Sommige siniese mense mag jou dalk afraai om Philida te lees. Dit sal ‘n fout wees om na hulle te luister
Sommige siniese mense mag jou dalk afraai om Philida te lees. Dit sal ’n fout wees om na hulle te luister
André P Brink se 21ste roman, Philida, is soos Houdden- bek ’n “slaweroman”. Waar Houd-den-bek oor die slaweopstand in die Bokkeveld in die 1820’s gaan, speel Philida ’n paar jaar later af, van 1832 tot aan die einde van 1835, toe slawe aan die Kaap uiteindelik vrygestel is.
Philida is ’n slavin op die plaas Zandvliet, toentertyd in besit van Cornelis Brink (’n broer van André P Brink se eie voorvader). Cornelis se seun, Frans, het oor jare heen ’n verhouding met Philida en hulle het selfs vier kinders saam. Wanneer hy egter nie bereid is om haar vryheid te koop en met haar te trou nie, kla sy hom by die owerhede aan. Cornelis Brink (self ’n kind wat deur sy pa by ’n slavin verwek is – soos wat dikwels in die Kaap gebeur het, maar waaroor ons geskiedenisboeke veral tydens die opkoms van Afrikanernasionalisme geswyg het) wil sy seun met die dogter van ’n vooraanstaande Kapenaar laat trou – sodat sy nageslag wit kan wees, maar ook ter wille van die ekonomiese redding wat so ’n huwelik vir Zandvliet kan inhou.
Sommige siniese mense mag jou dalk afraai om Philida te lees. Dit sal ’n fout wees om na hulle te luister. Brink is ’n meesterverteller en die storie word boeiend vertel. Slawerny is nie ’n vrolike onderwerp nie en die wrede werklikheid daarvan word sonder terughouding uitgebeeld. Die uitbeelding van hierdie afgryslikhede sou vinnig vir ’n leser ondraaglik kon word, maar dit word afgewissel met skreeusnaakse vertellings (al is dit galgehumor), en daar is ook iets magies en betowerends in die vertelling.
Die historiese stof bied aan die leser ’n ervaring van die lewenswyse van destyds. Die roman is in drie verdeel. In die eerste deel kom Philida, Frans, Cornelis en Ouma Nella om die beurt aan die woord en word dieselfde gebeurtenisse van verskillende kante belig. In die tweede deel is ’n ander verteller aan die woord, wat “van buite” die ervarings van Philida op Worcester tot die uiteindelike vrystelling van die slawe beskryf. In die laaste deel is Philida self weer aan die woord. Soos altyd in Brink se romans, val die klem op vryheid. Philida besef uiteindelik dat vryheid nie nét met die slawewette te doen het nie. Onvryheid bestaan nie slegs omdat ander mense vry is om jou te hiet en gebied nie. Vryheid het óók te doen met ’n manier van dink oor ’n mens self, en met die vermoë om ’n ander moontlike manier van bestaan te kan verbeel.
Uiteindelik word ’n mens selfs, ten spyte van sy absoluut verwerplike wreedheid, deur iets in Cornelis Brink ontroer. Hy besef dat daar nie eintlik enigiets is om aan vas te hou nie, dat sy baasskap gaan verval en dat die plaas nie werklik sy eie is nie, maar soos ’n tragiese held hou hy vas aan die idee van sy eie baasskap omdat hy nie in staat is om enige alternatiewe manier van bestaan te bedink nie. Ook Frans verraai sy liefde vir Philida en draai sy rug op sy eie kinders, omdat hy nie in staat is om ’n ander lewe as dié wat deur die gemeenskap voorgeskryf word, te bedink nie.
Die roman gaan miskien oor slawerny van byna twee eeue gelede en bied insigte in die invloed daarvan op ons land se geskiedenis, maar dit gaan ook om meer. Die roman konfronteer die leser met sy of haar eie opvattings van vryheid en daag die leser uiteindelik uit om kreatief met die huidige situasie om te gaan. Want as ’n mens net op een manier aanhou dink, brei jy, soos Ouma Nella vir Philida gesê het, vir jouself ’n galgtou.