Willie Burger kyk na die ware verhaal van Tannie Pompie se oorlog waar sy as radio-operateur ‘n aktiewe rol tydens die grensoorlog gespeel het
Dit is vir my nogal moeilik om my reaksie op Deon Lamprecht se boek oor die grensoorlog, Tannie Pompie se oorlog. In die driehoek van die dood te beskryf. Ek moes twee keer seker maak dat die boek wel nou in 2015 vir die eerste keer verskyn het.
Die storie van tannie Pompie van Tsumeb en die manier waarop dit vertel word, die taalgebruik en selfs die foto’s, het my eers laat dink ek lees iets wat gedurende die laat 1970’s of vroeë 1980’s in ‘n tydskrif verskyn het, een episode uit ‘n reeks artikels van "verhale oor ons helde op die grens".
Deur die jare het daar het al talle uiteenlopende boeke oor die grensoorlog verskyn – van die positiewe propagandistiese werk gedurende die 1970’s en 1980’s tot kritiese beskouings van diensplig en die bevraagtekening van die oorlog. Gedurende die laaste dekades het boeke oor die ervarings van soldate in Swapo- en ANC-basisse ook beskikbaar geword wat die oorlog verder kompliseer.
Deon Lamprecht is ‘n gesoute joernalis wat jare lank onder meer vir Beeld, Rapport en Huisgenoot gewerk het en wie se werk verskeie kere bekroon is. Hy was destyds ook self as dienspligtige op die grens. Maar Tannie Pompie se oorlog gaan nie oor hom nie. Dit is die ware verhaal van tannie Pompie van der Westhuizen, ‘n boervrou uit die Tsumeb-distrik, wat as radio-operateur ‘n baie aktiewe rol tydens die grensoorlog gespeel het.
Haar betrokkenheid by die oorlog het begin nadat sy om mediese redes nie in staat was om saam met al die ander boere en boervroue uit die omgewing militêre opleiding te ontvang nie. Sy het sonder meer die werk van die aangewese seinoffisier – ‘n ander vrywillige boer uit die omgewing – oorgeneem sodat hy ‘n meer aktiewe rol kon speel.
Die boere uit die omgewing van Tsumeb, Otavi en Grootfontein ("die driehoek van die dood") is van uniforms voorsien en deur die Suid-Afrikaanse weermag opgelei om hulself en hulle plase te verdedig. Hulle het saam met die 61 Meg-eenheid van die SAW geveg en was in talle hewige skermutselings betrokke. Jaarliks tydens die reënseisoen het honderde Swapo-sodate die grens van Angola na Namibië (die destydse Suidwes-Afrika) oorgesteek ten einde vir die onafhanklikheid van Namibië te veg. Hulle het plase aangeval, landmyne gelê en politieke propaganda versprei.
As seinoffisier van die vrywilligers het tannie Pompie ‘n belangrike rol gespeel om goeie kommunikasie tussen die verskillende weermageenhede te bewerkstellig. Lamprecht se boek gee ‘n persoonlike blik op tannie Pompie se werk en die trauma wat haar gesin beleef het. Haar man, die bevelvoerder van die plaaslike vrywilligers, het saam met hul skoonseun in ‘n hinderlaag gesterf terwyl tannie Pompie alles van die skermutseling oor die radio gehoor het en die doodsberigte van haar eie geliefdes moes aanstuur. Ten spyte van hierdie persoonlike verlies het tannie Pompie met haar werk voortgegaan. Sy was ‘n bekende onder talle dienspligtiges wat deur die jare haar stem oor die radio gehoor het.
Die gebruik van woorde soos "terroriste" vir die PLAN-soldate en die beskrywings van die angs en trauma van wit burgers in militêre omstandighede en van die weermagoptrede uit die oogpunt van die 61 Meg-bevelvoerder, kommandant Roland de Vries, verplaas ´n mens terug in ‘n Suid-Afrika van meer as 30 jaar gelede.
Dit is nie slegs die foto’s en die vertelwyse wat ‘n gevoel wek van iets wat dertig jaar gelede geskryf is nie. Die afwesigheid van nadenke oor hierdie spesifieke perspektief is opvallend. Die boek weerspieël dus die vanselfsprekendheid waarmee wit Suidwesters en Suid-Afrikaners destyds die oorlog aanvaar het. Hoe het dit gekom dat hierdie mense en die talle dienspligtiges die militarisering van die hele samelewing en die eskalerende oorlog sonder meer as ‘n gegewe aanvaar het? Hoe was dit moontlik dat hulle in ‘n soort naïwiteit kon dink dat die oorlog iets tydeliks is waarna hulle onveranderd met hul lewens sou kan aangaan?
Ongelukkig word daar nie regtig aan hierdie soort vrae wat vandag se (jonger) lesers sal opper, aandag gegee nie. Lamprecht plaas wel die gebeurtenisse van 1982 se reënseisoen in ‘n baie langer historiese perspektief (van die Koue Oorlog en die historiese verbondenheid van Suid-Afrika en Namibië weens generaal Louis Botha se inval in Duitswes, en selfs verder terug na die tyd toe die San en die Ovambo’s in die Tsumeb-omgewing ruilhandel gedryf het). Hierdie historisering dui net aan dat daar altyd konflik was en lei nie tot indringende ondersoek van die onnadenkende manier waarop kolonisering en die gevolge daarvan destyds as natuurlik aanvaar is nie.
Die boek bied ‘n rare tydsreis terug in die geskiedenis. Die vertelling laat ´n mens met weemoed oor die verlies van menselewens en die vernietigende gevolge van trauma. Maar die afwesigheid van ‘n kritiese blik dwing ‘n nadenkende leser om na te dink oor die spesifieke perspektief waaruit die boek geskryf is, en dan besef ‘n mens dat die manier waarop mense destyds gedink het, die manier waarop wit oorheersing sonder meer as "natuurlik" aanvaar is, vandag steeds vir baie mense geld. Tafelberg Uitgewers.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.