Willie Burger kyk na die rare keuse van die Nobelprys vir letterkunde wat aan Bob Dylan toegeken is
“The times they are a-changin”, het Bob Dylan in 1964 gesing. Destyds het hy die liedjie geskryf ten einde iets van die onrus en die radikale sosiale veranderings van die jare sestig vas te vang.
“The times they are a-changin” het egter ook ’n algemene gevoel van sosiale verandering só suksesvol uitgedruk dat dit op baie ander plekke en tye steeds tot mense spreek. Steve Jobs het byvoorbeeld in 1984 met die bekendstelling van die eerste McIntoshrekenaar ’n strofe daaruit aangehaal.
Vanjaar sou ’n mens die woorde ook kon sing oor die Nobelprys, want gewis suggereer die toekenning van die Nobelprys vir letterkunde aan Bob Dylan veranderende tye. Tot sowat ’n week voordat Dylan as wenner van dié gesogte prys aangekondig is, het die meeste mense gedink dat die Japannese romanskrywer Haruki Murakami ’n goeie kans het. Die reus van Amerikaanse letterkunde Philip Roth is ook deur beroepswedders as ’n sterk kandidaat beskou.
Die Siriese digter Adonis is ook as goeie aanspraakmaker beskou – nie net omdat hy ’n besonderse digter is nie, maar ook omdat Sirië in hierdie stadium in die sentrum van die wêreldaandag staan. Baie se hoop was dat ’n skrywer van Afrika dit sou kry: Ngugi wa Thiong’o. Toe verras die Sweedse Akademie almal en wys iemand aan wat deur ’n baie groot deel van die letterkundelesende wêreldbevolking nie noodwendig as ’n literêre figuur beskou word nie. Hierdie toekenning plaas die vraag oor wat letterkunde dan nou eintlik is, opnuut op die voorgrond.
Dit is immers moeilik om te weet presies waarvoor hy die toekenning gekry het – is dit vir Dylan se lirieke op hul eie of is dit vir sy musiek? Is dit moontlik om sy lirieke van die melodieë te skei? Hul trefkrag lê immers juis in die aanbod van die liedjies as geheel – eerder as slegs in die woorde. Natuurlik is daar baie van sy lirieke wat ook op hul eie besonder treffend is, maar ’n groot aantal van sy lirieke sou waarskynlik moeilik by die meeste uitgewers se eerste keurproses verbygekom het. Gevolglik sou ’n mens hierdie toekenning as ’n aanduiding van ’n veranderende tyd kon beskou: vir die Nobelprys en vir letterkunde.
Die toekenning suggereer dat die Nobelprys vir letterkunde nie slegs vir letterkunde soos ons dit tradisioneel begryp, toegeken word nie. As dit hierdie jaar musiek ook insluit, kan ons dalk in die toekoms verwag dat dit vir rolprentmakers toegeken kan word? En is die Nobelprys dan steeds ’n prys vir letterkunde? Dalk suggereer die toekenning ’n veranderende tyd vir ons opvattings oor letterkunde? Met die toekenning van die Nobelprys aan Svetlana Alexievich in 2015 het sommige mense beswaar aangeteken dat haar werk nie letterkunde is nie, maar eerder sosiologiese of etnografiese navorsing.
Hierdie jaar se toekenning onderstreep dalk dat letterkundebeskouings aan die verander is? Dylan is die eerste lid van die Rock ’n’ Roll Hall of Fame wat ’n Nobelprys ontvang en niemand sal ontken dat hy ’n besonder invloedryke en suksesvolle sanger en liedjieskrywer is nie. Die Sweedse Akademie het genoem dat hy hom in die skering en inslag van die Amerikaanse populêre musiek ingeweef het. Niemand sal daarteen stry nie. Is die implikasie dat populêre invloed as kriterium belangriker geword het? Hierdie bekroning plaas ook die vraag na die aard en sin van literêre pryse in die kollig.
Die feit dat daar al so dikwels in die verlede belangrike skrywers vir bekroning oor die hoof gesien is, is ’n aanduiding dat ’n mens nie daarop kan reken dat die prys altyd ’n aanduiding van die beste skryfwerk is nie. Sommer met die intrapslag was die Nobelprys vir letterkunde in omstredenheid gehul toe die eerste prys in 1901 aan Sully Prudhomme gemaak is (ek het ook geen idee wie hy was nie). Die omstredenheid is veroorsaak omdat Leo Tolstoi – seker een van die invloedrykste skrywers van daardie tyd en een van die Groot Name in wêreldletterkunde, oor die hoof gesien is.
Die lys van ander skrywers wat dit nooit ontvang het nie lyk byna soos ’n lys van die invloedrykste 20ste-eeuse skrywers: Virginia Woolf, Jorge Luis Borges, James Joyce, Marcel Proust … Natuurlik het talle belangrike skrywers die prys wel ontvang en hul werk het daardeur toenemend bekend geword – Octavio Paz, Gabriel Garcia Marquez, Nadine Gordimer, JM Coetzee … Uiteindelik bly pryse altyd omstrede. Op hul beste gee pryse erkenning aan buitengewone skrywers en bring hul werk onder die wêreld se aandag. Op hul slegste stimuleer letterkundepryse ten minste gesprekke oor letterkunde.