Al is Karel Schoeman dalk nie so bekend soos sy Suid-Afrikaanse tydgenote nie, is die Hertzogprys tog drie keer aan hom toegeken
Al is Karel Schoeman dalk nie so bekend soos sy Suid-Afrikaanse tydgenote nie, is die Hertzogprys tog drie keer aan hom toegeken
Karel Schoeman het vir ’n groot deel van sy lewe in die buiteland gewoon. Hy was van 1961 tot 1964 in Ierland en sy ervarings in hierdie tyd het in sy Ierse dagboeke neerslag gevind en ook later in die roman, By fakkellig, waarvoor hy in 1970 saam met ’n Lug vol helder wolke en Spiraal die Hertzogprys gekry het. Hy het kortstondig na Suid-Afrika teruggekeer, maar het in 1968 weer na Nederland vertrek. Daar het hy as bibliotekaris in Amsterdam gewerk totdat hy in 1973 in Glasgow as verpleër gaan werk het.
In 1976, toe die politieke spanning in Suid-Afrika gewelddadig begin oorkook het, het Schoeman besluit om na Suid- Afrika terug te keer. Tydens ’n kort verblyf in Bloemfontein het dit hom opgeval hoe talle historiese geboue reeds verdwyn het, en hoe die geskiedenis van dié stad vergete raak. Hy het toe ’n boek oor Bloemfontein saamgestel om iets van die erfenis te bewaar voordat dit vir altyd verlore sou wees.
Hierdie drang om die verlede op te teken voor dit verlore gaan, is waarskynlik verder gevoed deur sy werk as argivaris in die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad waar hy van 1982 tot met sy aftrede in 1999 gewerk het. Sy bemoeienis met die verlede het uiteindelik tot meer as 50 boeke oor die geskiedenis van Suid-Afrika gelei. Sy historiese navorsing fokus telkens op die “klein geskiedenisse”: die slavinne, die sendelinge, vroue soos Machtelt Smit en ook op ’n bekende skrywer soos Olive Schreiner en in Die wêreld van die digter oor die omgewing waarin NP van Wyk Louw grootgeword het.
Sy 18 romans is ook dikwels met die verlede gemoeid. Agter die drang om te onthou, om te keer dat alles in die vergetelheid verdwyn, lê die vraag oor die plek van Europese kultuur in Afrika. Deur die ondersoek van die geskiedenis van blankevestiging in Suid-Afrika word die plek van en die moontlikhede vir die nageslagte van hierdie setlaars bedink.
In By fakkellig word die Ierse historiese agtergrond as allegorie gebruik om kommentaar op die Suid-Afrikaanse situasie te lewer, maar in Na die geliefde land (1972) word ’n toekomsbeeld van ’n Suid-Afrika gegee waarin Afrikaners nie meer in beheer is nie. Talle Afrikaners het reeds die land verlaat terwyl sommige hardnekkig vasklou aan ’n sukkelbestaan op plase en wat hulle (byna soos die skuldiges in die Boeremagverhoor) op naïewe manier met mag wil verset. Hierdie roman het in ons tyd, 40 jaar later, steeds ’n onthutsende varsheid.
’n Ander land (1984) wat ook in 1986 met die Hertzogprys bekroon is, is seker een van die hoogtepunte in die Afrikaanse literatuur van die jare tagtig, maar dit is veral in sy “stemme-drieluik” (Verliesfontein, Hierdie lewe (Hertzogprys in 1995) en Die uur van die engel) waar Schoeman op sy heel beste is. In al sy romans, maar veral in hierdie drieluik en in Verkenning, gee Schoeman ’n stem aan opsygeskuifde, geïgnoreerde, ongeagte individue: ’n vergete ou vrou, ’n kruppel klerk, ’n buitelandse besoeker, ’n ongeletterde skaapwagter. Hierdie stemme word gehoor uit die donker, uit die verlede wat ’n ander, vreemde land is, en hulle dring daarop aan om onthou te word, om sin te probeer maak van alles wat verbygaan. Byna al Schoeman se karakters is hoogs sensitiewe individue wat in ’n oorweldigende en vyandige omgewing probeer om te onthou, om sin te maak van hierdie lewe.
Benewens die Hertzogprys het hy ook talle ander pryse vir sy romans sowel as sy niefiksie ontvang en hy is ook in Frankryk met die Prix Amphi bekroon vir die Franse vertaling van Afskeid en vertrek en die Prix du Meilleur Livre Étranger vir Hierdie lewe se vertaling.