Volgens navorsers is daar sekere ouerskapstyle wat as sneller vir angs en depressie by hul kinders kan dien
Ons almal het ‘n ouerskapstyl – dit is die manier hoe jy jou kind grootmaak. Dit wissel uiteraard van gesin tot gesin en daar is al baie gedebatteer oor watter styl werk en watter nie.
Dit wil egter voorkom asof een spesifieke styl tot angs en depressie by skoolgaande kinders kan lei en dit is volgens navorsers die outoritêre ouerskapstyl.
Volgens hierdie styl moet kinders by streng reëls en regulasies hou of straf verwag. Kinders word dus met gevolge gedreig.Die ouers is in beheer. As kinders nie presteer of binne grense bly nie, word hulle summier gestraf. Hul gunstelingwoorde is: “Omdat ek so sê.” Hulle stel hoë eise aan hul kinders en doen dit gewoonlik sonder warmte.
Die webwerf parentingscience verduidelik dat hoewel dié kinders goed gedissiplineerd voorkom, het hulle lae sosiale vaardighede en is tot depressie geneig. Hulle kan ook later rebels word.
Nog ‘n ouerskapstyl wat sleg vir ‘n kind se geestesgesondheid is, is oorbeskerming, verduidelik dr Michael Liebowitz. Dit kan erge angstigheid by kinders veroorsaak aangesien dit hul onafhanklikheid en hul vermoë om besluite te neem, benadeel.
Daar word dikwels na die demokratiese ouerskapstyl as die ideale styl verwys: Daar is reëls en riglyne wat die kind moet volg, maar dié ouers sal hul kinders se gevoelens in ag neem. Hulle reageer op die kind se behoeftes en is meer vergewensgesind as die kind misluk. Dié ouers se doel is om selfgeldende, sosiaal verantwoordelike, selfbeheerste en samewerkende kinders te kweek.
BRON: http://www.parentingscience.com