer agtermekaar aan hom toegeken – een keer vir drama en een keer vir prosa. In 2000 is Die jogger bekroon en die volgende jaar Donkermaan. Die twee toekennings, so kort na mekaar, wek die indruk dat die Akademie probeer het om, heeltemal te laat, erkenning aan een van die invloedrykste Afrikaanse skrywers te gee. Brink was een van die leiers van die Sestigers, daardie skrywers wat gedurende die jare sestig ’n radikale vernuwing in die Afrikaanse letterkunde teweeggebring het. Sy Lobola vir die lewe (1962), Die ambassadeur (1963) en Orgie (1965) was al drie grensverskuiwende werke binne die Afrikaanse romankuns, maar is nooit met die Hertzogprys bekroon nie – ’n onvergeeflike fout, veral in die lig daarvan dat die Hertzogprys glad nie in 1967 toegeken is nie!
Sterk beïnvloed deur die Franse nouveau roman en die eksistensialistiese denke van Camus, het Brink met die realistiese tradisie in die Afrikaanse romankuns gebreek. In aansluiting by die modernistiese kunstradisie word sy romans uit die jare sestig gekenmerk deur verset teen burgerlike waardes. Hy het talle taboes verbreek, openlik oor seks geskryf en bekrompe godsdienstige en politieke beskouings bevraagteken in ’n poging om menslike bestaan opnuut te bedink.
Gedurende die 1970’s het Brink se uitdaging van die burgerlike moraliteit en veral sy openlike aanvalle op die apartheidsbeleid daartoe gelei dat Kennis van die aand (1973) verbied is. Romans uit die 1970’s en 1980’s soos ’n Oomblik in die wind (1975), Gerugte van reën (1978), ’n Droë wit seisoen (1979) en Houd-den-bek (1992) is nooit met die Hertzogprys bekroon nie, ten spyte daarvan dat hierdie werke ’n groot vormende invloed op baie Afrikaanse lesers se denke gehad het en telkens baie goed in die buiteland ontvang is.
Brink se werk is voortdurend met die verlede gemoeid. Herhaaldelik ondersoek hy die koloniale verlede, die verlede van slawerny, die geskiedenisse van families. Deur sekere maniere waarop in die verlede na mense gekyk is, te belig en deur te wys hoe die wêreld toe verstaan is, word die leser daarvan bewus dat hierdie maniere van kyk steeds in ons samelewing voorkom. Maar veral word ’n mens daarvan bewus gemaak dat hierdie maniere waarop mense en die wêreld beskou word, slegs enkele maniere van kyk en verstaan is en dat daar ander moontlikhede bestaan. Meer nog: dat hierdie maniere van kyk en verstaan deur mense uitgedink is en dat dit dus nie onkrities as ’n vaste gegewe aanvaar hoef te word nie. Veral romans soos Inteendeel (1993), Sandkastele (1995) en Duiwelskloof (1998) maak ’n mens telkens daarvan bewus dat sekere maniere van verstaan van ons samelewing as vanselfsprekend aanvaar word, terwyl dit eintlik verwerplik is.
Een konstante lyn deur Brink se oeuvre is sy karakters se voortdurende verwerping van die beperkings wat deur hul wêreld op hulle geplaas word. Josef in Kennis van die aand, Galant in Houd-den-bek, Kristien in Sandkastele, Kupido Kakkerlak in Bidsprinkaan, Hanna X in Anderkant die stilte sê almal, saam met Estienne Barbier in Inteendeel: “intééndeel”. Hulle verwerp telkens die wêreld wat deur slaweeienaars, geestelike leiers, deur politieke leiers, deur amptenare, deur die patriargie aan hulle voorgehou word. Hul opstand lei dikwels tot hul eie ondergang, maar is altyd ’n oorwinning.
Soos Brink se karakters, sê sy romans ook “inteendeel”. Hy wys telkens in sy romans dat diegene in magsposisies se manier van kyk slegs één perspektief op die wêreld is en dat daar ook ander perspektiewe moontlik is.