Vroeër jare was dit byna ’n gegewe dat jy ná matriek universiteit toe gaan, maar vandag se jongmense volg dikwels ’n heel ander beroepspad Deur LOUISE KARSTEN
Of jy nou universiteit toe is met die doel om te kuier of jare agter die boeke gesit het om jou doktorsgraad te voltooi, in ’n stadium is amper almal universiteit toe. Vandag lyk dinge egter anders. Die vraag op almal se lippe is of jy dieselfde mate van sukses in jou beroep sal smaak wanneer jy ná matriek slegs ’n sertifikaat- of diplomakursus voltooi. Kort kursusse is deesdae baie gewild en boonop goedkoper, maar is jy van ’n goeie inkomste en ’n blink toekoms seker?
Dit kan werk … of nie Stacey Henn, hoof van die South African College of Business, sê die vraag na die nut van óf grade, óf diplomas, óf kort kursusse is kompleks, juis weens ons verskeidenheid kulture. “Eintlik is meer as een nodig,” sê Stacey. Sy gebruik die voorbeeld van ’n dokter. “Hy het twee grade en weet baie van medisyne, maar kan nie noodwendig ’n praktyk bestuur nie. ’n Kort kursus in boekhou sal dus ook vir ’n dokter voordelig wees al het hy reeds ’n kwalifikasie. “Die voordeel van kwalifikasies is dikwels nie net die inhoud en die baie kennis nie, maar eerder die vermoë om op ’n meer gestruktureerde manier te dink.” Volgens Stacey is die doel van opvoeding om ’n gewaardeerde en bydraende lid van die samelewing te word en die belangrikste van als, om ’n werk te kry. “Ongeag die werk, of dit nou as ’n dokter of ’n busbestuurder is, elkeen lewer ’n belangrike bydrae. Die busbestuurder het net nie ’n graad nodig om die bus te bestuur nie.” Jou kwalifikasie hang dus ook af van wat jy graag wil word. Sy voeg by dat die verkryging van ’n kwalifikasie wel tot ’n gesonde selfbeeld bydra. “Die Groenskrif vir naskoolse opleiding toon daar is ’n dalende aantal nagraadse studente in ons land. Daar is veel minder honneurs-, meesters- en doktorale studente as wat daar 20 jaar gelede was. Dit is potensieel rampspoedig vir ’n ekonomie waar navorsing en ontwikkeling tot ekonomiese groei moet bydra.” Jonathan McGill, die ontwikkelingsbestuurder van Edexcel in Suid-Afrika, meen kort kursusse is ’n uitstekende keuse, mits dit tot ’n beroep bydra. “Ek dink beslis iemand kan ’n beroep bou deur ’n klomp kort kursusse te voltooi.” Hy stel voor jy kies ’n kort kursus wat op ’n spesifieke vaardigheid fokus. “’n Groot persentasie universiteitstudente val langs die pad uit en studente besluit gereeld om van rigting te verander en dit kan ’n duur oefening raak. “Baie kort kursusse is ontwikkel met ’n spesifieke vaardigheid in die oog. Dit behels ook in die meeste gevalle meer as net teoretiese kennis, wat ’n kort kursus relevant maak vir die groot verskeidenheid behoeftes van die arbeidsmark.” Volgens Jonathan rus universiteite nie altyd gegradueerdes met die vaardighede toe wat nodig is om ’n professionele koers in te slaan nie omdat hulle op teorie fokus terwyl die meeste sertifikaatkursusse op praktiese elemente fokus. “Dit is belangrik om die kursus waarvoor jy wil inskryf eers deeglik te ondersoek. Maak seker die kursusse waarin jy belangstel is geakkrediteer.” Wat sê jongmense? Marinel Coetzee van Pretoria (24) het ná skool besluit om ’n kunsrigting te volg. “My ouers het nie genoeg geld gehad om my universiteit toe te stuur nie. Die volgende antwoord was om ’n kort kursus in die kunste te voltooi sodat ek ten minste iets agter my naam kan hê.” Sy het ’n kort kursus van ’n jaar by ’n kunsgalery in Pretoria voltooi en daarna vir werk begin aansoek doen. “Kuns is nie juis ’n algemene rigting nie en dit het agt maande geduur voor iemand op my CV gereageer het.” Marinel het intussen kunsklasse by ’n plaaslike hoërskool begin gee en bied ook lesse by haar huis aan. “Die inkomste is nie watwonders nie, maar ek is gelukkig. Ek het ten minste ’n kwalifikasie op my CV en nie net niks nie.” In haar geval het ’n kort kursus wel vir haar ’n deur oopgemaak, maar in die meeste gevalle kan jy nie seker wees jy kry ’n werk as jy nie die regte opleiding ontvang het nie. Christo Vermaak is ’n aktuaris in Johannesburg. “Ek sou uit die aard van die saak nie sonder jare lange studie kon kom waar ek vandag is nie. Daar is nie ’n diplomakursus wat jou kan toerus om ’n aktuaris te word nie. “Ek kyk nie op iemand neer wat slegs ’n diploma of kort kursus voltooi het nie, maar dit moet vir jou ’n werk kan verseker.” Joanie King is ’n vryskutjoernalis. Sy het nooit haar graad in die joernalistiek voltooi nie, maar het verskeie kort kursusse en verdere opleiding in van die kursusse ontvang. “As jy al die kort kursusse op my CV bymekaartel, is dit al amper gelykstaande aan ’n graad. Ek het nooit gesukkel om werk te kry nie, juis oor ek in ’n verskeidenheid vaardighede opgelei is. Tog moes my kollegas met grade in joernalistiek my al ’n paar keer met my taal reghelp omdat ek dit nie in een van my kort kursusse geleer het nie. My raad aan jongmense is om ’n graad te kry as jy dit enigsins kan bekostig.”
Die antwoord lê in ‘n graad
Angela Church, woordvoerder vir die Walter Sisulu-universiteit in die Oos-Kaap, sê daar is ’n groot verskil tussen ’n graad, ’n diploma en ’n kort kursus. “Om jouself behoorlik in ’n spesifieke beroepsveld te kwalifiseer, het jy ’n geakkrediteerde, erkende kwalifikasie nodig van ’n hoëronderwys- en opleidinginstelling wat by die departement van hoër onderwys en opleiding geregistreer is. Dit is noodsaaklik.” Nicolene du Plessis, ’n danser van Pretoria, het ná matriek by ’n duur dansakademie ingeskryf om haar droom as professionele danser te volg. Sy het vier jaar studeer en het praktiese en teoretiese kennis opgedoen. “Ná ons gradeplegtigheid het ek vir werk begin aansoek doen, net om uit te vind dat die akademie nooit geakkrediteer is nie. Dit het my ouers duisende rande gekos en vandag sit ek met niks.” Dit is een van die redes hoekom dit baie belangrik is om eerder by ’n erkende instansie jou opleiding te voltooi. Angela meen ’n kort kursus is slegs ’n module van ’n volledige kwalifikasie en dat dit net sinvol is as jy dit as ’n addisio nele kwalifikasie beskou. “’n Kort kursus gee nie dieselfde resultaat as ’n formele akademiese kwalifikasie nie.” Angela meen dit is nodig om gereeld die jongste kwalifikasie in jou beroep te bekom sodat jy lewenslank kan leer. “Dit sal verseker dat jy op datum is met die nuutste kennis en vaardigheid in ’n wêreld wat alewig en vinnig verander.” Prof Kobus Maree is ’n professor in die departement van opvoedkundige sielkunde in die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit van Pretoria (UP). Hy sê die antwoord oor of jongmense hulle tot kort kursusse, diplomas of grade moet wend, is eenvoudig: Kry ’n graad! “Gegradueerde mense kry makliker werk.” Hy moedig jongmense aan om soveel kursusse en diplomas te voltooi soos hulle goed dink, maar om eers hul basiese opleiding te voltooi. “Weet presies wat jy wil doen,” sê hy. Volgens hom gebeur dit min dat iemand sonder universiteitsopleiding in die beroepswêreld floreer. “Voltooi jou basiese opleiding. Daarna kan jy kort kursusse en diplomas ook voltooi.” Vk