Toe die onderwysdepartement onlangs bekendgemaak het dat daar slegs een boek vir volgende jaar se matrieks voorgeskryf gaan word, en dat dit Fanie Viljoen se Onderwêreld gaan wees, het daar ‘n herrie losgebars
Willie Burger
Die meeste mense kan presies onthou watter boeke in matriek vir hulle voorgeskryf was. Dit was vir baie die enigste boek wat hulle ooit gelees het en die laaste blootstelling aan letterkunde in hul lewe. Vir ander (dikwels danksy besonder goeie, toegewyde onderwysers) was die voorgeskrewe tekste juis die boeke wat hulle van die krag van die geskrewe woord bewus gemaak het.
Die feit dat byna almal presies kan onthou watter boeke hulle in matriek moes lees, wys hoe hoe ´n groot invloed voorgeskrewe werke op mense het. Dit is ook geen wonder dat daar dikwels hewige reaksies is wanneer voorgeskrewe boeke aangekondig word nie. Daar is altyd mense wat kla dat sekere boeke ‘n slegte invloed op kinders kan hê – dat daar vloekwoorde in die teks voorkom of dat sekere idees of temas in die werk "nie geskik" vir kinders sou wees nie, omdat dit nie met die ouers se opvattings oor die wêreld, oor politiek of oor godsdiens strook nie. (Dit geld natuurlik nie slegs die voorgeskrewe letterkunde nie, maar soms ook handboeke in die natuurwetenskappe. Daar is ouers wat byvoorbeeld oor die insluiting van evolusie in biologiehandboeke kla.)
Benewens kommer oor die moontlike invloed wat die tekste mag hê en debatte oor wat geskikte leesstof op skoolvlak is en wat nie, speel geld natuuurlik ook nog altyd ‘n groot rol. Dink maar net aan die inkomste wat ‘n uitgewer en skrywer uit ‘n boek wat voorgeskryf word, sal ontvang. Dit beteken immers dat duisende eksemplare van die boek verkoop gaan word.
Toe die onderwysdepartement onlangs bekendgemaak het dat daar slegs een boek vir volgende jaar se matrieks voorgeskryf gaan word, en dat dit Fanie Viljoen se Onderwêreld gaan wees, het daar ‘n herrie losgebars. Met goeie rede.
Veral twee aspekte van die aankondiging stem ‘n mens tot kommer. Eerstens is dit kommerwekkend dat slegs een boek vir die hele land se matrieks voorgeskryf word, sonder dat daar, soos in die verlede, keuses tussen ‘n paar tekste is. (Terwyl daar vir leerders met Engels as huistaal wel keuses uit ‘n aantal moontlike tekste gelaat word.)
Tweedens is die spesifieke teks wat voorgeskryf is, ook ontstellend. Daarmee bedoel ek nie dat Viljoen se boek swak is nie. Viljoen is ‘n bekroonde jeugverhaalskrywer. Ter verdediging van die boek is opgemerk dat die roman, omdat dit oor kuberkrakers handel, by die kinders se leefwêreld aansluit. Onderwêreld het inderdaad meriete en is waarskynlik ‘n heel interessante roman vir sommige graad 8-leerders.
Die maklikste manier om aan te dui waarom Onderwêreld darem heeltemal te lig in die broek is, is om dit te vergelyk met tekste wat in Engels gelees word. Reeds op graad 11-vlak lees Engels-huistaal-leerders hierdie jaar JM Coetzee se Disgrace, Shakespeare se Macbeth en John Kani se Nothing but the Truth.
Hoe vergelyk ‘n mens nou die opvoeding wat in Engels gegee word met dié van leerlinge wat Afrikaans as moedertaal neem?
Gewis sal niemand hierdie boek van Viljoen met ‘n Nobelpryswenner of met Shakespeare wil vergelyk nie.
Ek wonder soms oor die intense standpunte wat oor Afrikaans ingeneem word, gevegte wat vir die regte van Afrikaans aangeknoop word en die belang daarvan om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te beskerm. Wat gebeur met die jong mense wat in matriek het met Onderwêreld in Afrikaans kennis gemaak, maar met Coetzee en Shakespeare in Engels (of met The Kite Runner as voorgeskrewe werk vir lesers van Engels as eerste addisionele taal)? Die indruk is dadelik dat Afrikaanse letterkunde minderwaardig en nie op dieselfde peil as Engelse letterkunde is nie.
Die Afrikaanse kinders voel dus dat hul letterkunde minderwaardig is en dat hul taal minderwaardig is. Dit laat hulle besluit om eerder in Engels verder te studeer. En dan help die geveg vir Afrikaans aan universiteite weinig.
Die doel van letterkunde is onder meer om lesers uit te daag, om hulle bewus te maak van ánder moontlike maniere om na hulself en na die wêreld te kyk, en om sodoende ook oor hul eie beskouings na te dink. Afrikaanse kinders word dikwels hiervan weerhou deur ‘n stapeldieet van sport, slap stick-rolptente en "onskuldige" jeugboeke. Hul godsdiens-opvattings mag nie uitgedaag word nie, hul politieke denke mag nie bevraagteken word nie. Hierdie voorskryfbesluit van die onderwysdepartement bevestig die idee dat Afrikaanse leerders so dom as moontlik gehou word. (Met die gevaar dat nog meer mense hul kinders eerder in Engelse skole sal plaas.)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.