Willie Burger kyk na twee lekkerleesboeke vir oud en jonk
Willie Burger
Soms, laataand, nadat die TV-program wat jy gekyk het, verby is, spring jy sommer so van een kanaal na ‘n ander. Jy weet jy moet eintlik gaan slaap, maar jy kyk net vinnig vir ‘n paar sekondes na elke kanaal. En dan maak iets wat jy op die een kanaal gesien het jou skielik nuuskierig. Jy gaan terug na daardie kanaal net om weer te kyk na wat jy daar gesien het … en dan is dit verby. In daardie vier of vyf sekondes uit ‘n lang fliek het iets jou aangegryp. Jy besef jy moet gaan slaap, dat jy môreoggend vir jouself kwaad gaan wees, maar jy kan nie anders nie. Jy kyk die rolprent klaar.
Francois Bloemhof se boeke is dikwels soos daardie fliek wat jou onverwags en skielik insuig. Pasop as jy eintlik iets anders moet doen, want as jy net die eerste paar bladsye van Die vierde stem sommer spoedlees, het Bloemhof jou genoeg gegee om nuuskierig te wees. Daarna sal jy, as jy enigsins van stories hou, beswaarlik die boek kan neersit. Van hier af word alles net interessanter. Sodra jy dink jy verstaan wat aan die gang is, kom daar nuwe kinkels by en jy lees al hoe vinniger. Moenie dink jy gaan gou ‘n klompie bladsye oorslaan om verder te lees nie, want daar gebeur te veel tussenin wat jou heeltemal gaan verwar.
Francois Bloemhof word beskryf as die "enigste skrywer ter wêreld wat so uitgebreid en suksesvol vir die volwasse, tiener- én jeugmarkte skryf" en van sy boeke is al in elkeen van hierdie genres bekroon.
Die vierde stem is soms snaaks. Die kantoorwerker, Annemi, se obsessiewe kompulsiewe gedrag, die sielkundige se probleme en ‘n skrywer se worsteling met sy karakters loop alles saam in ‘n nagmerrieagtige wêreld waarin dit moeilik is om te onderskei tussen wat in mense se koppe aangaan en wat regtig gebeur. Die roman word as ‘n sielkundige riller beskryf, maar het ietsie van alles – dit is ook ‘n liefdesverhaal en ‘n raaiselverhaal. En dié raaisels en vinnige wendings bied baie leespret.Uitgegee deur Human & Rousseau.
Goeie nuus vir jong lesers is dat Marianna Brandt se opvolg op Emma en die geheime gang nou beskikbaar is: Emma en die creepy komplot is ook een van daardie ou staatmakers van kinder- en jeugverhale – ‘n kosskoolstorie.
Geslagte gelede het kinders met die Uile van Kranskop en met Keurboslaan se koshuiskaskenades grootgeword. Meer onlangs het Harry Potter natuurlik ook die kosskoolverhaal voortgesit. Aal is dit nou by ‘n kosskool vir towenaars waar buitengewone avonture beleef kan word, sluit dit eintlik maar by tradisionele kosskoolstories aan. Die gebeurtenisse is net meer betowerend vir ‘n nuwe generasie van lesers as die realistiese kosskoolverhale wat in die 1950’s en 1960’s opgedis is.
Emma is steeds in die koshuis op Kosterkloof en dit lyk oënskynlik asof alles rustig verloop nadat die skoolhoof se bose komplot om kinders se DNA aan ruimtewesens te verkoop, in Emma en die geheime gang deur Emma oopgevlek is. Alles is egter nie pluis nie en Emma kom agter dat die onderhoof in die middel van die nag blou koelsakke na die kombuis dra.
Marianna Brandt is ‘n ervare skrywer. Haar boeke oor Die stoutsterte, die muise wat saam met Van Riebeeck se skip Kaap toe gevaar het, en oor Markus Stermuis, die muis wat saam met Mark Shuttleworth die ruimte in is, het my kinders baie vermaak toe hulle klein was. Ek moes saans ure lank vir hulle daaruit voorlees. Emma se jongste avonture sal sekerlik net soveel plesier aan baie jonger laerskoolkinders bied. Uitgegee deur Human & Rousseau.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.