‘n Mens sou dalk maklik ‘n kunswerk van Helena Hugo as ‘n treffende foto onthou. Dié fout maak mense dikwels as dit kom by haar portrette.
Hugo het visuele kunste aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en in 1997 haar eerste solo-uitstalling in Pretoria aangebied. Daarna het deelname aan verskeie groepuitstallings gevolg asook solo-uitstallings. In 2011 was sy die feeskunstenaar op die KKNK in Oudtshoorn met ‘n uitstalling Portret.
Met dié versameling pastelportrette het sy veral “gewone mense” en werkers asook die band tussen mens (werker) en masjien ondersoek. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk beeld sy so intiem uit dat die identifisering met die werk duidelik blyk. ‘n Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan.
Nietemin buit Hugo nie haar onderwerpe uit nie, maar gee hulle weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen.
Dikwels is dit juis die “misgekykte mense” wat sy skilder (in olie op bord) of teken (met pastel op bord). Of dit nou tekeninge van straatwerkers is of ’n boer wat trots in sy mielieland staan, in elk van dié portrette straal daar ‘n soort trots uit die houding of uit die oë.
In 2012 het sy ‘n tyd in Parys, Frankryk, deurgebring nadat sy die Bettie Cilliers-Barnard-prys ontvang het. In 2014 was sy die wenner in die kompetisie van die Collection Beaux-Arts Réaliste et Impressionniste in Montréal, Kanada en verlede jaar was sy een van die top-vyf vir die Sanlam-portretkompetisie.
Met haar uitstalling Grass People verlede jaar in Alliance Française in Johannesburg het suikerrietwerkers as onderwerp meer noukeurig verken. Suikerriet, ‘n gesogte kommoditeit wat vir dié bedryf heelwat geld inbring, verbeeld sy as niks meer as gras nie. Op dié manier word suikerriet en die suikerrietsnyers by implikasie ‘n metafoor van die onbestendigheid van die mens se lewensloop. Soos “gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word”.
“Ek dink ek hét ‘n bietjie van ‘n obsessie met detail,” het Hugo al oor haar werk opgemerk.
Ek vorm inderdaad ’n verhouding met die portret waarmee ek besig is,” sê sy. “Dit is baie keer die plooie rondom die oë of die tekstuur van die vel wat my interesseer.”
Sy werk van foto’s en soms reis sy ver om haar modelle in die hande te kry. Hoewel die foto die basis van die portret vorm sal sy haar nie sommer volledig deur die foto laat voorsê nie. Onnodige besonderhede sal sy byvoorbeeld weglaat, want haar portrette is per slot van rekening nie gekopieerde foto’s nie – dit is háár weergawe van wat sy sien.
Besoek www.helenahugo.com vir meer inligting oor dié besonderse kunstenaar. Op dié webwerf is voorbeelde van haar werk in verskillende media – benewens pastel op bord ook van skilderye in olie op bord, grafiese werk asook tekstielwerke vir Grass People.