”Deur jouself oop te maak vir musiek wat vir jou onbekend is, word ‘n onskatbare dimensie van bewuswording en waardering ontsluit.”
Hedendaagse (Suid-Afrikaanse) komponiste kry nie dikwels die geleentheid om hul werk uitgevoer te kry nie. Een van die redes hiervoor is geld.
Franco Prinsloo, die jong Pretoriase komponis, kan hom dus bevoorreg ag om sy Naledi, An African Journey eers te kon hoor in die Staatsteater in Pretoria in Februarie en onlangs ook op die Choralies-fees in Frankryk.
Kortom gaan Naledi (ster) oor die soeke na lig of die innerlike vonk wat ons oë oopmaak vir waarheid en skoonheid.
So twee jaar gelede het Lhente-Mari Pitout, dirigent van die Universiteit van Pretoria Jeugkoor, Prinsloo genader met die gedagte vir ’n musiekspel vir ‘n koor – “’n musical in die streng sin van die woord, maar met ‘n sterk fokus op koormusiek”. Daarna het Alta Mare van die South African Youth Music and Drama Foundation (SAY MAD-stigting) en Pitout die gesprek verder geneem met die oog op ‘n vars, uniek Suid-Afrikaanse produk wat die klem plaas op die inwoners se uiteenlopende erfenis.
“Met ‘n bevolking van 55 miljoen, meer as 20 kulturele groepe en 11 amptelike tale het ek besef dat so ‘n opdrag uitdagend sou wees,” sê Prinsloo. “My subjektiewe interpretasie van Suid-Afrikaanse kultuur sou daarom nie voldoende sou wees vir die skep van hierdie werk nie en daarom het ek het deur middel van samewerking met spesialiste en kunstenaars vanuit ‘n wye taal- en kultuurspektrum my eie kulturele inhibisies oorbrug. Ná twee jaar se komponeer en skaaf aan die teks is Naledi, An African Journey – en ook my eie reis as komponis en skrywer – gebore.”
Die eindproduk is ‘n versmelting of hibried van Suid-Afrikaanse musiekstyle – van kwêla tot township jive, van Afrika-lofpoësie tot tradisionele Ndebele-slaapliedjies asook liedere uit die Afrika-koor- en die Afrikaanse luisterliedjietradisie.
Naledi is positief ontvang hier én in die buiteland en Prinsloo is onder meer geloof vir sy knap assimilering in dié werk.
Prinsloo (29) het in Middelburg in Mpumalanga grootgeword en ná skool musiek gaan studeer aan wat tans die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom is. Dit was in die Puk-koor waar hy sy liefde vir komposisie en koormusiek ontwikkel het, maar op skool was dit NP Van Wyk Louw se “Nagliedjie” wat hom al geboei het.
In 2008 het Prinsloo en Netanja Brink begin werk aan Maanmond, ‘n woord-en-musiekproduksie op tekste van Breyten Breytenbach en Alwyn Roux. Daarna het onder meer gevolg die musiekregie vir die verhoogweergawe van Hans du Plessis se bundel Boegoe vannie liefde en Mosiuoa, ‘n meertalige verwerking van Shakespeare se Hamlet asook “Code”, ’n Beckett-geïnspireerde verkenning van sosiale sisteme. Die klankbaan was ‘n soort “anti-musiek” om die ervaringe van ‘n oorgestimuleerde samelewing te reflekteer. Dié produksie is op Aardklop-kunstefees aangebied.
“In die skryfproses van Naledi was ek deurgaans bewus dat ek nie musiek probeer komponeer wat style naboots nie, maar eerder karaktertrekke van uniek Suid-Afrikaanse style as vertrekpunt gebruik,” sê hy oor sy benadering.
“Die term ‘klassiek’ verklap iets van ‘n opgesmukte houding,” sê hy. “Ons het ‘n magdom musiek tot ons beskikking wat nie in een leeftyd opgeluister sou kon word nie. Deur jouself oop te maak vir musiek wat vir jou onbekend is, word ‘n onskatbare dimensie van bewuswording en waardering ontsluit.
“Dit sou jammer wees as een musikale styl hoër as ‘n ander geag word. Die hibriede vorm is juis om hierdie rede so interessant vir my.”
Onderhoud met Franco Prinsloo
Wat dink jy het die behoefte om te komponeer aan die gang gesit?
Toe ek nog op skool was, het ek “Nagliedjie”, die gedig van NP Van Wyk Louw gelees. Daar was ‘n musikaliteit in die gedig opgesluit wat spontaan gemanifesteer het in my en ek het my eerste toonsetting gemaak.
Kan jy kortliks uitbrei oor die volgende produksies waarby jy betrokke was: Maanmond (2009), Boegoe vannie liefde (2010), Kind(s) (2015) en In/between(2016)
Die verkenning van die ouditiewe elemente in teater en rolprente was vir my nog altyd besonder fassinerend. Die impak van die ouditiewe as ‘n ondersteuningsmiddel vir die visuele, en klank as ‘n uitdrukking van die emosionele, is altyd teenwoordig in my benadering tot die skep van nuwe musiek. Dit het gelei tot verskeie samewerkings in heelwat genres, met ‘n hele klomp regisseurs.
