Gabriel García Márque, Nobelpryswenner in 1982, maak ander maniere van vorentoe kyk en leef moontlik
“Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendía was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enourmous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.”
Hierdie eerste sinne van Gabriel García Márquez se roman, Cien años de soledad (1967) (Honderd jaar van eensaamheid) bly een van my gunstelingromanbeginne. In hierdie opening lê reeds iets van die rede waarom Márquez so ’n gewilde skrywer is en waarom die Nobelprys in 1982 aan hom toegeken is. Sy romans word meestal as die standaardvoorbeeld van “magiese realisme” voorgehou. Magiese realisme word gekenmerk deur ’n buitengewone opvatting van die werklikheid, gepaard met ’n ongebreidelde verbeelding wat die reëls van geloofwaardigheid ondermyn, maar wat op ’n vreemde manier tóg geloofwaardig en oortuigend is.
In Cien años de soledad (bekend in die Engelse vertaling as One hundred years of solitude) word die betowering waartoe Suid-Amerikaanse skrywers in staat is tot ’n hoogtepunt gevoer.
In sy outobiografie, Living to tell the tale, skryf Márquez hoe hy sy eerste suksesvolle kortverhaal geskryf het. Hy het as joernalis in Bogota, Colombië, gewerk en geprobeer om kortverhale te skryf. Een aand laat op pad na ’n vriend, was hy die enigste passasier op ’n bus wat verby die begraafplaas gery het. By een van die verlate bushaltes het ’n sater (halfbok, halfmens) in die bus geklim, verby hom geloop en ’n plek ingeneem. Márquez skryf dat hy selfs die swaelreuk van die sater se asem kon ruik. By die begraafplaashalte het die sater weer doodluiters afgeklim en in die donker verdwyn. Net daar het Márquez ontdek hoe om te skryf.
Natuurlik is dit juis hierdie soort beskrywings wat magies-realistiese werk kenmerk. Wat Márquez dus in sy outobiografie beweer, is dat die magiese in magiese realisme vir hom eintlik realisme is – sý werklikheid. Dit is waarskynlik sy vermoë om die werklikheid só te ervaar wat sy skryfwerk so oortuigend maak.
Márquez het nie uitsluitlik magies-realistiese werke geskryf nie. Hy het as joernalis by ’n kleinerige koerant reeds in 1955 sy slag as verteller gewys toe hy in ’n reeks artikels die storie vertel het van ’n Colombiaanse oorlogskip wat gesink het. Slegs een matroos het die seeramp oorleef. Márquez het op grond van onderhoude met die matroos die hele storie van sy oorlewing op see vertel. Die koerant se sirkulasie het die hoogte ingeskiet. Die “vervolgverhaal” is later as The story of a shipwrecked sailor (1970) gepubliseer. In die proses word ook onthul waarom die skip vergaan het en hoe die Colombiaanse regering probeer het om die oorsake toe te smeer.
Hieruit is duidelik dat Márquez se werk altyd ook by die politiek betrokke is – nie slegs van Colombië nie, maar ook in die wyer Suid-Amerikaanse toneel, soos uit die dokumentêre verhale Clandistine in Chile en News of a kidnapping blyk wat in die hande van die meesterverteller soos meesleurende romans lees.
Vir die meeste lesers is dit romans soos One hundred years of solitude en Love in the time of cholera of die kortverhale in Of love and other demons of Innocent Eréndira wat hulle telkens in verwondering laat. Soms voel dit vir my of sommige skrywers een enkele storietjie het om te vertel en dit met groot moeite doen. By Márquez kry ’n mens die indruk dat daar sommer in elke paragraaf genoeg stof vir ’n hele roman lê; dat hy betowerende stories byna argeloos in die verbygaan uitstrooi. Dit is juis hierdie oorvloed van boeiende stories op elke bladsy wat sy lesers in verwondering laat voortlees.
Márquez is die meester van hóé onthou word en hóé die herinnerings vertel word – herinnerings van die liefde, van die persoonlike en van die groter geskiedenis. Vk