Willie Burger skryf oor die groot pryswenners van die jaar
Willie Burger
Een van die kenmerke van literêre fiksie van die afgelope tyd is die toenemende vervaging van die grense tussen fiksie en nie-fiksie. Een van die belangrikste boeke wat byvoorbeeld in Afrikaans verskyn het, is Stephanus Muller se Nagmusiek – ‘n werk wat vir sowel die Rapportprys vir fiksie as vir die Rapportprys vir nie-fiksie benoem is! Dit het inderdaad laasgenoemde prys asook die Jan Rabie-Rapportprys vir debuutromans gewen.
Die afgelope jaar is die grootste literêre prys, die Nobelprys, aan ‘n skrywer toegeken van wie bitter mense in die Engelssprekende wêreld nog gehoor het. Svetlana Alexievich is van Belo-Rusland en haar werk is blykbaar ‘n samestelling van ‘n groot aantal stemme wat opgeteken word ten einde iets van die inploffing van die Sowjetunie en al die gevolge daarvan vir gewone mense te registreer. Sy voer aan dat sy haar manier van skryf ontwikkel het onder die invloed van ‘n ander Belo- Russiese skrywer, Ales Adamovich, wat sý skryfwerk beskryf het as “kollektiewe romans”, “die roman-oratorium” – “romanbewysvoering”, of die “koor-epiek”; romans waarin mense oor hulself praat. Alexievich het blykbaar, volgens die Sweedse Akademie wat die Nobelprys toeken, duisende onderhoude met mans, vroue en kinders, soldate, dokters en burgerlikes gevoer en dan hierdie stemme in haar werk vasgevang op só ‘n manier dat die geskiedenis van gewone mense – van wie ons meestal nooit te hore kom nie – vertel word: byvoorbeeld slagoffers van die Chernobylramp en die Afganistan-oorlog.
Haar werk is ook as “’n geskiedenis van emosies, ‘n geskiedenis van die siel” beskryf. Volgens die vertaler wat tans haar werk in Engels vertaal, is die werk eintlik niefiksie. Dié van ons wat nie Russies lees nie, sal seker nog ‘n rukkie moet wag om dit self te lese te kry, maar dit bly interessant dat ‘n soort “literêre nie-fiksie” met die grootste literêre prys bekroon is. Ook die Man Booker-prys is hierdie jaar aan ‘n roman toegeken wat eintlik om ‘n historiese gebeurtenis gebou is. Marlon James se derde roman, A Brief History of Seven Killings, gaan oor ‘n mislukte sluipmoordaanval op die reggae-sanger Bob Marley in 1971. James het in ‘n onderhoud vertel dat hy sy eerste roman, John Crow’s Devil (2005), 78 keer aan uitgewers voorgelê het voordat dit aanvaar is. (Skep moed, almal van julle wat al moedeloos is omdat jou groot roman afgekeur is!) In 2009 het sy roman The Book of Night Women verskyn. Marlon James kom oorspronklik van Jamaika af, maar hy woon en werk die afgelope agt jaar in die VSA waar hy tans ‘n dosent in kreatiewe skryfkuns is. A Brief History of Seven Killings is ‘n knewel van ‘n roman van oor die 600 bladsye met 76 karakters en word deur ‘n uiteenlopende verskeidenheid vertelstemme vertel.
Vir diegene wat nie in die laaste week van 2015 en begin van 2016 deur dik pryswennerromans wil lees nie, is daar ‘n nuwe kans om Koos Kombuis se memoires te lees. Sy gewilde outobiografie Seks & drugs & boeremusiek het oorspronklik in 2000 verskyn en het 11 herdrukke beleef. Nou is dié “memoires van ‘n volksverraaier” weer deur die uitgewer beskikbaar gestel. As jy dus nog nie tevore hierdie boek gelees het nie, of as jy jou vriend s’n met die omgevoude hoeke en koffieringe daarop gesteel het, kan jy dit nou in die gees van Kersfees teruggee en jou eie een koop. Baie mense wat hul hande aan outobiografieë waag, se lewens is nie regtig interessant nie.
Dan is daar sommige wat wel interessante lewens het, maar wat nie vermaaklik en boeiend kan skryf nie. Koos Kombuis is nie een van daardie mense nie. Aan die een kant het hy ‘n besonder interessante lewe, wat begin met sy eerste sangvertoning toe hy vyf sekondes oud was, sy godsdienstige toewyding, moeilike dienspligjare en ‘n tydperk in ‘n inrigting nadat hy verkeerdelik as skisofreen geklassifiseer is. Hy is natuurlik ook ‘n skrywer, ‘n rockster en een van die Voëlvrybeweging se sentrale figure. Hy was ‘n dwelmslaaf, en geniet nou rustige, middeljarige burgerlikheid. Aan die ander kant beskik hy oor ‘n buitengewone skryftalent – hy skryf skreeusnaaks oor die ernstigste onderwerpe, pittig, vermaaklik en nietemin droef en soms ontblotend eerlik met baie skerp kommentaar en fyn waarnemings. Seks & drugs & boeremusiek is hoogs vermaaklik, ook baie insiggewend weens al die inligting oor onder meer die Afrikaanse musiekbedryf – veral van die Voëlvrytyd – en vol menslikheid en deernis.