In 2008 het ek en Netanja Brink begin saamwerk aan ‘n woord-en-musiek-produksie op tekste van Breyten Breytenbach en Alwyn Roux. Die werk bestaan uit ‘n siklus van tien toonsettings vir ‘n vrouetrio en klavier. Die produksie was vir meer as ‘n week uitverkoop in Potchefstroom en met ondersteuning van die Dagbreek Trust kon ons die stuk op toer neem na Pretoria, Centurion, Gariep Dam, Bethulie, Stellenbosch en Kaapstad. Die volledige klankbaan het ons onlangs op digitale platforms soos iTunes, CD Baby en Spotify beskikbaar gemaak.
Ná die sukses van Maanmond het prof. Hans du Plessis en regisseur Adri Breed my gekontak om musiekregie vir ‘n verhoogweergawe van die bundel Boegoe vannie liefde te doen. Lieze Beekman het oorhoofs getoonset en ek het aangevul met ‘n paar toonsettings met ‘n sterk volksmusiek ondertoon. Die produksie was op die planke op Aardklop, die KKNK, Volksblad Kunstefees asook die Woordfees waar ons ‘n merieteprys vir beste musiekproduksie ontvang het.
In 2011 het ek ‘n noue samewerking met regisseur Karina Lemmer begin en tot dusver ses verhoogklankbane vir haar geskep. Hoogtepunte vir my was die produksie Mosiuoa, ‘n meertalige verwerking van Shakespeare se Hamletwaarvan ek ook die klankbaan uitgereik het, Code, ‘n Beckett-geïnspireerde verkenning van sosiale stelsels. Die klankbaan hiervoor was ‘n soort “anti-musiek” om die ervaringe van ‘n gestimuleerde samelewing te reflekteer. Die produksie was tydens Aardklop kunstefees op die planke.
Kind(s) het Ibsen se vrouekarakters in ‘n kontemporêre multi-kulturele konteks met ‘n fokus op die universele inner-ervaring verken tydens 2015 se Nasionale Kunstefees in Grahamstad. Die klankbaan was ‘n onlosmaaklike middel om die verskil tussen die innerlike en uiterlike ervaringe van hierdie karakters aan die gehoor oor te dra.
Ek en die komponis Pieter Bezuidenhout werk al nou saam sedert ons vir die eerste keer tydens Aardklop 2010 strykkwintette vir die interdissiplinêre kunsuitstalling “Dismotief” gekomponeer het. Sedert 2010 het ons al vele van ons debuutkomposisies tydens konserte in Pretoria aangebied en in 2016, nadat ons die Hongkongse sopraan Jessica Ng ontmoet het tydens Pieter se poppe-opera Tallard and the Ladderbird, ons werke Hongkong en Singapoer toe geneem in die produksie In/between. Jessica het my gevra om gedigte van die vierde-eeuse digter Bay Juyi te toonset in die oorspronklike Kantonees, ‘n taal waarmee ek glad nie bekend is nie.
Nietemin het ek die geleentheid, wat onafwendbaar ‘n vorm van samewerking en skaafwerk sou verg, aangegryp. Nadat ek vertalings van die gedigte bestudeer het, het ek na klankopnames van die gedigte in Kantonees begin luister en agtergekom dat ‘n vorm van grafiese notasie die enigste logiese volgende stap sou wees om getrou te bly aan die komplekse taalinfleksies. Jessica het die fonetiese teks met skribbels, pyle en simbole aangedui wat my gelei het om die toonsettings natuurlik te kon verwesenlik. Die uiteinde was ‘n besonderse samewerking tussen sanger en komponis: ‘n siklus vir harp en sopraan wat die publiek aangegryp het tydens die debuut by die Hongkongse fringe club, soveel so dat ‘n volledige album van toonsettings met Juyi se verse nou in die pyplyn is.
Hoe het die SAY MAD Foundation se opdrag gekom’n Het hulle jou genader’n
Om en by twee jaar gelede het Lhente-Mari Pitout, dirigent van die Universiteit van Pretoria Jeugkoor my genader met die idee vir ’n koormusiekspel – ‘n musicalin die streng sin van die woord, maar met ’n sterk fokus op koormusiek. Alta Mare van die South African Youth Music and Drama Foundation (SAY MAD-stigting) en Lhente-Mari het in gesprek met my begin tree oor ’n vars, unieke Suid-Afrikaanse produk wat klem plaas op ons diverse erfenis. Met ‘n bevolking van ongeveer 55 miljoen mense, meer as twintig diverse kulturele groepe en 11 amptelike tale het ek besef dat so ’n opdrag uitdagend sou wees. My subjektiewe interpretasie van Suid-Afrikaanse kultuur sou daarom nie voldoende wees vir die skep van hierdie werk nie. Ek het deur middel van samewerking met spesialiste en kunstenaars vanuit ’n wye taal en kultuurspektrum my eie kulturele inhibisies oorbrug. Ná twee jaar se komponeer en skaaf aan die teks was Naledi, An African Journey – ook my eie reistog as komponis en skrywer – gebore.
