Die Hertzogprys is twee keer aan Etienne Leroux se werk toegeken en albei kere het ‘n groot bohaai daarop gevolg
Die Hertzogprys is twee keer aan Etienne Leroux se werk toegeken en albei kere het ’n groot bohaai daarop gevolg
Daar bestaan weinig twyfel dat Etienne Leroux een van die vernuwendste Afrikaanse skrywers van die 1960’s was. Sy eerste drie romans, Die eerste lewe van Colet (1955), Hilaria (1957) en Die mugu (1959) was reeds deel van die Sestigerskrywers se duidelike breuk met die ouer Afrikaanse literatuur. Hierin kom tipiese “outsider”-karakters voor – karakters wat radikaal verskil van die karakters uit die ouer Afrikaanse literatuur wat meestal in ’n (beskermende) samelewing ingebed was. Talle lesers is ook ontstel deur die openlike manier waarop oor seks in hierde romans geskryf is.
Sewe dae by die Silbersteins het in 1962 verskyn en die reaksie daarop het Afrikaanse lesers verdeel. Nadat die Hertzogprys egter in 1964 daaraan toegeken is, het omstredenheid gevolg wat tot ’n breuk tussen sommige van die ouer en die jonger Afrikaanse literatore en tussen baie “gewone” lesers en “literêre” lesers sou lei. In die media (deur onder meer georkestreerde briewe) is die indruk gewek dat Sewe dae by die Silbersteins (soos die ander Sestigerwerke) die Christelike lewenswaardes van Afrikaners ondermyn. Die roman is selfs as gevaarlik beskou omdat dit deur die vermeende pornografiese en immorele aard daarvan Christene sou laat struikel.
Gevestigde literatore soos AP Grové en FIJ van Rensburg het wel waardering gehad vir die vernuwing wat hierdie roman ten opsigte van vorm (vertelwyse, taalgebruik, struktuur) gebring het, maar hulle het hulle uitgespreek teen wat na hul mening Afrikanerwaardes met “halfsagte humanisme” en die “skeeftrekking” van seks en religie uitgedaag het. Gevolglik het ’n verwydering tussen hierdie literatore en die Sestigerskrywers ontstaan. Talle jonger literatore het egter juis in hierdie tyd vir die Sestigers in die bres getree. Elize Botha het byvoorbeeld Sewe dae by die Silbersteins tydens ’n radiogesprek wat destyds alle luistergetalrekords gebreek het, teen ander literatore en teoloë verdedig.
In hierdie roman het Leroux die probleme van die mens se bestaan in die moderne wêreld met ’n verrassende mengsel van erns, ironie en humor ondersoek. Enige vanselfsprekende aanvaarding van vaste waarhede word in die roman uitgedaag. Opvattings oor die waarheid, lewensin en goed en kwaad word telkens as mensgemaakte opvattings, eerder as ewige waarhede ontmasker. Al die “beelde van waarheid” is bloot “geskepte beelde” – mensgemaak. Ook tegnologie, waarop die moderne samelewing reken, word as onmagtig om sin aan menslike bestaan te gee, blootgelê. Soos die “vlekkelose” Henry van Eeden nie weer sy onskuld kan herwin nie, kan die moderne mens nie meer sonder vrae aan “Die Waarheid” vashou nie.
Teen die slot van Sewe dae by die Silbersteins word na ’n ander, nuwer “beeld van waarheid” uitgesien. In sy daaropvolgende romans het Leroux telkens bly soek na ’n “nuwe mite” waarvolgens die moderne mens kan leef. Sommige van hierdie romans was – juis weens die moeilike mitologiese verwysings daarin – vir baie lesers moeilik om te lees. 18-44, wat in 1969 verskyn het, is egter ’n gunsteling onder baie Leroux-aanhangers. Met die toeken van die Hertzogprys in 1979 aan Magersfontein, o Magersfontein! (1976) was gemoedere weer gaande. Dit is die enigste keer wat ’n Hertzogprys aan ’n verbode boek toegeken is. Die roman gaan oor ’n rolprentspan wat in 1974 probeer om ’n rolprent oor die historiese slag van Magersfontein, ’n belangrike veldslag uit die Anglo-Boereoorlog, te maak. Dit is tot vandag toe een van die snaaksste Afrikaanse romans, ’n “tragikomedie”, waarin byna alles wat kan skeefloop wel skeefloop en uiteindelik gaan alles onder in die groot oorstroming van 1974. Karakters soos Spietkop le Grange, Gert Garies en Marygold Rosemary bly die leser by. In 1977 het die Publikasieraad die roman verbied op grond daarvan dat dit “onbetaamlik, onwelvoeglik en vir die openbare sedes aanstootlik is” en dat dit skadelik kan wees vir “die gevoelens of oortuigings van Christene”. Die verbod is eers in 1980 opgehef en as ’n mens vandag die roman lees, kan jy beswaarlik glo dat daar so ’n bohaai daaroor was. Leroux se romans het egter, deur die raak inskatting van die mens se krisis in die moderne samelewing en die uitbundige en vernuwende beskrywing daarvan, ’n invloed wat al die omstredenheid oorleef het en steeds as hoogtepunte in die Afrikaanse letterkunde staan.