Willie Burger kyk na Carla van der Spuy se boek Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma
In Anne Michaels se roman Fugitive Pieces skryf een van die karakters ’n boek oor sy ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog. Voor in sy boek staan die volgende motto: “Daar is niks wat een mens nie áán ’n ander sal doen nie; daar is ook niks wat een mens nie vír ’n ander sal doen nie.”
Die meeste van ons wat daaglik in ons gesinne en tussen familie en vriende en kollegas beweeg, wat snags wakker lê oor ons oortrokke rekenings of oor ’n skewe woord wat iewers geval het, word selde direk gekonfronteer met die skrikwekkende dinge wat een mens aan ’n ander doen. Heel dikwels gebruik ons woorde soos “pedofilie”, “verkragting”, “moord”, “aanranding” of “kindermolestering” heel abstrak. Boonop is hierdie verskriklike dinge wat een mens aan ’n ander doen die stof waaroor gewilde misdaadflieks, -boeke en -TV-reekse handel.
In hierdie flieks of TV-programme sien ’n mens (soms in grafiese besonderhede) afsigtelike misdaadtonele, en ervaar die spanning van slagoffers wat moet vlug voor of wegkruip vir booswigte, as “vermaak” wat ons help om van ons gewone werkspanning te ontsnap of om ’n bietjie opwinding aan ons saai bestaan te gee. ’n Boek soos Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma plaas al hierdie dramatiese beelde uit die vermaaklikheidswêreld en die verslaggewing en statistiek uit die nuusmedia in ’n ander lig.
Skielik word ’n mens aan die durende effek van trauma op een mens se lewe herinner. Die trauma en geweld wat een mens ’n ander aandoen, hou nie skielik op as die episode verby is, of as die skurke gevang is nie. Die gevolge daarvan bly lewenslank. Baie mense sal nog vir Gert van Rooy- Willie Burger kyk na Carla van der Spuy se boek Mishandel, misbruik, misken: Joey Haarhoff was my ma en en Joey Haarhoff onthou. In die media is hulle aan die einde van die 1980’s as “die pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff” beskryf.
Tussen die einde van 1988 en die begin van 1990 het dié twee sewe meisies ontvoer. Slegs die laaste van die sewe meisies is ooit weer gesien. Sy het daarin geslaag om uit Van Rooyen se huis te ontsnap en die polisie kon toe op die twee berugte ontvoerders se spoor kom. Voordat die raaisel oor presies wat met die meisies gebeur het ooit ten volle ontrafel kon word, het Van Rooyen vir Haarhoff en homself geskiet. Soos die titel aandui, gaan Mishandel, misbruik, misken oor Joey Haarhoff se dogter, Amor van der Westhuyzen. Sy het haar lewensverhaal aan die vryskutjoernalis Carla van der Spuy vertel en hieruit het die boek ontstaan.
Van der Spuy het voorheen ook Mens of monster (2012) en Bloed op haar hande (2015) geskryf. Amor se verhaal is skrikwekkend. Haar pa het haar van jongs af gemolesteer. Sy is daarvan oortuig dat haar ma daarvan geweet het, maar niemand het daaroor gepraat nie. Die hoop dat haar ouma, wat eendag gesien het wat haar pa aan haar doen, sou ingryp, het beskaam. Trouens, daarna het ook haar oupa en toe verskeie ooms en ander jonger manlike familielede begin om haar seksueel te misbruik, nog voordat sy puberteit bereik het.
Die psigologiese gevolge op iemand wat in so ’n totaal liefdelose omgewing grootword, word breedvoerig verken. Van der Spuy wissel Van der Westhuyzen se eie herinnerings en vertellings met inligting en kommentaar deur sielkundiges en enkele ander mense af. Uiteindelik word nie slegs die verhaal van Van der Westhuyzen se ontsettende trauma vertel nie, maar ook die verhaal van hoe sy hierdie verskriklike kindertyd kon agterlaat en geluk en liefde kon vind. Dit is ’n ontstellende leeservaring, juis omdat ’n mens so diep daarvan bewus word dat daar inderdaad niks is wat een mens nie aan ’n ander sal doen nie.
Maar dit is ook ’n verhaal wat die tweede deel van die aanhaling waarna hierbo verwys is, gestand doen: Daar is ook niks wat een mens nie vir ’n ander sal doen nie. Daarom is dit ook ’n boek van hoop, of soos Van de Westhuyzen dit self aan die einde beskryf: ’n verhaal oor liefde. Dit bly moeilik om oor trauma soos hierdie te skryf. Te maklik raak dit abstrakte teorie vanuit ’n sielkundehandboek, of die verhaal verskaf melodrama en sensasie vir lesers se goedkoop opwinding wat uitgebuit word om verkoopsyfers te laat styg. Van der Spuy soek ’n roete hiertussen.