‘n Mens lees baie oor die vrouelike menopause, maar wat van mans? Vra Ansja Ferreira
“Ek het in my vroeë vyftigs begin voel daar is iets fout met my gesondheid, libido en gemoedstoestand. Dit het ná my dogter se troue begin. Ek was heeltyd moeg, geïrriteerd en het gewig rondom my middel en bolyf begin aansit,” vertel Derek* (53).
“Ek het ook skielik swak en oud begin voel en het geweldige gemoedskommelings ondervind wat depressie, hartseer en erge buierigheid ingesluit het. Daar was geen rede hoekom ek so moes voel nie, want ek het ’n goeie werk, ’n pragtige vrou en kinders en genoeg om van te lewe. Ek weet dat ek glad nie ’n maklike mens was om mee saam te leef nie en my kollegas, vrou, kinders en selfs ons troeteldiere het onder my humeurigheid deurgeloop.
Ek het na my huisdokter gegaan en gevra dat sy my toets vir alles wat dalk kon verkeerd wees, soos cholesterol, suiker, bloeddruk, hartprobleme en so meer. “Sy kon niks fout kry nie behalwe vir lae testosteroonvlakke. Sy het genoem dat ek testosterooninspuitings kon kry om die lae vlakke aan te vul en dat dit dalk baie van my simptome sou verbeter, maar ek het besluit ek het dit nie nodig nie en was verlig dat daar niks ‘ernstigs’ fout was nie.
“Ek het besluit om eerder gesonder te eet en harder te oefen. Ek het egter slegter begin voel, het saans al halfagt voor die TV aan die slaap geraak, dinge begin vergeet en geweldig geïrriteerd gevoel.
Ek was sommer net kwaad vir niks en het sonder enige rede my humeur verloor. “Die kleinste dingetjies kon my ontstel, soos as die hond net te veel geblaf het of as iemand by die werk net iets verkeerds gesê het.
Die volgende jaar het ek weer teruggegaan na my huisdokter en sy het weer al die nodige toetse op my gedoen. Weer eens was my testosteroonvlak te laag en selfs laer as die vorige jaar.
Ek het besluit om die testosterooninspuitings ’n kans te gee en het elke drie maande vir my inspuiting gegaan. “Ná so drie inspuitings het ek stadig weer mens begin voel. Ek is nou al ’n jaar op die aanvullings en voel baie beter, liggaamlik en geestelik.
Ek het ook ’n lewensafrigter gaan sien om my te help om nuwe doelwitte vir my lewe te beplan en my te help om makliker deur my nuwe lewensfase te gaan wanneer ek oor ’n paar jaar gaan aftree.
“Ek beplan nou reeds aan ’n oorsese reis vir my en my vrou. Ek het my dieet aangepas, neem vitamiene en ek en my vrou oefen nou gereeld saam in die gimnasium. Ek weet dat die manlike oorgangsjare ’n feit is, al word dit nie oral erken nie. Vir my was dit ’n realiteit,” sê Derek.
‘Mans kom agter dinge is anders’
Prof Riana Bornman, hoogleraar verbonde aan die Skool vir Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik dat testosteroonproduksie in seuns tydens puberteit ’n aanvang neem, maar ná die ouderdom van 30 jaar begin die produksie daarvan afneem.
“Hierdie afname is ouderdomsgebonde en die gesamentlike resultaat van veranderinge in die brein en testes wat laer testosteroonvlakke tot gevolg het. Dit is ’n stadige, progressiewe proses en mans kan baie jare onbewus daarvan wees.
“Dit is dikwels op die ouderdom van 45 jaar waar mans begin agterkom dinge is anders. Die afname is aansienlik meer by mans wat aan ander siektes soos chroniese kardiovaskulêre, respiratoriese, gastrointestinale, rumatiese en renale siekte sowel as oorgewig ly.
“Terwyl menopousale vroue voordeel uit gefokusde bewustheiden bestuurspogings trek, is dit jammer dat die konvensionele benadering tot manlike veroudering verwaarloos word,” sê Riana.
Volgens Riana kan simptome onder meer ’n laer libido, verminderde seksuele aktiwiteite en swakker en minder gereelde ereksies, veral gedurende die nag, insluit. “’n Algemene simptoom is om die ereksie voor of gedurende penetrasie te verloor en die gevolglike vrees vir mislukking.
Hierdie mans verloor hul selfvertroue en selfbeeld tot op ’n punt wat hulle alle seksuele kontak vermy. Dit is daarom dikwels die lewensmaat van so ’n man wat kla oor verlies aan seksuele belangstelling en hom dan dokter toe stuur.
“Veranderinge in gemoed, intellektuele aktiwiteit en slaapversteurings kan voorkom. Sommige kla heelwat vroeër oor uitputting, depressie, geïrriteerdheid en woede voordat hulle oor die erektiele disfunksie kla. Sy algemene gevoel is: ‘Ek is nie meer wat ek was nie.’
Die meeste mans is huiwerig om ’n geneesheer te gaan spreek en vir die lewensmaat van so ’n ‘prikkelbare’ man kan dit ’n groot uitdaging wees. “Gedurende hierdie tydperk kan die man ook ’n toename in sentrale abdominale obesiteit toon, met die geassosieerde vermindering in spiervolume en krag. Daar is ’n vermindering in liggaamshare en velletsels van veroudering kan ontwikkel. Verminderde beendigtheid en osteoporose kan die risiko van frakture verhoog,” sê sy.
Die behandeling
“Die dokter sal ’n gedetailleerde geskiedenis van die pasiënt neem. ’n Volledige kliniese ondersoek, insluitende ’n rektale ondersoek, asook bloedtoetse, sal gedoen word. In sommige gevalle sal herhaalde bloedtoetsing nodig wees.
