Hein Kruger, gereelde geldsakespreker oor die radio en skrywer, deel graag sy suksesresep Deur CONETTE HAMMAN-LE ROUX
Hein Kruger het ’n interessante kronkelpaadjie na sukses as een van Suid-Afrika se geldkenners gestap. Op hierdie paadjie het hy meer beroepe beklee as die meeste van ons. Hy was van soldaat, joernalis, eiendomsontwikkelaar, aandelehandelaar tot stigter en besturende direkteur van sy eie onderneming, Kruger Internasionaal. “Hierdie pad het my onskatbare onder vinding en kennis gegee waarmee ek van dag ander se lewe kan verryk. Ek is buitengewoon geseën,” sê Hein.
Ek het van kleins af kort-kort een of ander onderneming gehad om geld te maak. Ek het op Tzaneen grootgeword. My pa was ’n prokureur en politikus en my ma ’n tuisblyma met ’n BA in maatskaplike werk. Ek het in die dorp grootgeword en ons het ’n wonderlike plasie tussen die woude en watervalle van Magoebaskloof gehad. As ek nie ’n kuiken- of bokboerdery gehad het nie, was dit ’n houtwerkonderneming. My ouers was egter glad nie op geld ingestel nie en het nie heeltemal begrip vir my belangstelling gehad nie. Ek was ’n boekwurm en het baie in Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis en natuurlik die geskiedenis van geld en handel belanggestel.
Ek wou aanvanklik predikant word, maar ná my BA-graad met onder meer filosofie, sielkunde, Grieks en Hebreeus, was ek nie meer seker of ek dit moes word nie en is ek weermag toe. Ek het later besef dat ek my roeping ook deur ander beroepe kan uitleef. Aan die einde van die weermagjaar het ek geweet ek wil nie ’n soldaat bly nie en was ek halfhartig besig met ’n honneurs in sielkunde. Toe nooi ’n koerantfotograafvriend my om een aand saam met hom uit te gaan. Hy moesegter op pad na ons kuierplek eers ’n foto gaan neem. Dit was die kroning van Mej Jakaranda in Pretoria. Die meisies was al om en oor ons en net daar het ek besluit joernalistiek is vir my. Die volgende dag het ek by elke koerantkantoor in Pretoria gaan aanklop en as joernalis by Beeld werk gekry.
As politieke verslaggewer in die parlementêre persgalery in die vroeë jare tagtig, het ek gereeld my vrou se ekonomiehandboeke gelees. Sy was in haar finale jaar BCom en ek het die ekonomie se logiese aansluiting by filosofie (wat een van my hoofvakke was) fassinerend gevind. Ek het stelselmatig al hoe meer in my verslaggewing op finansies begin fokus. Die geldgogga het gebyt en ek is uit die media en het as ’n onafhanklike politieke bestuurskonsultant begin optree. Ek het later ’n klein eiendomsontwikkelingsmaatskappy begin wat op goedkoop behuising gefokus het. Die Suid-Afrikaanse eiendomsmark het in 1989 in duie gestort en ek het by ’n maatskappy op die JSE aangesluit, aanvanklik as ’n politieke ontleder. Die aandelegogga het gebyt en ek het gou as ’n handelaar en as ’n aandeleportefeuljebestuurder gekwalifiseer.
Nadat aandelebeurse in 1998 weens die finansiële krisis in opkomende markte en die “dot.com-borrel” in duie gestort het, het ek besluit om my eie onderneming te stig. Ek wou wegbeweeg van die produkgedrewe finansiële oplossing in die bedryf, wat deur ’n gesmous van finansiële produkte gedryf word, na ’n bateallokasielewenstyloplossing. Dit is baie gewild. Die maatskappy is vandag 11 jaar oud met meer as R1 miljard se bates onder bestuur.
My mentors en rolmodelle is mense wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet. Dit was mense wat geld gemaak het omdat hulle by ’n plan gehou het en nie omdat hulle die jackpot geslaan het nie. Hulle is David Meades, wyle dr Albert Wessels, wyle dr Anton Rupert; Warren Buffett en sy vennoot Charlie Munger.
My gunstelingtydverdrywe, is draf, roei en regattas seil. Ek het vanjaar vir die 17de keer die Comrades-marathon gehardloop en ook vir die 14de keer die Two Oceans gedoen. Ek oefen by my huis op Gordonsbaai langs die see of rondom die botaniese tuin naby my huis in Johannesburg. Ek roei ook graag kajak op die see by Valsbaai en seil met kielbote in regattas. Ek is ook baie lief vir sneeuski – my gunstelingplek is Aspen in Colorado.
Ek het deur baie genade sukses bereik. Ek het ’n plan gemaak en dit konsekwent nagevolg. Geldmaak is ’n resep en suksesvolle mense is bereid om dit met jou te deel. My finansiële raad aan Suid-Afrikaners is: Moenie tou opgooi nie. ’n Mens maak stadig maar seker oor tyd geld deur te spaar, binne jou inkomstevermoë te leef en jou skuld so gou moontlik te delg. Vk
Hein se jongste boek is Leer meer oor geldsake (Naledi). Besoek www.leermeeroorgeldsake.com