Die roman is ook op filosofiese vlak interessant. Het ‘n mens regtig vrye keuses of het jy ‘n vaste lotsbestemming?
Willie Burger
Een van die vernaamste vereistes vir ‘n jeugroman, is dat ‘n sterk spanningslyn gehandhaaf moet word. Pieter Verwey se Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok slaag telkens daarin om, net soos die leser begin dink dat die verhaal nou ‘n voorspelbare verloop gaan volg, ‘n nuwe wending te bring, vol verrassings.
Clint Eastwood van Wyk, sy neef Budde uit die VSA en Kiewiet bring ‘n vakansie op ‘n plaas in die Karoo deur. Maar dis nie ‘n gewone Karooplaas nie. Behalwe dat die verhaal meesleurend is, voldoen die roman ook aan die tweede belangrikste vereiste van ‘n jeugroman: boeiende karakters. Die karakters se ervarings en optrede bied insigte in menswees. Tieners se blik op die wêreld, op die maniere waarop mense in situasies reageer, hoe mense hulself aan ander voordoen terwyl hulle dikwels eintlik agter ‘n fasade van wat hulle wil wees wegkruip, word subtiel deel van die verhaal sonder dat dit ooit in die slaggat van "lewenslesse" val – iets wat al te dikwels in jeugromans gebeur. Een voorbeeld: Die verhaal word hoofsaaklik vanuit die perspektief van Clint vertel, maar dan word sy vertelling soms deur stukkies "agtergrondinligting" tussen hakies onderbreek, soos hierdie:
(‘n Vinnige feit: Clint Eastwood dink niks is cool nie. Op presies te wees, hy haat cool. Cool is vir ouens wat nog nie ‘n persoonlikheid gekweek het nie en een probeer fabriseer. Van buite af binnetoe in plaas van andersom. Volgens Clint Eastwood is die enigste ouens wat werklik cool is dié wat nie dink hulle is cool nie.)
Die roman is ook op filosofiese vlak interessant. Het ‘n mens regtig vrye keuses of het jy ‘n vaste lotsbestemming? Hierdie werklik gewigtige filosofiese kwessie word ‘nintegrale deel van die roman. Interessante insigte word soms baie pittig verwoord: "As tydreis eendag wel ontdek gaan word, bestaan dit alreeds".
‘n Baie belangrike aspek van die roman is die humor daarin. Veral die dialoog is besonder snaaks, sonder om ooit te probeer om snaaks te wees. Kyk ook na die gedagtes wat Clint Eastwood koester wanneer die robot en die moordenaarsklok mekaar vir die eerste keer sedert die 19de eeu weer sien:
Clint Eastwood moet erken dis nogal vreemd as ‘n robot en ‘n klok mekaar ná honderd jaar ontmoet. Dis mos nie asof die klok kan praat of enige iets nie. Wat sê jy nou in elk geval vir ‘n klok? Hoezit, klok! Hoe loop dinge?.
Talle sogenaamde jeugromans probeer oënskynlik om slegs beelde en woorde te gebruik wat veronderstel word dat dit by kinders of jong tieners se wêreld en taal moet aansluit. En dan word die taalgebruik daarin dikwels baie bloedarmoedig. Verwey slaag daarin om ‘n soort jeugdige lewendigheid in die taalgebruik te bring sonder om in "tienertaal-clichés" te verval, soos wanneer Clint Eastwood nadink oor die jakkalse wat tjank:
Dis die perfekte woord vir die geluid wat hulle maak, dink Clint Eastwood. Daar is niks in Engels wat dit beter beskryf nie: nie "whine", "how;" of "yelp" nie, en ook nie "wail" nie. Maar tjank klink presies na wat jakkalse doen. Asof hulle seer het op plekke waar selfs die seer net wil huis toe gaan en onder ‘n kombers opkrul".
Die vertelling is vernuftig en deurgaans met ‘n sin vir humor. Ek gee een voorbeeld van die vertelling – wanneer Budde die ander vertel van die ongelooflike ontdekking wat hy gemaak het:
"Kom kyk maar liewer self," sê Budde. "Julle sal my in elk geval nie glo nie."
Hulle glip verby die versteende diere na waar die mis – of dan stoom – in die lug verdamp.
En toe glo Clint Eastwood dit nie.
Kiewiet glo dit ook nie.
“Sien?" sê Budde. "Julle wou my mos nie glo nie"
Die roman is seker die eerste Afrikaanse werk wat aansluit by die subgenre wat "steampunk" genoem word. Maar selfs ‘n leser soos ek, wat nie van wetenskapsfiksie hou nie, het hierdie roman terdeë geniet.
Verwey benut ‘n soortgelyke strategie as wat die vertellers van spookstories dikwels gebruik. Die hoofkarakter, Clint Eastwood van Wyk, is skepties oor bonatuurlike gebeurtenisse, redeneer logies en glo in empiriese feite. Wanneer hy dan met ongelooflike gebeurtenisse gekonfronteer word en, net soos die leser, daaroor verstom staan, is die leser oortuig van die gebeurtenisse.