Ons boekeredakteur Willie Burger skryf oor nostalgie in ons 4 April-uitgawe. Klik hier vir nog inligting hieroor
Willie Burger
• Die woord "nostalgie" is eers in die 19de eeu gemunt deur ‘n Switserse dokter wat waargeneem het hoedat talle Switserse soldate in die platter dele van Europa siek geword het van verlange na die berge van Switserland. Nostalgie is teen die 19de eeu nie meer as ‘n liggaamlike siekte beskou nie, maar eerder as ‘n psigologiese toestand van verlange na plekke waar mense die eenvoudige vreugdes van die lewe geniet het. Meestal word beelde van ‘n sorgvrye jeug opgeroep. Hierdie verlange kan nooit vervul word nie, omdat dit eintlik ‘n verlange na ‘n tyd, eerder as na ‘n ruimte is.
• Nostalgie kom tans wyd in die Afrikaanse letterkunde voor, maar dis nie iets wat slegs onder blankes wat na ‘n vorige bedeling verlang, voorkom nie. Lees gerus ook Anastasia de Vries se verhaal, "Taxi huis toe" waarin die verteller uit ‘n onpersoonlike Johannesburg na die Kaapse vlakte terugverlang.
• Jacob Dlamini se boek Native Nostalgia het baie opspraak verwek toe dit in 2009 gepubliseer is. Terwyl baie wit mense met nostalgie terugdink aan die vorige bedeling, word nostalgie na die apartheidstyd nie altyd onder swart mense verwag nie. Dlamini skryf egter oor sy jeugervarings in die township waar hy grootgeword het met baie heimwee, met herinneringe aan gesellige samesyn, ondersteunende bure, saamluister na musiek of sokker of boksgevegte se uitsendings. Hy verdedig die reg tot nostalgie, ook vir apartheidslagoffers, nie om daardeur te probeer suggereer dat dit beter was onder die vorige bedeling nie, maar omdat hy wil aandui dat alle herinneringe ook nie bloot uitgewis behoort te word omdat dit uit ‘n tydperk van diskriminasie en stryd dateer nie.
• Ek dink daar is ook nostalgie te bespeur in sommige van die gewilde kookprogramme op TV waarin "etniese" kookkuns of streekskookkuns herontdek word: so word "eerlike Karookos" gemaak en daarmee word iets bevestig van ‘n eie identiteit wat dateer uit ‘n tyd toe daar eenvoud, en eerlikheid, en betroubaarheid was soos skaapvleis wat na bossies smaak en potbrood en stampkoring – sonder die verwarrende idees van vegetariërs en hormoonbehandelde vleis en geneties gemanipuleerde groente en Franse kookterme.
• Christiaan Bakkes se gewilde Stoffel Matthysen-verhale handel oor ‘n jong man wat allerlei avonture in ‘n ongerepte en wilde Afrika beleef – waar ‘n mens weer ‘n eerlike mens kan word, jouself in die eenvoud van die natuur, eerder as in kunsmatige, verwikkelde verhoudings tussen mense in stede kan vind. In hierdie romantiek word daar ook eintlik na ‘n (gewaande, idealistiese) verlede van "natuurlikheid" verlang.