Willie Burger kyk na Alice Munro, Nobelpryswenner van 2013 se wenner
Die een voordeel van literêre pryse is dat dit dikwels ’n manier is om van ’n skrywer te hoor. Toe Alice Munro in Oktober as die Nobelpryswenner aangekondig is, het ek vir die eerste keer met haar werk kennis gemaak. Die 82-jarige Munro het 14 kortverhaalbundels geskryf. Romanskrywers en digters wen oor die algemeen veel eerder pryse as kortverhaalskrywers. Daar is egter ’n goeie rede waarom sy die prys ontvang het. Reeds halfpad deur die eerste kortverhaal – gou op my Kindle afgelaai ná die aankondiging dat sy die Nobelprys ontvang het – was ek oortuig dat die Nobelkommissie nie ’n fout gemaak het nie. Eintlik het ek al vergeet hoe ’n groot impak kortverhale kan hê, maar dan is dit slegs wanneer dit hierdie soort kortverhaal is. Die woorde “soort kortverhaal” is egter swak gekies, want Munro se kortverhale is nie sonder meer as ’n spesifieke “soort” verhaal vas te pen nie. Kritici vergelyk dikwels haar werk met dié van Tsjechof. Soos in sy werk, is daar by haar meestal nie sprake van groot dramatiese handelinge nie. Atmosfeer staan dikwels sentraal. Die atmosfeer word deur skynbaar onbenullige beskrywings, oënskynlik onbelangrike opmerkings geskep en geleidelik kom ’n emosionele wêreld tot stand wat nie sonder meer ’n naam gegee kan word nie, maar wat die leser ervaar. ’n Enkele belewenis, ’n gewaarwording, lei dikwels tot ’n moment van helder insig, ’n deurslaggewende besef. Die gebeurtenis self is dalk onbenullig, maar die insig waartoe die karakter kom – en waartoe jy as leser kom – is deurslaggewend. Die meeste verhale speel teen die agtergrond van die Kanadese platteland of kleiner stede af. (Munro is die eerste Kanadees wat die Nobelprys vir letterkunde ontvang.) Verhoudings tussen karakters word selde eksplisiet beskryf. Veel eerder ervaar die leser self die spanning, die toegeneentheid of die weersin tussen karakters uit ’n terloopse opmerking, die beskrywing van enkele handelings of ’n paar woorde dialoog. In “Walker Brothers Cowboy”, byvoorbeeld, vertel ’n jong meisie hoedat sy en haar boetie saam met hul pa, ’n deur-totdeur- verkoper, van plaashuis tot plaashuis ry en telkens in die kar vir hom wag. Die spanning tussen hul ouers word nooit uitgespel nie en die kind se perspektief op die ouers getuig van ’n begrypende onbegrip – sy voel iets aan, maar weet nie presies wat nie. Wanneeer hulle op pad terug huis toe by ’n onbekende vrou se huis aandoen, blyk dit dat haar pa en die vrou mekaar geken het voordat hy getroud was. Uit die kind se perspektief word die sorgvrye oomblikke van saam whisky drink en lag en dans byna as neutrale waarnemings beskryf, maar tog met betekenis gelaai. Op pad terug dink sy: “My father does not say anything to me about not mentioning things at home, but I know, just from the thoughtfulness, the pause when he passes licorice, that there are things not to be mentioned. The whisky, maybe the dancing.” Met weinig woorde word telkens ongelooflik veel gesê. Dit is verstommend hoe kompleks die karakters is wanneer ’n mens in gedagte hou hoe kort die verhale eintlik is. In een verhaal word ’n ou musiekonderwyseres beskryf wat al baie jare lank jaarliks vir haar leerlinge en hul ma’s ’n partytjie hou waartydens al die dogtertjies optree. Die hele verhaal bou op om die ou klavieronderwyseres se geleidelike agteruitgang en haar onvermoë om kinders suksesvol te onderrig omdat sy hulle nooit op foute kan wys nie. Haar vreemde jaarlikse “partytjies”, waartydens haar leerlinge hortend deur hul musiekstukke worstel, sowel as haar voorkoms en gedrag, dui daarop dat sy heeltemal uit voeling is met die wêreld waarin sy leef. Haar wêreldvreemdheid lei ook tot haar ekonomiese agteruitgang. Die “laaste” konsert verloop soos altyd totdat een kind onverwags buitengewone spel lewer – ’n betowerende uitvoering van “Dance of the Happy Shades”. Vir ’n oomblik word almal deur die musiek meegevoer, maar dan gaan hulle weer hul gang en vergeet van die talentvolle meisie omdat sy uit ’n skool vir verstandelik gestremde kinders kom. Op tipiese Munro-wyse begin die laaste paragraaf met “But”. Wanneer almal huis toe ry en besef dat dit waarskynlik die ou sukkelende onderwyseres se laaste partytjie was, kry niemand dit reg om bejammerend teenoor haar te wees nie: “Why is it that we are unable to say – as we must have expected to say – Poor Miss Marsalles?” Die verteller besef dat dit daardie een talentvolle kind se uitvoering was wat hulle daarvan weerhou: “It is the Dance of the Happy Shades that prevents us, it is that one communiqué from the other country where she lives.” Munro laat ’n mens in die kortverhaal se krag glo. Sy slaag daarin om meer kompleksiteit in een kortverhaal te pak as wat baie skrywers in ’n roman regkry. Ek het wel duim vasgehou vir ander benoemdes om hierdie jaar die Nobelprys te kry, maar ek is bly Alice Munro het, want anders het ek dalk nooit van haar geweet nie. Vk