Willie Burger kyk na die Koreaanse skrywer Han Kang se roman The Vegetarian
Willie Burger
Byna almal wat ek ken, kla daaroor dat die jaar al weer te vinnig verbygaan en dat hulle te min tyd het. Boonop is die land vol spanning: misdaad, gewelddadige protes, onseker politiek, ‘n sukkelende ekonomie en kommer oor die toekoms. Ons ken almal die gevoel dat die lewe te vinnig verbysnel, asof jy nie regtig in beheer is nie en asof die lewe met jou gebeur, eerder as wat jy jou eie lewe leef. Hoe hou ‘n mens kop in sulke omstandighede?
Die Koreaanse skrywer Han Kang se roman The Vegetarian het vanjaar die Booker- internasionale prys gewen. The Vegetarian het oorspronklik in 2007 in Korea verskyn, maar is eers verlede jaar in Engels vertaal. Dit bied ‘n meesleurende en onthutsende leeservaring. Die impak wat die roman op die leser maak, het egter nie slegs te doen met die kultuurvreemde Koreaanse samelewing waarin dit afspeel nie.
Ek dink die roman het die prys gewen, nie omdat dit ‘n blik op die Koreaanse samelewing gee nie (want dan sou ‘n mens eerder ‘n geskiedenis van Korea of ‘n sosiologiestudie oor patriargie in Suid-Korea met vrug kon raadpleeg), maar omdat dit die leser ‘n buitengewone ervaring bied van die grense tussen ‘n mens se eie “normale” bestaan en kranksinnigheid. The Vegetarian konfronteer ‘n mens met die grense van jou eie “normaliteit”, van dít wat jou elke dag “normaal” laat funksioneer, ten spyte van al die aansprake op ‘n mens, ten spyte van die oorweldigende spanning en druk waaronder die meeste van ons leef. Die verhaal gaan oor Yeong-hye, ‘n gewone jong vrou, wat uit die bloute op ‘n gegewe dag aankondig dat sy geen vleis meer gaan eet nie. Die enigste rede wat sy aanvoer, is dat sy ‘n droom gehad het.
Haar hele familie probeer haar oorreed om haar “onverstaanbare” vegetariese idees te laat staan en “normaal” te lewe. Haar man, suster en broer redeneer met haar; haar ma lei haar om die bos met disse waarin vleis versteek is en haar pa slaan haar en forseer selfs vleis in haar mond in. Alles tevergeefs. Sy sny haar pols en beland in die hospitaal onder psigiatriese behandeling, want boonop ontbloot sy haarself telkens as die son skyn. Uiteindelik skei haar man van haar. Haar suster se man, ‘n beeldende kunstenaar, ontwikkel ‘n obsessie om Yeonghye as model te gebruik en die visie vir sy videokuns dryf hom ook tot uiterstes terwyl sy vrou sukkel om alles bymekaar te hou: haar suksesvolle loopbaan, haar huwelik, hul kind, haar band met haar suster.
Die kort roman bestaan uit drie dele: In die eerste deel, “The Vegetarian”, word vanuit die perspektief van Yeong-hye se (onsimpatieke) man vertel hoedat sy vrou ophou om vleis te eet en haar gedrag al hoe vreemder word, totdat hy geen keuse het as om haar te verlaat nie (met volle begrip van sy skoonfamilie). “The Mongolian Mark”, die tweede deel van die roman, gaan oor die tyd nadat Yeong-hye uit die hospitaal ontslaan is en oënskynlik ‘n normale (vegetariese) lewe hervat. Haar swaer, die kunstenaar, nader haar in hierdie tyd om sy model te wees. Hierdie deel word uit die perspektief van die swaer vertel en dit word duidelik hoedat ook hy, gefokus op sy werk, op die grense van “normaliteit” leef.
Gedrewe deur sy skeppingsdrang verwaarloos hy sy seun en vrou en oorskry samelewingsgrense. Die derde deel, “Flaming Trees”, word uit die suster se perspektief aangebied en fokus veral op haar besoeke aan Yeonghye in ‘n psigiatriese inrigting. Behalwe vir enkele beskrywings van haar drome in die eerste deel, kom Yeonghye nooit self aan die woord nie en die proses van haar nader beweeg aan die grense, na daar waar ‘n mens die vermoë verloor om “normaal” te wees, om alles bymekaar te hou, word nie uitgespel nie. In die tweede deel word die grense van normaliteit meer simpatiek belig as in die eerste en teen die laaste deel van die roman is die leser so deel van haar suster se verkenning, verantwoordelikheid en moeite om haar eie sinne bymekaar te hou, dat die leser sy/haar eie grense van normaliteit ervaar en met ontsetting besef dat daar maar bitter weinig is wat ‘n mens aan die sosiaal aanvaarbare kant van “normaliteit” hou.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.