Carla van der Spuy skryf oor haar ma se lewe met alzheimersiekte
Carla van der Spuy
“Dit voel asof my lewe vír my geleef word.” Só groet my ma my nadat sy met alzheimersiekte gediagnoseer is. Daar is magteloosheid in haar woorde. Opstand. Sy is kwaad. Byna soos ’n rebelse tiener. Kort vantevore kry ek ’n oproep van die bank. Hulle is bekommerd oor my ma. Sy jaag deur Knysna se strate. Sy lees briewe terwyl sy bestuur. Sy sit op die sypaadjie voor die bank en tel haar note. Sy kuier tot vier keer per dag by dieselfde mense, vertel die bankamptenaar vir my. Ek glo dit nie, want ek wil dit nie glo nie. Ek bel haar vriendinne en mense van haar kerk. “Jou ma onthou niks. Sy is vel en been,” vertel een van haar lewenslange vriendinne vir my. Dan bel ek my ma om agter die kap van die byl te probeer kom. Dis net ná die 9/11-aanvalle in Amerika. My ma was altyd op hoogte van die nuus. Ons voer ’n lang en sinvolle gesprek. “Die arme mense,” sug sy en bespreek die hele terreuraanval in besonderhede. Ek besluit dat almal die pot mis sit en om die doemprofete te ignoreer. Kort daarna bel my ma my man pligsgetrou op sy verjaardag. Natuurlik makeer sy niks, glo ek vas. Tog vertel ek haar reguit dat daar mense is wat bekommerd oor haar is. Hulle oorreageer seker net, of hoe? Eet sy darem, bestuur sy versigtig en behoort sy op amper 80 nog alleen in haar huis op Knysna te woon? waag ek dit. Haar reaksie is getrou aan haar aard: vurig en verontwaardig. “Ek eet oorgenoeg en die mense wat sê ek is te maer, is net jaloers omdat ek nog so ’n goeie figuur het en hulle almal soustannies is. Hulle klets net.” “Fair enough,” dink ek. Dan vertel sy driftig dat sy die orrel nie in een, twee of drie kerke in Knysna speel nie, maar sommer in vier! En, vra sy, dink ek vir een enkele sekonde dat hulle haar gaan toelaat om dit te doen as sy “halfsimpel” is? Ek voel ietwat gerus, maar verbeel my sy het lanklaas ’n orrel in enige kerk gespeel. Daar is seker ’n logiese verklaring hiervoor, bespiegel ek. Orreliste verhuis of bedank soms – dié dat sy seker weer in aanvraag is. Tog besluit ek om eerder self te gaan ondersoek instel en ek en my dogter, Tanya, vlieg van die noorde af George toe. By haar huis aangekom, ontdek ons dat sy ’n obsessie oor cholesterol ontwikkel het en omtrent net semels en vrugte eet. Sy bestee daagliks ure daaraan om haar medikasie uit te sorteer en dan is daar steeds chaos. Haar gedagtes is ’n warboel. As ons die toilet snags spoel, is sy skoon bevrees dat die hele Knysna sonder water gaan sit. Gooi ons ’n teesakkie in die asdrom, waarsku sy ons dat die asdrom aan die brand gaan slaan. Ons ontdek ’n sakdoekie vol muntstukke toegeknoop in die stort. Al meer gevaarligte flikker. Ons besef dat sy nie meer alleen kan woon nie. Dit help nie meer om in ontkenning te leef nie. Haar huis moet verkoop word en sy moet heeltydse versorging kry tot daar vir haar plek in ’n tehuis is. Sy wil nie by my in Pretoria kom woon nie, maar sy kan ook nie alleen bly nie. Toe bied Verda, my skoonsuster wat ’n opgeleide verpleegkundige is, aan om by haar in te trek en na haar om te sien totdat sy huisvesting kry. Verda ontdek tot haar skok dat daar net piesangs en ys in die yskas is. My ma het van haar cholesterolobsessie vergeet en eet tot drie keer per dag roomys en vertel elke keer dat dit die eerste keer in jare was. Dan volg die moeilikste dag in Verda se lewe. Sy moet my ma na die ouetehuis toe neem. My ma weier om uit die motor te klim. Al die bejaardes hang soos vinke by hul vensters uit om die petalje te aanskou. Sy beskuldig Verda daarvan dat sy op haar kop wil sit. Daar is pandemonium. My ma dreig om die tien kilometer huis toe te stap – in die reën. Wie gaan haar probeer keer? Verda is op. ’n Paar dae later kom ek daar aan. Ek het die hele drama vrygespring, maar beleef die nagevolge. My ma wil weet waar haar motor is. Dan vra sy my om asseblief daar te bly. “Slaap