Willie Burger kyk na Sylvia Vollenhoven se boek The Keeper of the Kumm
Willie Burger
We still wear apartheid race classifications like tattoos on hidden skin. South Africans have a way of doing rapid calculations based on subtle textures and tones, beyond the reach of outsiders. When the computing is done, we adjust our behavior according to the all-important tag we have allocated the other person.
Só begin Sylvia Vollenhoven se boek The Keeper of the Kumm. Vir só lank het rasklassifikasie elke handeling, elke moontlikheid, elke beperking van almal in ons land bepaal, dat dit nie sonder meer in 1994 opgehef kon word nie. Een van die maniere waarop hierdie sentrale probleem in ons land hanteer word, is om terug te delf in die verlede. Dit is wat Vollenhoven in hierdie merkwaardige boek doen.
Vollenhoven is ‘n bekroonde joernalis en ‘n rolprentmaker. Haar toneelstuk, My Word, Redesigning Buckingham Palace is in Londen se beroemde Weseinde opgevoer. The Keeper of the Kumm is ‘n outobiografiese werk, maar eintlik gaan dit oor stories: oor die helende krag van stories, oor die belang daarvan om stories uit die verlede te bewaar en oor te vertel. In hierdie opsig sluit sy by ‘n lang tradisie van geloof in die genesende krag van stories aan. Sy vertel hoe sy die storie van //Kabbo ontdek het. Hy was ‘n Boesman wat in 1870 besef het dat sy kultuur onder druk is en kan verdwyn as dit nie opgeteken word nie. Daarom is hy na Kaapstad om iemand te soek wat al sy kennis kan opteken. Uiteindelik vertel hy sy storie aan Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd.
Die bekende Bleek en Lloyd-versameling word in die Universiteit van Kaapstad se argief gehou en bestaan uit meer as 12 000 handgeskrewe bladsye waarin onder meer //Kabbo se vertellings opgeteken is. Vollenhoven kon dalk die verhaal vertel het van hoedat sy diep geraak is deur //Kabbo se storie en deur alles wat hy aan Bleek en Lloyd vertel het. Sy sou kon verduidelik hoedat sy storie vir haar insig in haar eie geskiedenis gebring het en hoedat dit haar gehelp het om sin van haar eie bestaan te maak, dat die verhaal vir haar troos gebring het en gehelp het om ‘n eie identiteit te skep. Sy sou kon verduidelik dat sy daarom ook as “versorger” van die verhaal dit aan ander wil vertel, sodat dit ook ander kan help. Maar Vollenhoven se verhaal is nie so eenvoudig nie.
Die verhaal van //Kabbo is vir Vollenhoven nie bloot ‘n lewensverhaal en boeiende inligting oor ‘n kultuur en lewenswyse nie. Sy ervaar die verlede. Sy ervaar //Kabbo en haar voorouers onder meer danksy die bemiddeling van ‘n sangoma. Sy vertel hoedat sy ernstig siek geword het aan ‘n onidentifiseerbare siekte. Dokters het nie raad gehad nie en uiteindelik het sy uit moedeloosheid in Afrika-tradisies na ‘n oplossing gesoek. Niall, die seun van ‘n polisieman uit die voormalige Rhodesië (nou Zimbabwe), wat as sangoma in Botswana opgelei is, lei haar geleidelik om deur ‘n pahla-ritueel in kontak met haar voorouers te kom. Sy vertel haar hele lewensverhaal – van haar ma en pa wat nie toegelaat is om te trou toe haar ma swanger geword het nie omdat haar pa ‘n Moslem was, deur haar kinderjare en haar suksesvolle loopbaan as joernalis.
Sy beskryf die mense wat sy ontmoet het en die groot historiese gebeurtenisse waarvan sy getuie was. Haar lewensverhaal word in vier groot afdelings gedeel, naamlik “Mixed” (hoofsaaklik haar ervarings in die 1950’s en 1960’s en die beskouing van haarself as iemand van “gemengde afkoms”), “Coloured” (die 1970’s), “Black” (1970’s en 1980’s en haar assosiëring met die Swart Bewussynsbeweging) en “Khoisan” (1990’s tot die hede). Vollenhoven gebruik dieselfde vertelstrategieë wat mense wat bekeringsverhale of verhale oor ervarings van die bonatuurlike vertel: haar eie skeptisisme rakende die effekte van bonatuurlike sake word duidelik uitgespel.
Sy beklemtoon ook haar onderskrywing van rasionaliteit. Dan word ‘n ongeneeslike en onverklaarbare toestand ervaar. Onvermydelik speel drome ook ‘n belangrike rol om die kontak met ‘n groter geesteswêreld te maak. Uiteindelik lei dit alles tot ‘n opheffing van die skeptisisme en die beperkings wat ‘n “Westerse rasionaliteit” op haar gelê het en tot ‘n tuiskoms in ‘n nuwe identiteit. In elk van die afdelings beskryf sy van die belangrike historiese gebeurtenisse wat sy beleef het en op hierdie manier bied The Keeper of the Kumm ook ‘n besonder boeiende perspektief op die gebeurtenisse van die afgelope vyf dekades. Dit is ‘n perspektief waarvan veral wit lesers kennis behoort te neem. Die media wat wit mense se bewussyn van die gebeurtenisse in die land gevorm het (en steeds vorm?), het nog altyd eintlik net een perspektief gebied en hierdie outobiografiese vertelling bied insig – ook vir die skeptiese leser.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.