Willie Burger vertel ons meer van vanjaar se Nobelpryswenner, Mario Varga Llosa, en sy werk
Aunt Julia and the scriptwriter was die eerste boek van Mario Vargas Llosa wat ek gelees het. Ek het pas die wonder van Suid-Amerikaanse letterkunde met die lees van García Márquez se One hundred years of solitude ontdek. Daar het eensklaps ’n ander wêreld vir my oopgegaan. Die woedende sosiale verset met ’n absolute minagting vir realisme, ’n onblusbare sin vir humor en die voortdurende wek van verwondering het my laat besluit om meer skrywers uit Latyns-Amerika te lees. Toe vind ek Llosa.
Aunt Julia and the scriptwriter het my verstom. Die vermenging van die verbeelde wêreld van die radiosepies en die wêreld van die jong skrywer wat op sy veel ouer tant Julia verlief raak, was vir my skreeusnaaks en ek kon nie wag om nog ’n boek van Llosa te lees nie. In 1990 is ook ’n rolprent van Aunt Julia and the scriptwriter gemaak met Peter Falk (die speurder van die Columbo-reeks) in die hoofrol. Dit was ook baie snaaks, hoewel dit heeltemal van die roman afgewyk het.
Toe ek dus aan The war at the end of the world begin lees met die verwagting om weer soos met Aunt Julia vermaak te word, is ek heeltemal oorbluf deur die erns van die roman. Dit is ’n historiese roman, gegrond op ’n 19de eeuse gebeurtenis in Brasilië. In ’n tyd van ekonomiese krisis, armoede, droogte en politieke onsekerheid kry ’n dinamiese spreker met eenvoudige godsdienstige retoriek dit reg om ’n groot deel van die bevolking in ’n afgeleë deel van Brasilië te oortuig dat die einde van die wêreld naby is. Hulle bou ’n sterk vesting en slaan herhaalde aanvalle deur die regering se leër af. In hierdie roman is daar niks van die ligte aanslag van Aunt Julia nie. Die donker, bloedige kant van fanatiese optrede word op onthutsende manier ondersoek.
’n meester waarin drie
storielyne vervleg word
Llosa se The feast of the goat geskryf in 2000) is soos The war at the end of the world ’n soort historiese roman. Hierin word die skrikwekkende diktatuur van Rafael Leónidas Trujillo in die Dominikaanse Republiek beskryf. Dit is een van die skokkendste stukke literatuur wat lig werp op diktature in Latyns-Amerika. Trujillo het in 1930 (met steun van die VSA) aan bewind gekom en het die Dominikaanse Republiek met ’n ysterhand regeer tot hy in 1961 in ’n sluipmoordaanval dood is. Die drie dekades was bloedig en duisende mense het sonder meer verdwyn en is tereggestel. Llosa ondersoek in die roman onder meer die sielkundige redes agter Trujillo se optrede. Die roman is ’n vertelling van ’n meester waarin drie storielyne vervleg word – van ’n meisie wat ná die sluipmoord terugkeer na haar vaderland waaruit sy tydens die diktatuur gevlug het, die verhale van twee sluipmoordenaars en die verhaal van Trujillo se laaste rukkie tot sy sluipmoord.
Llosa was soos die meeste Suid-Amerikaanse skrywers ook aktief by die politiek betrokke en het in 1990 homself selfs (onsuksesvol) as presidensiële kandidaat in Peru beskikbaar gestel.
In 2009 het ek die geleentheid gehad om Peru te besoek en dit is opvallend hoe hoog skrywers en letterkunde in dié land geag word. In Lima kon ek selfs die Biblioteca Mario Vargas Llosa besoek. In Lima het ek ook my Engelse vertaling van The feast of the goat gekoop. Op die agterblad van dié sagtebanduitgawe is ’n aanhaling uit ’n resensie wat voorspel dat die Nobelprys nie meer ver weg van Llosa kan wees nie. Minder as ’n jaar later het die voorspelling waar geword.
Kyk gerus die video van Aunt Julia and the scriptwriter. Nog beter: Lees die boek. Dit is snaaks en vrolik en gee insae in die werkings van die liefde, kreatiwiteit en die verhouding tussen verbeelding en werklikheid. As jy nuuskiering oor Latyns-Amerikaanse geskiedenis en politiek is, of sommer net oor hoe mense in vrees reageer of mag misbruik, pak gerus een van dié historiese romans. Vk