As ‘n mens in ‘n werk soos Naledi versigtig is om soveel moontlik en so verteenwoordigend moontlik van die uiteenlopende Suid-Afrikaanse kulturele skat te verdiskonteer, hoeveel van jou eie stem kom tereg in die werk’n
Deurlopend in die skryfproses van Naledi het ek altyd bewus gebly dat ek nie musiek probeer komponeer wat style naboots nie, maar eerder karaktertrekke van uniek Suid-Afrikaanse style as vertrekpunt gebruik.
Die lied “Sizuzela” wek herinneringe van tradisionele Ndebele wiegeliedere op, “Tigcwele” verken die Swati-oeslied, “Capela imbulu” vang idees van protes krete vas, “Pula! Pula!” herinner aan ‘n eietydse ryk harmoniese koorstyl en “Letsobana laka” iets van musical theatre.
Ek verkies – in die geval van liedere uit Naledi en selfs in van my sangsiklusse – om volkslied-agtige nuutskeppings te maak. Dit was vir my uiters belangrik om aan Naledi ’n kontemporêre stem te gee maar steeds kon herinner aan dit wat vir ons bekend is.
Die hibried of die hibriede vorm is vir jou ‘n aantreklike opsie. Jy vermeng musikale style soomloos en jou musiek is eklekties, meer as “klassiek”. Dink jy dit is enigsins moontlik om nog “klassiek” te komponeer?
Ek vermy die term “klassieke” musiek. Ek verkies bloot musiek. Die term “klassiek” verklap iets van ’n opgesmukte houding. In die tyd waarin ons leef is daar ’n magdom musiek beskikbaar. Dit sou nie in ’n leeftyd opgeluister kon word nie. Om jouself oop te maak vir musiek wat vir jou onbekend is – vir watter rede ook al (kultureel, geografies of vanweë ’n ideologie wees) – word ’n onskatbare dimensie van bewuswording en waardering ontsluit. Dit sou jammer wees as een musikale styl hoër as ’n ander geag word. Die hibriede vorm is juis om hierdie rede so interessant vir my.
Hoe is Naledi in Pretoria en daarna in Frankryk ontvang’n
Dit is geweldig positief ontvang deur ’n diverse gehoor in ons eie land sowel as tydens die Choralie- musiekfees in Frankryk. Vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor was daar definitief bekende elemente teenwoordig in die musiek. Die Europese gehoor het ’n definitiewe konneksie ervaar met die storie, die karakters asook die musiek.
Waaraan werk jy tans?
Ek is op die oomblik besig met drie opwindende projekte. Die eerste is ’n album van Afrikaanse lieder getiteld Stil sleep die ure met Magdalene Minnaar as sopraan. Ons het reeds die eerste siklus op die album Ses nokturnes (op tekste van WEG Louw en NP Van Wyk Louw) opgeneem. Magdalene is ’n besonderse kunstenaar om mee te werk. Sy het ’n ongelooflike aanvoeling vir interpretasie en die produk is altyd hoogs musikaal en afgerond. Die album sal ondermeer ook Noodluik, ’n siklus vir harp, klarinet, tjello en sopraan op vyf verse van Elisabeth Eybers, bevat.
Tydens vanjaar se Aardklop-kunstefees het ek saam met kurator Elani Willemse, die Pretoriase kunskollektief Found Collective en komponis Pieter Bezuidenhout aan klankwerke vir ’n uitstalling getiteld Urban Impressions gedoen.
My nuwe werk vir found sound en marimba, Sunnyside Suite, is by dié geleentheid as klankinstallasie aangebied. ’n Vollengte album van marimbamusiek, wat werke van myself en Pieter Bezuidenhout insluit, word binnekort deur Magda de Vries binnekort opgeneem en uitgereik. Daar sal ook ’n reeks openbare konserte hiervan aangebied word.
Laastens is ek besig om te komponeer aan ’n nuwe sangsiklus vir sopraan en vibrafoon, aangevra deur Biblioteek-produksies vir hul gereelde konsertreeks Co-mission wat op 9 November in Kaapstad gedebuteer het. Die siklus, in Engels, met die titel Fo(u)r gebruik verse wat André Brink, Ingrid Jonker en Jack Cope aan mekaar opgedra het.
Koormusiek lê my baie na aan die hart omdat ek self ook al vir die afgelope 20 jaar in kore sing. Ek is besig om ’n paar opdragwerke vir kore te komponeer maar werk aan ’n grootskaalse oratorium vir koor, soliste, perkussie en harp: Canticum canticorum. Dit behoort in 2017 te debuteer en verken idees oor liefde, gender en hunkering met die teks uit Hooglied in die Latynse Vulgaat.