sommer by my op die bed, asseblief, daar is genoeg plek. Eintlik het ek drie kamers langs mekaar,” vertel sy my. Sy lyk verskrik as my selfoon lui en gryp ’n tandeborsel om haar hare te kam. Dan vertel sy dat sy na Nel de Boer toe moet gaan om melk te gaan haal. Nel de Boer was haar niggie en het in Nederland, haar geboorteland, gewoon. Ek vermoed my ma het haar gereeld gedurende die Tweede Wêreldoorlog besoek. Die melk was seker deel van die oorlograntsoene. Dan soek sy haar fiets waarop sy ’n halfeeu vantevore gery het, en haar ysskaatse. Alles artikels wat diep in haar geheue weggebêre is. Amper soos ’n vorige lewe. Sy verwys na my jongste broer, Alex, as “Sim”, die naam van haar oudste broer in Holland wat sy dekades laas gesien het. Sy dink sy het twee dogters, maar sy het net een. Ek is verslae. Dit kan nie die vrou wees wat die hoogste punte in die land in haar musiek- en lewensreddingeksamens verwerf het, ’n voorslag in die kerk was, vir haar kore besing is, 40 jaar lank ’n suksesvolle swemskool bedryf het en wat haar lewe lank hiperaktief was nie. Dis mos pure waansin. Maar dan het alzheimersiekte niks met intelligensie te make nie. Mettertyd raak haar lewe doelloos. Sy loop soos ’n wandelende gees deur die gange van die ouetehuis. Met haar liggaam skort net mooi niks nie. Sy was haar lewe lank fiks en gesond. Sy kla dat sy Alex nooit sien nie, maar ek weet hy neem haar elke Sondag vir appeltert en tee uit. Sy is hartseer oor die nuus van haar ouers se dood, al is hulle al dekades lank weg. Aanvanklik sien die ander oumense na haar om. Vrywilligers gaan stap met haar. Die personeel is liefdevol en empaties, maar op ’n dag ontvang ek ’n oproep van die ouetehuis. Hulle kan nie meer na my ma omsien nie. Ons sal óf ’n heeltydse versorger moet kry wat bedags na haar kyk óf ons sal haar elders heen moet neem. Hulle is nie vir alzheimerpasiënte toegerus nie. Sy loop heeltyd weg. Laas het hulle haar by die begraafplaas gekry. Sy is húl verantwoordelikheid en dit raak te gevaarlik. As die deurwag ’n draai gaan loop, glip sy vinnig by die voordeur uit en vaar die strate in. Dis waar. Elke keer as ek daar gaan kuier, keer elke tweede bejaarde my voor en vertel van haar stapavonture. Die een kleurryke vertelling oortref die ander. Elkeen kry ’n stertjie by. Ons is raadop. Sy kan by ons op die hoewe kom bly, maar daar is baie bosse en wat as sy wegraak? Toe daag Dezi op, ’n lieflike jong vrou van die bruin woonbuurt Hornley. Sy het nie naskoolse kwalifikasies nie, maar sy het emmers vol liefde en geduld. As die susters haar aantrek, trek Dezi haar mooier aan. Amper soos ’n pop. Sy sorg dat my ma altyd na poeier ruik. Haar hande is sysag van die handeroom wat sy aansmeer. Grétjie soos sy my ma noem, raak verknog aan haar. Sy het altyd vir Dezi aan die arm. Hulle woon elke teepartytjie en begrafnis by, al ken hulle nie eers al die mense nie. Hulle het ’n woeste sosiale lewe. My ma hou meer van Dezi as van al drie ons kinders saam, spot ons. Hulle is soos ’n Siamese tweeling. Musiek was ’n lewenslange liefde en een talent wat my ma byna enduit behou het. Ek vra vir Dezi om haar gereeld te laat klavier speel. Sy bly nog lank nootvas en sing in ’n klokhelder stem – selfs as voorsanger. Sulke oomblikke kom alles so bedrieglik gewoon voor, so asof niks ooit verander het nie. Dan wens jy die gesang hou vir ewig aan … Dezi verwag later haar derde kind. Grétjie word siek en in die hospitaal opgeneem. Amper nege maande swanger stap Dezi kilometers ver om vir haar “oumatjie” te gaan kuier. Ons is verstom. Sy het nie die vrou geken wat my ma eens was nie. Net haar skaduwee, maar haar liefde vir my ma was onvoorwaardelik. Grétjie is later oorlede. In Dezi se arms. Dezi se hart het haar vertel om nie daardie aand huis toe gaan nie. Sy wou by haar oumatjie bly tot sy haar laaste asem uitblaas. En op haar begrafnis was dit Dezi wat die hardste gehuil het.
SOURCES
Verskaf