Die kykNET-Rapport Boekpryse se kortlys vir 2014 is pas bekendgestel en daar’s ‘n paar groot name wat om die prys meeding.
Die kykNET-Rapport Boekpryse het pas hul kortlys vir 2014 bekend gestel.
Dié pryse hoop om ’n leeslus onder mense aan te wakker deur groter erkenning en blootstelling te gee aan interessante en innoverende fiksie en feite in Afrikaans.
In die eerste bestaansjaar van die prys is 54 inskrywings ontvang. Die keurders was verras deur romans wat die verbeelding aanvuur, wat in tema die nuwe aandurf en in taalgebruik die reikwydte van Afrikaans vergroot. Ook die verdieping en verbreding van ons begrip van die wêreld by die niefiksie-inskrywings het waardering ontlok.
Die wenners van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse vir fiksie en nie-fiksie ontvang elk R200 000 en die wenner van die Filmprys R100 000.
Hier’s die kortlys vir 2014:
Fiksie
• Valsrivier, Dominique Botha (Umuzi)
• Klimtol, Etienne van Heerden (Tafelberg)
• Wolf, Wolf, Eben Venter (Tafelberg)
Nie-fiksie
• Die oorlog kom huis toe, Albert Grundlingh & Bill Nasson (reds.) (Tafelberg)
• Here & boere: Die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679-1712, Karel Schoeman (Protea Boekhuis)
• Onder die radar, Dana Snyman (Tafelberg)
Film
• Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, Jaco Jacobs (Lapa)
• Score my ’n gwai, Marlize Hobbs, (Human & Rousseau)
• ’n Ander mens, Zirk van den Berg (Kwela)
Die keurders van vanjaar se toekennings was prof Thys Human van NWU, prof Louise Viljoen van Stellenbosch, prof Steward van Wyk van UWK en mnr Gerrit Schoonhoven.
Die wenners word Vrydagmiddag, 21 November by ’n geselligheid in Kaapstad aangekondig.