Orhan Pamuk glo ‘n goeie roman maak jou oë oop vir dinge wat jy reeds weet, maar nie kan aanvaar nie
Een van die redes waarom mense lees, is dat dit jou dikwels in staat stel om na ander lande te reis en om ander dele van die wêreld te verken. Die Nobelpryswenner van 2006, Orhan Pamuk, is ’n skrywer deur wie se werk die Turkse wêreld vir lesers van regoor die wêreld oopgemaak is.
Sy boek oor Istanbul bied in veertig tale vir Pamuk se miljoene lesers ’n wonderbaarlike reis deur hierdie stad. Die varsheid van die roman lê daarin dat Pamuk ’n soort lang besinning oor die stad en die manier waarop Istanbul deur ander (Westerse) skrywers dikwels op romantiese wyse beskryf en besing is, laat saamvloei met ’n outobiografiese verhaal oor sy grootwordjare in hierdie stad. Istanbul as ontmoeting tussen Oos en Wes; tussen Europese romantiek en ’n Islamitiese omgewing, bied ’n hoogs oorspronklike en stimulerende werk wat enige leser inspireer om eendag Istanbul te besoek.
Ek het van Pamuk gehoor toe hy die Nobelprys gewen het en is by die boekwinkel aanbeveel om My name is Red te lees. Die roman herinner nogal aan Umberto Eco se The name of the rose. Dit is ook ’n soort speurverhaal, met ’n sterk spanningslyn, terwyl die gebeure ook in ’n vervloë era met sterk godsdienstige taboes afspeel – Eco se roman in ’n Middeleeuse kasteel in Italië, Pamuk s’n in die 15de/16de eeuse Persië.
Sentraal in die roman is die kunstenaars wat die boeke in opdrag van die regerende sjah moes illustreer. Hierdie illustrasies en die manier waarop hulle gemaak is, word breedvoerig in My name is Red beskryf. In die proses gaan ’n boeiende wêreld vir die leser oop.
Met ’n eerste lees van My name is Red, lees ’n mens al hoe haastiger. Dit is ’n spannende speurverhaal met moorde en geheime en ’n mens wil graag sien hoe die geheime ontknoop, maar as jy versigtiger en stadiger lees en ’n bietjie langer oor die beskrywings van die illustreerders se werk nadink, word die leser ook gedwing om na te dink oor die manier waarop ons enigiets afbeeld, weergee en vertel.
In die Islamitiese wêreld van die 16de eeu geld daar ’n verbod op kuns wat enigiets spesifieks afbeeld. ’n Illustreerder durf nie ’n spesifieke perd teken nie, bloot ’n generiese perd en die mense in die illustrasies kan nie herkenbare individue wees nie. Die oortreding van hierdie taboes in die Islamitiese wêreld lei tot die speurverhaal, die spanning in die roman. Enersyds raak ’n mens bewus van die manier waarop en die redes waarom Islam agterdogtig teenoor kuns en kreatiwiteit is, maar andersyds word ’n mens al meer daarvan bewus gemaak en gedwing om na te dink oor hoe ons ook ons wêreld vir onsself verstaanbaar maak deur die maniere waarop ons dit vir onsself afbeeld.
Pamuk skryf in ’n voorwoord wat hy vir die Turkse uitgawe van Sterne se Tristram Shandy oor die rol van die romankuns geskryf het: “Novels are only as valuable as the questions they raise about the shape and nature of life,” skryf hy. Hierdie vrae word nie direk deur romanskrywers aangeroer deur wat karakters kwytraak of doen of deur die verteller se verduidelikings nie. Vir Pamuk maak dit nie saak of die roman oor die lewe se klein en alledaagse besonderhede of oor die beskrywings van die groot gebeurtenisse gaan nie – die belangrikste vrae oor hoe die lewe is, blyk uit die struktuur van die romans, uit die taalgebruik, die atmosfeer, die toon.
“Until reading a particular novel, we’ve had our own ideas about life – ideas confirmed by ordinary novels (romantic melodramas that are assumed to evoke the true feeling of love, political melodramas in which complaints masquerade as politics, and all those tales that have for the last thousand years been telling us over and over that the good people who once populated the earth have been replaced by evil-minded mercenaries) – but in a great novel, the author offers us a new way of understanding life.”
Later nuanseer Pamuk hierdie stelling: “All great novels open your eyes to things you already knew but could not accept, simply because no great novel had yet opened your eyes to them.”
Pamuk se romans het iets hiervan in hulle. Hulle maak die leser se oë vir ’n ander wêreld oop en daarom ’n ander verstaan van jou eie wêreld. Vk