Willie Burger kyk na bekende speurders wat weer hul verskyning maak
Willie Burger
Skrywers van misdaadfiksie is nog altyd lief daarvoor om ‘n speurder herhaaldelik in verskillende boeke te gebruik. Sir Arthur Conan Doyle het dit natuurlik al meer as ‘n eeu gelede met Sherlock Holmes gedoen. Aan die een kant is dit waarskynlik makliker vir die skrywer om dieselfde hoofkarakter in ‘n nuwe situasie te plaas, maar lesers hou ook daarvan om weer en weer by die nuwe lotgevalle van hul geliefde speurders betrokke te raak. Vir baie lesers het Deon Meyer se Bennie Griessel al byna ‘n persoonlike vriend of soos ‘n familielid geword.
In twee nuwe romans deur Karin Brynard en Henk Breytenbach onderskeidelik keer ook twee bekende speurders terug. Kaptein Bert Beeslaar (uit Brynard se Plaasmoord en Onse vaders) en Vic Nel (uit Henk Breytenbach se Kodenaam Icarus) is albei tipiese hardebaardspeurders wat buitengewoon begaafd is om raaisels op te los en misdadigers die hoof te bied, maar wat self ook herkenbare menslike swakhede besit wat van hulle identifiseerbare karakters maak. Tuisland begin – soos dit ‘n goeie misdaadroman betaam, met ‘n moord.
Dit eindig ook met een. Maar nie een van hierdie moorde is sommer net die neem van ‘n medemens se lewe vir eie gewin nie. Die situasies is ingewikkeld, die mense daarby betrokke is vol liefde en empatie en medemenslikheid. Soos in Brynard se vorige romans, Plaasmoord en Onse vaders, is Tuisland ‘n meesleurende misdaadroman. Dit is ook veel meer as ‘n misdaadroman wat slegs op die spanning en opwinding gerig is, onder meer omdat hier nie enige eenvoudige onderskeid te tref is tussen goed en kwaad, reg en verkeerd nie.
Die keuses wat mense maak en die onvoorsiene gevolge daarvan lei tot situasies waarin haastige vooroordeel en verwagtings opgeskort moet word. Ook die leser se vooroordele en verwagtings word telkens in hierdie roman ondermyn. Kaptein Beeslaar wil sy bedanking in Upington by die polisiehoof indien. Hy het genoeg gehad van die platteland en wil terug na Johannesburg. (Lesers van Plaasmoord sal dit natuurlik ironies vind, want in daardie roman wou Beeslaar graag wegkom uit die stad om ‘n bietjie rustigheid in die platteland te gaan soek!)
Die polisiehoof ignoreer sy versoek en stuur hom op ‘n laaste sending na ‘n San-gemeenskap by die Kgalagadioorgrenspark. Sy opdrag is aanvanklik vaag – hy moet bloot inligting gaan inwin rakende klagtes oor die polisie se betrokkenheid by faksietwis in daardie afgeleë gebied. (En hiermee is Brynard se roman natuurlik só in voeling met die politieke onrus en verset op gemeenskapsvlak in ons land as wat maar kan kom.) Soos met alles in Suid-Afrika die geval is, raak die ondersoek natuurlik die politiek. Die president bepan om daardie gebied te besoek en belangrike gesprekke met en oor die San-gemeenskap gaan daar gevoer word. Gevolglik is die luukse gastehuis op die rivieroewer in Upington ook in rep en roer en dit is hier waar die moord waarmee die roman begin, gepleeg word.
Die kompleksiteit van ons gewelddadige land waarin rassewrywing, kindermolestering en politieke magspeletjies, maar ook naasteliefde, ‘n diepe omgee vir mekaar en vir die land vervleg word, boei die leser deurgaans. Brynard se romans staan bo die meeste ander misdaadromans uit juis omdat sy hierdie soort kompleksiteite meesterlik hanteer. Die leser kan die dikke boek van 570 bladsye nie neersit nie. Jy bly op die puntjie van jou stoel sit, raak emosioneel betrokke by karakters se dilemmas, en kry insig in wat dit is om mens te wees. Almal wil graag tuis wees in die wêreld, maar tuistes is altyd tydelik en tuiste kan nie regtig ‘n plek wees nie – soos oom Boy Wannenburg ook aan Beeslaar verduidelik. Karin Brynard se misdaadfiksie is nie alleen onder die heel beste uit Suid-Afrika omdat sy die spanning deurgaans meesterlik volhou en soveel ingewikkelde gebeurtenisse teen ‘n woestynagtergrond (wat self soos ‘n karakter word) vervleg nie. Dit is so goed omdat sy ook die moontlikhede van taal ontgin en omdat haar skryfwerk die grense van genre-fiksie verskuif.
Henk Breytenbach se nuwe roman, Moordlys, bied die meer tipiese misdaadspanning op die patroon van internasionale skrywers soos Robert Ladlum. Vic Nel, wat nou nie meer in die wêreld van misdaad en nasionale intelligensie werk nie maar probeer om soos ‘n “gewone mens” ‘n bestaan in die kleinhandel te maak, word uit sy “aftrede” geruk wanneer hy skielik by ‘n reeksmoordsaak betrek word. Nel se ondersoek lei hom terug na allerlei duistere gebeure wat tydens die vorige bedeling in die land plaasgevind het en waaroor inligting vernietig is. Wanneer hy daaroor begin navraag doen, krap hy ‘n sensitiewe geskiedenis oop met ernstige gevolge (en byna noodlottige gevolge vir homself). Breytenbach kán ‘n storie boeiend vertel!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.