Nuwe boek kyk na perlemoen-stropery
Naledi Boeke het Donderdag die boek, “Spoor van die Perlemoenstropers” op Gansbaai in die Wes-Kaap bekendgestel, Maryke Roberts van Vrouekeur was daar.
Dis die gewilde omgewingsmisdaadskrywer, Johan Fourie, se derde boek en ondersoek die intriges wat gepaardgaan met perlemoenstropery in Suid-Afrika. Die naelbyt-aksie voer die leser van wetstoepassers na stropers, van vissersgemeenskappe na bendes, van Chinese Triades na korrupte amptenare. En ook na die sakeryk van die aanvallige Madelyn Krauss, Gansbaai se eie “perlemoen queen”. Hierdie eko-spanningsverhaal, geïnspireer deur feite, gee die leser ’n binnekykie na die onderduimshede wat Suid-Afrika se mariene-hulpbronne die afgelope jare in krisis gedompel het.
Johan is ’n natuurbewaarder en tans besturende direkteur van The Nature College Wild Life Training. Hy het as helikoptervlieër in die SA Lugmag gewerk, maar die roepstem van die natuur het te sterk geword en hy is in 1982 as veldgids na die Kruger wildtuin.
Melt Myburgh, nuwe redaksiehoof van Naledi, het by die funksie wat in die The Great White House restaurant gehou is, gesê Naledi is ’n jong, onafhanklike uitgewery wat “gat skop”. “Ons publiseer boeke wat help om ’n verskil in die wêreld te maak. Perlemoen-stropery is een daarvan, so ook renosterhoring-stropery – die tema van Johan se vorige boek, ‘Stryd in die bos’,” het hy vertel.
Melt sê ander sprekers wat vir die dag genooi is om oor die drastiese afmetings wat perlemoenstropery aanneem te praat, het gekanselleer, omdat daar baie korrupsie in die polisie en ander regeringsdepartemente is en mense te bang is om te praat – uit vrees vir viktimisasie.
Johan het in sy toespraak gesê hy moes homself afvra of daar hoop vir perlemoen is. “Dis ’n groot bekommernis, want een van die dae is daar niks oor nie. Dit laat my dink aan ’n groot piramiedeskema: die ouens wat eerste inklim, maak baie geld, maar hoe laer af jy in die skema inkoop, hoe minder voordelig is dit vir jou.”
Johan het uitgelig dat die mense wat die meeste met die stropery verloor, die plaaslike gemeenskappe is. “Hulle verloor ’n hulpbron, hul inkomste en hul waardestelsels, wat ons leer ons kinders dat misdaad betaal. Saam met die stropery het dwelms ook gekom. Stropers word in dwelms vergoed en dit vernietig ons jeug nog verder,” het hy bygevoeg.
Hy sê al motivering is geld – sonder enige kommer oor uitwissing. “Mense wat die stropery bestuur, is dieselfde mense wat renosterhorings smokkel, in dwelms en wapens handel dryf. Die aanslae wyk nie en ons tree ondoeltreffend en gefragmenteerd op. Korrupsie lewer ’n groot bydrae tot die ontoereikende wetstoepassing in ons land.
“Ons het wel ’n paar ligpunte: as ons meer gekoördineerd teen die misdaadvlaag optree en die regering dwing om dit meer as politieke lippetaal te maak, sal ons sukses behaal. Sluit aan by georganiseerde groepe en plaas druk op die regering. As ons saamstaan en drukgroepe vorm, sal ons die stryd wen.”
Johan sê dit was die motivering agter hierdie boek. “Ons kan ’n verskil maak en deur die dilemma as lees vir plesier aan te bied, gee ek die boodskap deur, sonder om vervelig te wees. Ek hoop dit moedig mense aan om op te tree,” het hy gesê.
[iframe width=”650px” scrolling=”no” height=”450px” frameborder=”0″ src=”https://www.vrouekeur.co.za/data/content/Image/Vrouekeur/01 2013/Junie/2106/naledi/naledi.html”]