Die Nobelpryswenner Günter Grass is ongetwyfeld die bekendste Duitse skrywer van ná die Tweede Wêreldoorlog
Günter Grass se onvergeetlike roman Die Blechtrommel (The Tin Drum 1959), is een van die belangrikste romans van die 20ste eeu.
Die verhaal strek oor die opkoms van die Nazi-mag in die 1920’s, tot ná die Tweede Wêreldoorlog. Die hoofkarakter is Oskar, wat vroeg in die jare vyftig in ’n sielsieke inrigting sy lewensverhaal vertel. Hy vertel dat hy op die ouderdom van drie besluit het om op te hou groei nadat hy gehoor het sy pa sê dat hy, wanneer hy eendag groot is, ’n kruidenier moet wees.
Die boek is soms skreeusnaaks, soms spottend, altyd boeiend, ’n aanklag teen oorlog, maar laat jou ook nadink oor die rol van kuns in ’n krisistyd.
Die tema van skuld staan sentraal in baie Duitse werke. In sy outobiografie (Peeling the onion) skryf Grass só oor skuld:
“One word evokes the other: Schulden, Schuld, debts, guilt. Two words so close and so deeply rooted in the soil of the German language. But while debts can be mitigated by installment payments, long term as they may be, guilt – whether proven, presumed, or concealed – remains, ticking on and on, and holds its place, even on journeys to nowhere. It says its piece, fears no repetition, is mercifully forgotten for a time, hibernates in dreams. It remains as sediment – not a stain to be removed or a spill to be wiped away.”
skreeusnaaks, soms spottend,
maar dit boei en laat jou
nadink oor die rol
van kuns in ’n krisistyd
Die beeld wat Grass deur die titel, Peeling the onion, oproep, is dat ’n ondersoek na die verlede is soos om ’n ui te skil. Tyd word laag vir laag afgetrek. Oor sy eie verlede skryf Grass dat hy, soos hy skil vir skil na die verlede probeer deurdring, hy deurgaans één inskripsie kan lees: “There it is, as the onion sheds skin after skin, permanently inscribed on the youngest skins, now in capital letters, now in a subordinate clause or footnote, now clear and legible, now in barely decipherable hieroglyphics. The brief inscription for me reads: I kept silent.”
In Im Krebsgang (in Afrikaans vertaal as Kreeftegang) word beskryf hoe die Wilhelm Gustloff, ’n luukse Duitse passasierskip met nagenoeg 9 000 vlugtelinge aan boord (hoofsaaklik burgerlikes en kinders), deur ’n Russiese duikboot tydens die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog gekelder is. Gemeet aan die verlies van menselewens, was dit ’n veel groter katastrofe as die Titanic-ramp. Nietemin is dié stuk geskiedenis grootliks onbekend aangesien daar, ná die einde van die oorlog, geen simpatie met Duitsers was nie.
Grass bekyk hierdie byna taboe-onderwerp deur drie generasies se reaksie daarop te beskryf en sodoende word die Duitse worsteling met die verlede ondersoek. Dit is ’n boek waaruit Suid-Afrikaners (en veral Afrikaners) veel kan leer oor hoe met die verlede omgegaan kan word.
Grass het arm grootgeword in Danzig (deesdae Gdansk). As 15-jarige is hy tydens die oorlog in die Waffen SS opgeneem en word hy ná ’n baie skrapse opleiding na die Russiese front gestuur. Tydens die eerste geveg waarin sy eenheid betrokke raak, word hy van die res van sy makkers afgesny. Hoewel hy oorleef, is hy in ’n netelige posisie – kry die Russe hom, is hy dood, maar omdat hy alleen is, vrees hy dat hy deur ander Duitse soldate as ’n droster beskou sal word en summier tereggestel sal word.
Ná vele omswerwinge en die opdoen van ’n wond, beland hy aan die einde van die oorlog uiteindelik in ’n Amerikaanse kamp. Ná sy vrylating werk hy onder meer op plase, in ’n steenkoolmyn en word hy as beeldhouer opgelei. Hy probeer ook skilder, maar uiteindelik word hy woordkunstenaar. Sy motivering om te begin skryf?
“The most reliable driving force was probably my petit-bourgeois background, the desire – a musty megalomania aggravated by the fact that I didn’t finish school, that I had three years to go – to produce something stupendous. But there was another, equally important motivation: after I found the first sentence at that dripping wall, the words never stopped coming.”
Hy het in 1999 die Nobelprys ontvang. Vk