In Suid-Afrika is testosteroon slegs beskikbaar as inspuitbare middel en daar is ’n kortwerkende formule wat elke tien dae ingespuit moet word en ’n langwerkende middel wat elke drie maande ingespuit word.
Die doel van die behandeling is om seksuele funksionering, ’n gevoel van welstand en spier- en beenkrag te verbeter. “Jy sal moet besluit watter formulasie jy verkies. As jy met die aanvulling begin het, moet jy vir die res van jou lewe daarmee aanhou of totdat jy ’n kontra-indikasie soos prostaatkanker ontwikkel.
Dit mag weke of maande neem voordat verbetering intree, maar dit is die moeite werd om daarin te belê,” sê Riana. Die sielkundige Jed Diamond is die skrywer van die boeke Male Menopause en The Irritable Male Syndrome.
Hy beskryf die prikkelbare-manlike-sindroom as ’n toestand van hipersensitiwiteit, angstigheid, frustrasie en woede wat in mans voorkom en geassosieer word met biochemiese veranderinge, hormonale fluktuasies, stres en die verlies aan manlike identiteit. “Dit is belangrik om te onthou dat ongeag hoe jonk ons voel, daar fisieke en hormonale veranderinge is wat met ouderdom gepaardgaan,” sê Janine Shamos, ’n opvoedkundige sielkundige, wat by opleiding by die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep (Sadag) betrokke is.
“Dit is dus belangrik om uit te vind of daar enige fisieke redes is as jy moeg, depressief of gespanne voel en jy behoort eerste by jou huisdokter aan te klop,” sê sy. “Dikwels ondervind mans ’n middeljarekrisis wanneer hul rolle en verantwoordelikhede verander, soos wanneer hul kinders die huis verlaat of wanneer hulle naby hul aftrede kom. Hulle voel dalk ook dat hulle nie kan byhou met tegnologiese of fisieke eise nie.
Die ou stereotipe van ’n middeljarige man wat ’n motorfiets of sportmotor koop en die manier wat hy aantrek verander, bestaan met ’n rede omdat te veel van ons deur materiële besittings aan ons jeug probeer vashou.”
Janine glo dis belangrik vir mans en vroue van alle ouderdomme om te onthou wie hulle is en wat hul sterk punte en waardes is. Ons word ouer, maar ons kernwaardes word nie ouer nie, sê Janine.
“Soos wat daar gesê word: met ouderdom kom daar wysheid. Deur af te tree of halfdag te werk, kan jy tyd kry om by ander aktiwiteite betrokke te raak en ander te help en jou ondervindings te deel.
“Onthou dat hoewel vroue deur hormonale veranderinge gaan en die fluktuasies in hul buie dikwels as deel daarvan gesien word en verskoon of aanvaar word, gaan mans deur dieselfde en is dit aanvaarbaar vir ’n man om weerloos of af te voel. “En dit is net so belangrik vir mans om ondersteuning en leiding te soek, wat nie ’n teken van swakheid is nie, maar eerder op dapperheid dui.
Onthou dat ’n middeljarekrisis en depressie nie dieselfde ding is nie. “Daar kan dalk soortgelyke simptome wees soos gedragsverandering, ’n gevoel dat jy misplaas is en nie op die regte plek is nie of af voel. Depressie word gediagnoseer wanneer simptome elke dag vir twee weke teenwoordig is. By ’n middeljarekrisis kan mans dikwels identifiseer waarom hulle so voel of dit is fisiek van aard.”
Verskil de pressiesimptome vir mans en vroue?
Ja en nee, sê Janine. Mans en vroue stel nie meer belang in die dinge wat hulle vroeër geniet het nie, daar is veranderinge in slaap- en eetpatrone en hulle voel “af”, hopeloos of hulpeloos. Waar die verskil inkom, is hoe daardie emosies gewys word.
Dit is meer sosiaal aanvaarbaar vir vroue om hartseer te lyk, te huil, om hulp te soek, terwyl mans deur die samelewing “geleer” word om taai te wees. Mans wat stres ervaar of depressief is, sal dikwels tot aksie oorgaan en dinge doen, sê sy.
“Buite-egtelike verhoudings, en padwoede kan voorkom, langer ure word gewerk, meer tyd word saam met vriende deurgebring om saam sport te kyk of saam met hulle te drink. Meer alkohol word gebruik en mans ‘dokter’ hulself met alkohol en sigarette.”
Gaan jou man deur ’n middeljarekrisis?
Dit is noodsaaklik dat vroue besef dat mans ook met hormonale veranderinge worstel en dat dit vir hulle eintlik erger is as vroue omdat dit nie sosiaal aanvaarbaar is vir ’n man om “uitmekaar te val” of te huil nie, sê Janine.
Sy sê mans dink baie anders as vroue, dit is dus belangrik om geduldig te wees en jou man sy tyd alleen te gun. “Laat hom weet dis oukei om ’n bietjie af te voel of dalk verward of magteloos en dat dit ook oukei is om weerloos te voel. Hou ook in gedagte dat jou man dalk nie met jou praat oor hoe hy voel nie, maar as jy vermoed dat iets met hom verkeerd is, praat met hom.”
- Sadag: 0800 21 22 23 of 0800 70 80 90. Sadag voorsien telefoniese berading, inligting en verwysings na kenners en ondersteuningsgroepe dwarsoor die land. Besoek www.sadag.org
- Kontak Janine by janine.shamos@gmail. com of besoek www.liveyourlife.co.za